Tyd om blink te vryf en uit te stal – Toyota en Lexus by die Johannesburgse Internasionale Motorskou 2013

Die aftelling na die 2013-Johannesburgse Internasionale Motorskou het begin, en Suid-Afrika se voorste fabrikaat sal ouder gewoonte die pas aangee met een van die grootste uitstallings en die grootste teenwoordigheid wat Toyota nog op die skou gehad het.

Kerry Roodt, Toyota SA Motors se Hoofbestuurder van Bemarkingskommunikasie, het dit só gestel: “Toyota het ’n puik uitstalling met groot styl en argitektoniese aantrekking ontwerp, met origami-geïnspireerde golf-ontwerpelemente wat die uitstalling oorheers.”

“Maar,” soos Roodt dit beklemtoon, “die binnenshuise Toyota-uitstalling van 1 053 m2 in Saal 6 doen baie meer as om net die voertuie te huisves – dit is ontwikkel met die doel om besoekers Toyota se handelsnaambelofte werklik te laat voel. Ons missie deur ons produkte en diens is om ’n glimlag in die lewe van elke liewe klant te bring, en ons uitstalling is bloot ’n verlenging hiervan.”

Dit word verteenwoordig in die wyse waarop die 18 skoumodelle ten toon gestel sal word: die Hilux, Fortuner en Toyota Imperial-ren-Hilux van die Dakar-kampioene Giniel de Villiers en Dirk von Zitzewitz sal in die Gehalte-, Duursaamheid- en Betroubaarheidsone (QDR) te sien wees. Hierdie gebied word heel gepas net vir plaaslik vervaardigde voertuie aangewend en sal beklemtoon hoe Toyota gemoedsrus en klantevertroue, wat die kern van die fabrikaat is, aan die hand van QDR inboesem.

Modelle soos die 86, Aygo, FJ Cruiser en RAV4 sal in die “waku-doki” ofte wel die pret-om-te-ry-sone te sien wees.

“Ons hou ’n paar motors nog geheim totdat die skou aanbreek, maar ons kan nou reeds onthul dat die FT 86-oopdak-konsepmodel, wat sy buiging vroeër vanjaar by die Geneefse Motorskou gemaak het, hier gesien sal word. Dié motor is geskep om die moontlikheid van die bekendstelling van ’n oopdak-weergawe van die wêreld-bekroonde 86-sportkoepee te ondersoek,” het Roodt gesê.

’n Uitstalling wat in die hibried-leierskapsone in die kollig sal wees, is die baanbreker-TS030-hibriedmotor wat deur Anthony Davidson, Sébastien Buemi en Stéphane Sarrazin in vanjaar se uitdagende 24-uur Le Mans-uithouren in ’n skitterende tweede plek oor die wenstreep gestuur is.

Dié model, tesame met die Toyota Imperial Ren-Hilux en Suid-Afrika se jongste aanspraakmaker in die nasionale tydrenkampioenskap, die Castrol Toyota Tydren-Yaris wat in die pret-om-te-ry-sone uitgestal word, sal ook daar wees om Toyota se glorieryke motorsport-erfenis te versterk.

Toyota sal ook in die buitelug die pas in die veldry-arena aangee. Die hele reeks vierwielaangedrewe Toyota- en Lexus-veldryers, waaronder die nuwe Prado, sal te sien wees.

Skougangers sal ook die geleentheid kry om sekere modelle op die 4×4-baan sowel as Toyota se eie “Urban Trax” deur hul passies te sit. Laasgenoemde is ’n veelsydige 4×4-demonstrasiestellasie wat na enige plek vervoer en daar opgeslaan kan word, en waar Toyota se span gevorderde bestuurders die geleentheid sal gebruik om die uiteenlopende vermoë en werking van Toyota se reeks veldryvoertuie ten toon te stel. Die voertuie word deur sewe mensgemaakte hindernisse gery wat in enige stedelike omgewing opgeslaan kan word. Die sluit steil op- en afdraandes, as-knopers, skuins hellings, kloubeheer, afdraande-beheer en kruipwerking in, sowel as demonstrasies oor hoe ’n vastrap-ewenaar werk en hoe om oor en deur diep slote te ry.

Die uitstalling van Toyota se sustersfabrikaat Lexus is soortgelyk op die nuwe wêreldwye ontwerp wat die eerste keer by die Geneefse Motorskou te sien was, geskoei. Dit pas by die styl van die kenmerkende nuwe L-finesse-ontwerp – glinsterende metaal-skakerings wat met skerp, helder lyne saamsmelt om ’n dramatiese dog netjiese agtergrond vir die reeks blink weelde-modelle te vorm. Dit sluit die nuwe IS in F Sport-gewaad, die GS as 450h-hibried, die uiters eksklusiewe en baie skaars LFA-supermotor (sowel as sy F Sport-padfietsstalmaat), en natuurlik Lexus se LS-vlagskip in. ’n Verrassende nuwe Lexus-model sal ook by die JMS onthul word. Verdere besonderhede sal binnekort voorsien word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Tyd om blink te vryf en uit te stal – Toyota en Lexus by die Johannesburgse Internasionale Motorskou 2013