Vyfster-Veiligheidsgradering in Euro-NCAP-botstoetse vir nuwe Toyota Auris en RAV4

Toyota se verbintenis tot die hoogste veiligheidstandaarde het skitterende resultate opgelewer nadat die nuwe Auris sowel as die RAV4 die hoogste moontlike telling – 5 sterre – in die onafhanklike Euro-NCAP-botstoetse losgeslaan het. Dié twee voertuie is van die eerste modelle wat ten volle aan die strawwer toetsvereistes vir 2013 voldoen.

Auris

Die Auris, wat aan die begin van die jaar in Suid-Afrika bekend gestel is, doen Toyota se reputasie vir hoë standaarde in aktiewe en passiewe veiligheid gestand. Dit is die eerste kompakte gesinsluikrug wat die hoogste gradering in die Euro NCAP-botstoetse ingevolge die nuwe, strenger 2013-toetsprogram verkry.

Die Auris word in standaard-formaat toegerus met sluitwerende remme (ABS), elektroniese remkragverdeling (EBD) en noodremhulp (BA) sowel as lugsakke regdeur, waaronder vir die bestuurder, voorste passasier en kantlugsakke. Sekere modelle het ook voertuigstabiliteitsbeheer (VSC), gordynlugsakke en ’n knielugsak vir die bestuurder as deel van hul standaard-toerusting.

Die romp van die nuwe Auris is ontwerp om botsenergie te absorbeer en dit weg van die kajuit af te herlei. Die motor se voorkant het ook ’n aantal ontwerpeienskappe wat help om beserings aan voetgangers ten spyte van die lae enjinkap te verminder.

Die Toyota se vyfster-gradering is toegeken aan die hand van tellings van 92 persent vir die beskerming van volwasse insittendes, 84 persent vir kinders, 68 persent vir voetgangers en 66 persent vir veiligheidstelsels.

RAV4

Die nuwe 4e-generasie Toyota RAV4 is die eerste sportnuts wat ’n vyfster-gradering onder die Euro NCAP-botstoetsprogram vir 2013 kry, en sy veiligheidsverrigting bou op dié van sy voorgangers voort. (Die nuwe RAV4 is plaaslik van April vanjaar af beskikbaar.)

Hierdie model het ’n rompsamestelling wat botsenergie opslurp en die insittendes in die geval van ’n botsing help beskerm. Dit strek verder as dié van die vorige model, en hy pronk ook met nuutontwerpte sitplekke wat help om sweepslagbeserings te verminder. ABS en EBD word regdeur die reeks aangetref, terwyl noodremhulp en voertuigstabiliteitsbeheer deel van die standaard-toerusting is. Die omvattende lys standaard-veiligheidstoerusting behels nie minder nie as sewe lugsakke, wat voorkantlugsakke vir die bestuurder en voorste passasier, ’n knielugsak vir die bestuurder, dubbelkamer-kantlugsakke voor en gordynlugsakke aan die kante insluit.

Die motor wat getoets is, was ’n middelvlak-2.2 D-4D-dieselmodel met aandrywing deur al vier wiele (dieselfde as die Suid-Afrikaanse 2.2 D-4D GX). Die toetsmodel het 89 persent vir die beskerming van volwasse insittendes, 82 persent vir kinders, 66 persent vir voetgangers en 66 persent vir sy veiligheidstelsels gekry.

Posted on by jonckie

Comments Off on Vyfster-Veiligheidsgradering in Euro-NCAP-botstoetse vir nuwe Toyota Auris en RAV4