Beste Jong Boer met ‘n Hilux Beloon!

Attie Scholtz, ’n boer van die Noord-Kaap, sal met ’n splinternuwe Toyota Hilux 2.7 VVTi-hoëromp-Raider-bakkie na sy plaas in die Douglas-omgewing terugkeer nadat hy die gesogte 2013-Agri SA / Toyota SA Jong Boer van die Jaar-toekenning gewen het.

Scholtz is ná talle moordende uitdunrondes as die 2013-Jong Boer van die Jaar aangewys nadat hy aanvanklik as die Noord-Kaapse streeksfinalis aangewys is. Hy is uit ’n groep van agt streeksfinaliste as wenner aangewys.

Johannes Möller, die president van Agri SA, het by die geselligheid gesê vanjaar se finaliste het hul deursettingsvermoë bewys deur die uitdagings wat almal in die veranderende toestande in die landboubedryf in die gesig staar, te bowe te kom. “Hulle kyk doelgerig na volhoubare langtermyn-groei om te verseker dat al die moontlike oorweeg is. Die finaliste het gewys gesonde besluitnemingsvermoë maak die verskil wanneer dit by die bou van ’n suksesvolle onderneming kom.

“Al die finaliste is puik aanspraakmakers en baie goeie boere in eie reg, maar Scholtz is ’n waardige wenner van hierdie gesogte toekenning.”

Scholtz het as wenner suksesvol teen finaliste van al die ander provinsies in Suid-Afrika meegeding. Die finaliste is op grond van hul vertoning in hul eie onderskeie streke gekies, en moes tussen 18 en 35 jaar oud en vir minstens twee jaar lid van Agri SA se provinsiale organisasies wees. Al die finaliste is deur hul onderskeie provinsiale rade van Agri SA aangewys, en is op ’n magdom gebiede beoordeel, waaronder hul finansiële, sake en boerderyvaardighede, sowel as hul bestuursdoeltreffendheid. Hulle is ook met spesifieke fokus op hul eie bydrae, onafhanklikheid en besluitnemeingsvermoë beoordeel.

Scholtz (35) het ’n BComm-honeursgraad in Sakebestuur en boer op Vaallus in die Douglas-distrik nabyKimberleyin die Noord-Kaap. Hy boer met lusern, mielies, koring, gars en vleisbeeste. Hy besit en bestuur ook ’n vervoeronderneming wat hy gebruik om hoofsaaklik lusern van sy eie en omliggende plase af te vervoer.

 

Calvyn Hamman, Toyota Suid-Afrika Motors se Senior Vise-president vir Verkope en Bemarking, was ’n spreker by die geselligheid en het die vermoë van boere in Suid-Afrika beklemtoon. “Boere weet hoe moeilik dit is en wat dit verg om kos op die land se tafels te sit. Ons bewonder jul onverskrokkenheid en jul vermoë om ‘plan te maak’. Ons respekteer jou vaardigheid as die bestuurder van ’n uiters uiteenlopende onderneming en bewonder jou vermoë om in sulke uitdagende omstandighede te werk.”

Die evaluerings is deur ’n paneel bekende landbouspesialiste gedoen. Hulle was die sameroeper, Prof. Carlu van der Westhuizen van die Vrystaatse Sentrale Universiteit van Tegnologie, Prof. Hentie van der Merwe van die Universiteit van die Vrystaat, Prof. Pieter Fourie van die Vrystaatse Sentrale Universiteit van Tegnologie, en mnr. Johannes Kokome van SAB Millers.

Die paneel wat Scholtz se boerderyvaardighede ontleed het, het hom vir die algehele beheer en bestuur van sy plaas, sy skitterende arbeidsverhoudinge en sy gelukkige werksmag wie se behuisings- en leeftoestande hy help verbeter het, sowel as vir die sterk finansiële bestuur van sy plaas en sy vervoeronderneming, geprys.

“Scholtz se vernuwende optrede en dryfkrag het sy boerderybedrywighede die afgelope sewe jaar aansienlik laat groei ten spyte van die groot impak wat natuurrampe (twee oorstromings) op sy besigheid gehad het. Die besproeiingsgrond het meer as verdubbel, terwyl ’n omvattende infrastruktuur en reeks boeredryimplemente en masjinerie gevestig is. Scholtz produseer lusern van só hoë gehalte dat hy ’n voorkeurprys vir die produk ontvang. Hy ondersoek verskillende bemarkingsmoontlikhede wat gebruikkanword om te verseker dat hy die beste pryse vir sy oeste en lewende hawe kry. Daarbenewens stel sy goeie opleiding hom in staat om self rekord te hou en sy eie beplanning te doen, terwyl hy ook die beskikbare kennis en vaardighede van ander landboukenners in sy boerdery inspan,” sê Prof. Van der Westhuizen.

Scholtz is met die titel as 2013-Agri SA / Toyota SA Jong Boer van die Jaar by ’n gala-geselligheid inJohannesburggekroon. Hy het die sleutels van sy splinternuwe Toyota Hilux by die byeenkoms by Calvyn Hamman in ontvangs geneem.

“Ons glo hierdie voertuig pas volmaak by Agri SA en die landbougemeenskap in die algemeen. Ons stigter, wyle Dr Albert Wessels, is bekend daarvoor dat hy gesê het hy sou ons eerste bakkie, die Toyota Stout, eerste aan boere bemark. Sy logiese benadering was dat as hulle ’n gebruik vir die voertuig kon vind, dit enige omgewing sou oorleef. Die Toyota Hilux is vandag nog Suid-Afrika se gunsteling-voertuig,” sê Hamman.

Die ander finaliste in die Jong Boer van die Jaar-kompetisie is:

Noordwes: Heinrich Bruwer boer in die Vryburg-omgewing met ’n Brahman-stoet, ’n Santa Getrudis-stoet, ’n Simbra-stoet, kleinhandel-vleisbeeste en kleinvee.

Gauteng: Charl Höll boer in Delmas, Bapsfontein, Thabazimbi en Roedtan met droëgrond- en besproeiingsmielies, sojabone, koring, droë bone, aartappels en saadmielies.

Mpumalanga: Joachim Prinsloo boer in die Kiepersol-omgewing en in Mosambiek met piesangs, avokado’s, gemmer, macadamianeute en beeste.

Limpopo: Kobus de Beer boer in die Luxemburg-distrik met suikermielies, jongmielies, eiervrug, bone, rissies en beeste.

Vrystaat: Danie Slabbert boer in die Reitz- en Alldays-omgewings met droëgrond- en besproeiingsmielies, aartappels, haselneute, sojabone, pampoene en vleisbeeste.

Oos-Kaap: Karel-Günther Jordaan boer in die Cradock-distrik met Merino-skape en Bovelder-vleisbeeste.

Wes-Kaap: Hannes Toua boer in die Ladismith-omgewing met perskes, pruime, appelkose en granate.

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Beste Jong Boer met ‘n Hilux Beloon!

Category: Algemeen, Voertuig