Yaris bied stewige uitdaging in Polokwane Tydren

Die Castrol-Toyota-renspan sal ná sy indrukwekkende vertoning in die onlangse Toyota-Kaap-handelaarstydren die krane hierdie naweek in die Polokwane-tydren in die Limpopo-provinsie behoorlik oopdraai.

Johnny Gemmell en Carolyn Swan het in dié Wes-Kaapse byeenkoms tot net 1,8 sekondes van die span se eerste oorwinning in die nuwe vierwielaangedrewe 2013-Yaris S2000 gevorder. Hulle en hul spanmaats Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee het die byeenkoms oordonder deur sewe van die tien sneltrajekte in die twee dae van dié byeenkoms te wen.

“Ons het voor die Kaapse byeenkoms heelwat veranderings aangebring en beide jaers was baie tevrede met die motors se verrigting,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê.  “Ons was op een tydstip op die tweede dag besig om ’n dubbele oorwinning vir Toyota te beklink toe Leeroy en Elvéne twee sneltrajekte voor die einde deur ’n ongewone enjinprobleem van ’n oorwinning beroof is.

“Ons is baie tevrede met die Yaris se verrigting en ons behoort baie goed in Limpopo te vaar as al twee motors al twee dae probleemvry is. Ons ontwikkelingsprogram sedert die motor sy buiging in die openingsronde in Maart gemaak het, is besig om vrugte af te werp en ons is daarop uit om ten minste die laaste twee rondes van die kampioenskap te wen.”

Gemmell en Swan is op die oomblik tweede in die kampioenskap en 40 punte agter die voorlopers, die verdedigende kampioene Mark Cronjé en Robin Houghton, terwyl nog 100 punte in die laaste twee renne op die spel is.

“Ons het nog ’n relatiewe buitekans om die kampioenskap te beklink en sal soos altyd hard probeer om te wen,” het Gemmell gesê. Hy is nog daarop uit om sy eerste kampioenskap te los te jaag nadat hy vier keer – verlede jaar ingesluit – as die naaswenner uit die stryd getree het. “Die motor was in die laaste tydren baie sterk en ons is vol vertroue dat ons alles het wat nodig is om te wen.”

Poulter is ewe kordaat en vol vertroue nadat hy in die vorige byeenkoms so naby aan ’n oorwinning was – hy en Coetzee was in agt van die nege sneltrajekte wat hulle voltooi het, onder die voorste drie, waarvan hulle drie gewen het, en twee sneltrajekte voor die einde nog bykans ’n halfminuut voor die uiteindelike wenners (Cronjé en Houghton).

“Die vorige byeenkoms was verreweg ons beste vir die jaar. Die Yaris was behoorlik op spoed en ons het gewys ons is in droë en nat toestande vinniger as die res,” het Poulter gesê.

Poulter en Coetzee kom nie meer vir die kampioenskap in aanraking nie nadat hulle in drie byeenkomste noodgedwonge ingevolge die Super-Tydrenreëls moes klaarmaak weens probleme wat hulle in die eerste dag laat uitval het. Hulle is egter vasberade om so veel as moontlik punte by Cronjé en Houghton af te rokkel om hul spanmaats te help om die kampioenskap te wen.

Die Polokwane-tydren begin Vrydag om 12:00 by die munisipaliteitskantoor in die middestad, en die openingsdag sal uit vyf grondsneltrajekte en een op teer omstreeks 17:00 by die Peter Mokaba-stadion bestaan.

Die tydren gaan Saterdag om 6:30 voort met die eerste van vier grondsneltrajekte ’n stuk of 40 kilometer noord van Polokwane. Die laaste sneltrajek is ’n herhaling van Vrydag se kort teersneltrajek by die Peter Mokaba-stadion.

Besoek ook: Safe Driving on Gravel Roads 

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Posted on by jonckie

Comments Off on Yaris bied stewige uitdaging in Polokwane Tydren