Jeep steek Rubicon in Bridgestone-Uitdaging oor

Jeeps is dié soort veldryvoertuie wat oor of deur omtrent enigiets waarheen ’n mens die neus draai, sal kruip. Die onlangse Bridgestone-4×4-klubuitdaging, wat deur die Jeep-klub SA aangebied is, het ’n groot aantal Jeep-eienaars die geleentheid gegee om hierdie teorie te beproef en om ’n podiumposisie en ’n plek in die eindronde van die 4×4-klub-uitdaging in November mee te ding.

Die byeenkoms – die agtste ronde van die 2013-Bridgestone-4×4-klub-uitdaging – is by die Hobby Park-kompleks aan die Wes-Rand beslis en was deel van die langnaweek se Jeep Jamboree op dieselfde plek. Dié wat gedink het hulle gaan in matige lentetoestande deelneem, is deur Moeder Natuur aan die ribbes geknyp toe dit skielik koud en winderig geword het.

Bykans 40 Jeep-spanne het aangetree om die tien hindernisse aan te durf. Die eerste hindernis was ’n vroeë uitdaging – verskeie asknopers wat gevolg is deur ’n skerp draai, ’n steil afdraande teen ’n skuins helling af, en ’n nou hekkie om deur te wurm. Die meer ervare deelnemers het hul roete fyn beplan, maar van die nuwelinge het dit moeilik gehad en hulle talle strafpunte op die hals gehaal.

Die tweede hindernis was ook ’n groot uitdaging en het in ’n hele paar gevalle tot ’n spanningsvolle verhouding tussen bestuurder en navigator gelei. Die deelnemers moes op ’n hele paar plekke in knap parkeerplekke inwikkel en in trurat teen steil hellings opklouter terwyl die navigators aanwysings moes skree.

Hindernis nommer drie was ’n waterkruising wat onheilspellend gelyk het, maar uiteindelik maklik was om baas te raak. Die daaropvolgende hindernis het die deelnemers egter ietwat in die pekel gehad – net een Jeep het volpunte in dié hindernis gekry waar die bestuurder in trurat teen ’n skuins helling moes ry, terwyl yspakke wat op strategiese plekke versteek was, die wiele laat gly het. Die Jeeps moes aan die bopunt met die agterste buffer teen ’n paaltjie stamp – nie te sag nie, maar ook nie te hard nie.

Die vyfde hindernis was ’n skerp, trapsgewyse steilte terwyl die sesde hindernis ’n steil afdraande was. Hindernisse sewe, agt en nege was soortgelyk: smal hekke en skerp draaie, om nie eens van al die klippe en steil op- en afdraandes te praat nie.

Die tiende en laaste hindernis sal waarskynlik nog lank by van die nuwelinge spook. Die bestuurder is geblinddoek, en die navigator moes hom met mondelingse opdragte teen ’n steil afdraande, deur water, en teen ’n steil bult tot by die uitgang lei.

Dit het ’n hele paar baie benoude oomblikke tot gevolg gehad, met meer as net ’n paar angswekkende hulpkrete van die bestuurders en hul navigators, maar op die ou einde het al die spanne ongedeerd daarvan afgekom.

Die tellings is aan die einde van ’n spanningsvolle dag bymekaar getel, en die derde plek – met ’n handwenas van Opposite Lock as prys – is deur Jimmy Olds en Bertus Badenhorst in hul Wrangler Rubicon iongeneem. Die tweede plek is ook deur ’n Rubicon ingeneerm – dié van Rudolph en Ria Wolmarans, wat ’n stel Light Force-kolligte van Opposite Lock gewen het.

Die wenner was ook ’n Wrangler Rubicon, in die hande van die gesoute Werner en Armand Schaap. Dié span, wat gehelp het dat die Rubicon skoonskip op die podium gemaak het, het ’n bande-geskenkbewys van R10 000 van Bridgestone Suid-Afrika gewen, en sodoende hul plek in die eindronde van die 2013-Bridgestone-4×4-klub-uitdaging in November verseker.

 Besoek ook:

4X4 Vehicle Safety and Off-Road Driving Techniques

Posted on by jonckie

Comments Off on Jeep steek Rubicon in Bridgestone-Uitdaging oor