2014-Opkikkerings vir Hilux, Fortuner en Toyota 86

’n Mens sou met die fokus op konsepmodelle soos die eksotiese Toyota FT-86-oopdak-koepee en toekomstige nuwelinge soos die 2014-Corolla vergewe kon word as jy een of twee opgekikkerde modelle midde die onlangse magdom produkbekendstellings by die Johannesburg Internasionale Motorskou (JIMS) misgekyk het.

’n Paar verfynde modelle van die wêreld se voorste motorvervaardiger het stil-stil ongemerk deurgeglip: die Hilux en die Fortuner het binneruim-opgraderings ondergaan, terwyl die Toyota 86 deur beter toerusting bevoordeel is.

 

2014-Hilux en -Fortuner

Die plaaslike Hilux- en Fortuner-stalmaats het vir die 2014-modeljaar effens onder die  snymes deurgeloop. Die meeste van die veranderings is aan die binnekant, waar al twee modelle die nuwe swart voorpaneel kry (teenoor die gryse wat uitgefaseer word). Die Fortuner se bekleedsel verander na swart leer vir die 3.0- en 4.0-weergawes om by die kleur van die nuwe binneruimbeslag te pas, terwyl die 2.5-weergawes bypassende swart doekstofbekleedsel kry.

’n Splinternuwe multimedia-stelsel (wat nou ’n grootskerm-monitor het) is deel van die standaard-toerusting in die hoëklas-Hilux-modelle (3.0 D-4D- en 4.0 V6-dubbelkajuite) sowel as die Fortuner 3.0- en 4.0-weergawes. Van die nuwe stelsel se eienskappe is ’n toestel waarmee ’n mens na foto’s kan kyk, video/DVD-speler (wanneer die voertuig stilstaan), volkleur-kunsalbum en uitgebreide raakvlak-kategorieë soos om musiek af te laai.

Die Fortuner 2.5 D-4D-handrat- en outomatiese modelle kry ’n opgekikkerde multimedia-klankstelsel met ’n groter skerm en bykomende eienskappe in die vorm van ’n handvrye Bluetooth-telefoonstelsel.

Die Hilux 3.0- en 4.0-dubbelkajuitmodelle kry net soos die Fortuner 3.0- en 4.0-modelle ook ’n trurat-monitor as deel van hul standaard-toerusting.

In ’n oogopslag:

  • Hilux en Fortuner – swart afwerking vir die voorpaneel
  • Fortuner 3.0 en 4.0 – swart leer
  • Fortuner 2.5 – swart doekstofbekleedsel
  • Hilux 3.0- en 4.0-dubbelkajuite / Fortuner 3.0 en 4.0 – splinternuwe multimedia-stelsel met bykomende eienskappe
  • Hilux 3.0- en 4.0-dubbelkajuite (Hoëromp- en 4×4) – trurat-monitor
  • Fortuner 2.5 – verbeterde multimedia-stelsel

Toyota 86

 

Die Toyota 86, die motor wat Toyota se pretfaktor aansienlik opgeskuif het, is nog ’n model wat vir die 2014-modeljaar opgekikker is. Dit is ’n motor wat dieselfde as ’n moderne blitsbuks kos, maar nogtans klassieke sportmotor-lekkernye opdis – enjin in die snoet, agterwielaandrywing, ratse versnellerreaksie en blitsige stuurreaksie sonder die behoefte om teen die spoed van lig te beweeg om dit te kan geniet.

 

Toyota het nou – in reaksie op klante se terugvoer – ’n aantal lopende veranderinge aangebring om die 86 nog aantrekliker te maak. Dit sluit in ’n nuwe raakskerm-klankstelsel met Bluetooth-werking, ’n gevormde bagasieruimmat sowel as dagligryligte en ’n beskeie rompgekleurde lugskort op die bagasiebakdeksel – laasgenoemde is eksklusief aan die twee High-gradering-modelle.

 

In ’n oogopslag:

  • Gevormde bagasieruimmat
  • Nuwe raakskerm-klankstelsel
  • Bluetooth-werking
  • Dagligryligte (86 High)
  • Rompgekleurde lugskort op die bagasiebakdeksel (86 High)

Posted on by jonckie

Comments Off on 2014-Opkikkerings vir Hilux, Fortuner en Toyota 86