Polokwane Tydren -Castrol Toyota Renspan sit sukses voort!

Die Castrol-Toyota-renspan het aan die einde van die Polokwane-tydren wat Saterdag in Limpopo beslis is, die sewende agtereenvolgende keer met die nuwe S2000-Yaris-tydrenmotor op die podium gestaan en weer die vervaardigersprys vir die byeenkoms gewen.

Johnny Gemmell en Caroline Swan was die naaswenners in die byeenkoms en het die tweede posisie in die algehele kampioenskap ingeneem. ’n Harde stryd het die hele naweek tussen Gemmell/Swan en die Sasolracing-jaers Hergen Fekken en Pierre Arries geheers, maar die Toyota Yaris-jaer het die uiteindelik die oorhand gehad.

Jean-Pierre Damseaux en Hilton Auffray het die S2000-Uitdaging in hul Span Total-Toyota Auris gewen en hul voorsprong in die Uitdaging-kampioenskap vergroot, terwyl die 20-jarige Wilro Dippenaar en Kes Naidoo ’n netjiese tweede plek in hul Toyota Auris aangeteken het.

“Ek dink JP het nou die Uitdaging-kampioenskap in die sakkie, en dit was ’n riem onder die hart om te sien hoe goed Wilro gevaar en sy talent gewys het,” het die Castrol-Toyota-spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons het ’n paar vinnige, jong jaers in die reeks op die oomblik en Wilro is gewis een van hulle.”

Leeroy Poulter en Elvene Coetzee, wat in die tweede fabrieksingeskrewe Toyota Yaris jaag, het ’n skitterende vertoning op die eerste dag van die tydren gehad en tot in die laaste sneltrajek van die dag voorgeloop. Hulle was aan die einde van die dag net 1,3 sekondes agter die uiteindelike wenners Mark Cronjé en Robin Houghton nadat hulle hul voorsprong met opset afgestaan het.

“Ons het die hele dag puik gejaag en het net voor die vaarteinde van die laaste sneltrajek besluit om die voet te lig,” het Poulter gesê. “Die sneltrajekte was almal splinternuut en ons het gehoop dit sal tot ons voordeel wees om op die tweede dag in die tweede posisie op die pad te wees.”

Poulter-hulle het egter ’n groot teleurstelling gehad toe ’n kragstuurpyp die volgende oggend in die eerste sneltrajek die gees gee. Hall het besluit om halt te roep omdat dit te gevaarlik sou wees om die volgende lang sneltrajek sonder kragstuurhulp aan te pak aangesien die spanne nie toegelaat is om enige herstelwerk tussen die twee sneltrajekte te doen nie.

“Ek het gedink ons het ná Leeroy en Elvene se vertoning op die eerste dag ’n goeie kans gehad om ons eerste tydrenoorwinning met die nuwe Yaris aan te teken,” het Hall gesê. “Hulle het hul puik vertoning in die Toyota-Kaap-handelaarstydren, waar ons groot veranderings aan die Yaris se vering en enjin aangebring het, voortgesit en dit het gelyk of ons kan wen.

“Die motor se verrigting was puik. Leeroy en Elvene het in die eerste sneltrajek sowat 12 sekondes afgestaan, maar die volgende twee gewen. Hulle het selfs een sneltrajek gewen ten spyte van die feit dat een van die motor se voorwiele pap geword het.”

Hall het egter beken dat daar verskeie ander positiewe faktore is waarmee die Castrol-Toyota-renspan kon huis toe gaan. Hoewel hulle tweede viool gespeel het, het Gemmell en Swan weereens met ’n sterk vertoning vorendag gekom.

“Daar is ’n algemene gevoel in die span dat ons eerste oorwinning nie meer ver kan wees nie,” het Hall gesê.

Hall is ook bemoedig deur die Dakar-veldtydrenster Giniel de Villiers en sy navigator, Grag Godrich, wat so hard in hul Imperial Toyota Yaris teruggeveg en van 22e tot agtste herstel het nadat hulle op die eerste dag ’n probleem met ’n dryfas gehad het. Dit het hulle aanvanklik laat uitval, maar hulle kon die byeenkoms op die tweede dag ingevolge die Super-tydrenreëls voltooi.

Die S1600-afdeling het die naweek nuwe wenners opgelewer toe Marko Himmel en Francoise Schoonbee dié afdeling in hul Toyota Corolla gewen het. Dié vertoning, tesame met Craig Trott en Janine Lourens wat derde in die klas in hul Toyota RunX was, het Toyota gehelp om die vervaardigersprys vir die byeenkoms te beklink.

Besoek ook:

Safe driving on gravel roads

 

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Posted on by jonckie

Comments Off on Polokwane Tydren -Castrol Toyota Renspan sit sukses voort!