Nuwe enjon vir Toyota se 2014 Dakar- Tydren Hilux

Toyota Motorsport Suid-Afrika keer in Januarie 2014 terug na Suid-Amerika vir die 35e Dakar-veldtydren in Argentinië, Bolivië en Chile nadat die span die internasionale veldtydrengemeenskap die afgelope twee jaar verras het deur eers derde en toe tweede in sy eerste twee probeerslae in die wêreld se langste en moeilikste motorren te eindig.

Die 2009-Dakar-wenners en 2013-naaswenners, Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz, en die Dakar-nuweling Leeroy Poulter en sy navigator, Rob Howie, wat in 2012 saam met Duncan Vos in die 10e plek was, dra die hoop van al Suid-Afrika se motorsportliefhebbers. Hulle sal agter die stuur van twee nuwe Toyota Imperial Hilux 4×4-renbakkies wees wat deur Toyota Motorsport in hul werkswinkel in Johannesburg ontwerp en gebou word.

Die spanhoof, Glyn Hall, verduidelik dat die nuwe Dakar-Hilux nie drasties van sy voorganger verskil nie.

“Die nuwe bakkie is ’n verbeterde weergawe van die vorige een. Die twee nuwe bakkies, wat onafhanklike agtervering sal hê, is die negende en tiende Hilux V8-veldrenmotors wat ons by ons werkswinkel in Johannesburg gebou het sedert ons in 2010 die eerste weergawe vir ons plaaslike kampioenskap gebou het.”

Die grootste verskil tussen die nuwe 2014-weergawe en die bakkie wat hom in Januarie vanjaar so goed van sy taak gekwyt het, is sy nuwe Toyota-enjin.

“Ons sal hierdie keer die 2UR-GSE-allooi-enjin van 5 liter (4 969 cc) met 32 kleppe en viervoudige bonokasse gebruik. Dit is dieselfde enjin wat in die Lexus IS-F diens doen,” het Hall gesê. “Dié enjin het regstreekse petrol-inspuiting, hoëvloeivermoë-silinderkoppe, dubbele veranderlike kleptydreëling met elektriese inlaatnokas-werking, titaan-inlaatkleppe en hoëlig-nokke, en lewer meer as 310 kW met oor die 500 N.m  se wringkrag teen net 2 000 r/min.

“Die belangrikste verbetering teenoor die vorige enjin is die aansienlike toename in wringkrag teen lae enjinsnelhede.

“Dit is die sterkste enjin – kraglewering per liter – in die Toyota-stal. Dit is ’n baie ‘groen’ hoëverrigting-enjin wat skitterend op die gebied van uitlaatgasse en brandstofekonomie vaar terwyl dit steeds die beste verrigting bied. Dit is ’n enjin wat ons tot die volgende vlak kan neem.

“Ons het daarin geslaag om die enjin se eienskappe by die toestande en uitdagings wat ons in die Dakar-ren sal ervaar, aan te pas – veral op die gebied van die uitlaat-spruitstuk- en enjinbeheerstelsels wat in die Dakar-reëls toegelaat word,” het Hall bygevoeg.

“Ons sal ’n heeltemal ander uitlaatstelsel gebruik wat by dié enjin pas.

“Ons het hierdie keer ook lugversorging ingebou – iets waarvoor Giniel en Dirk groot druk op ons geplaas het. Gesien in die lig van die feit dat die temperatuur in die Atacama-woestyn tot hoër as 60 grade Celcius kan styg – meer as 60 grade in die kajuit – en in die Andes-bergreeks tot onder vriespunt kan daal, is enigiets wat ons kan doen om die bemanning gemakliker te maak, uiters belangrik. Die uitdaging was om die 20 kg wat ons bygevoeg het, iewers te verhaal.”

Die onderstel van die jongste weergawe van die Dakar-Toyota Hilux verskil nie veel van die 2013-bakkie waarmee De Villiers en Von Zitzewitz in Januarie vanjaar as naaswenners uit die stryd getree het nie. Die veranderings sluit die gebruik van saamgestelde materiaal vir die brandstoftenkboks en kajuitvloer in om gewig te verminder, en sommige van die aanskroef-komponente.

Die 2014-Dakar-veldtydren begin op 5 Januarie in Rosario in Argentinië en duur tot 18 Januarie wanneer die ren in Valparaiso in Chile eindig. Die Argentynse gedeelte behels sewe sneldele sowel as die rusdag op 11 Januarie in Salta, terwyl ses sneltrajekte in Chile beslis sal word. Die motorfietsdeelnemers sal ook aan ’n marathon-gedeelte met ’n oornaghalte in Bolivië deelneem.

Toyota Motorsport Suid-Afrika gee erkenning aan sy Dakar-borge, spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota, die Imperial Toyota-groep, Duxbury Netgear, die Innovation-groep, Toyota Finansiële Dienste, Blue Sky, Bosch, Castrol, DeWalt, Donaldson, Edgecam, 4×4 Mega World, Hallspeed, Mastercraft, Michelin, Mistral, NGK, Oakley, SKF, Spanjaard, Sparco en TFM.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe enjon vir Toyota se 2014 Dakar- Tydren Hilux