Castrol-Toyota Renspan mik na nog ‘n veldren titel

Toyota Motorsport is ná hul skitterende dubbele oorwinning in die onlangse Sun City 400 in Noordwes ses weke gelede – dit was die kampioenskapsvoorlopers Anthony Taylor en Dennis Murphy se derde agtereenvolgende oorwinning in hul Castrol-Hilux – daarop uit om hul voordeel hierdie naweek in die nuwe Vryburg 400, die sesde ronde van die Donaldson-veldtydrenkampioenskap, ten volle te benut.

Taylor en Murphy het met nog drie rondes voor die einde van die seisoen ’n voorsprong van tien punte teenoor die oudkampioene Chris Visser en Japie Badenhorst, wat vanjaar nog net een byeenkoms gewen het. Taylor-hulle se Castrol-Toyota-spanmaats Duncan Vos en Rob Howie is derde op die punteleer in nog ’n Klas SP-Toyota Hilux, en het 73 punte, wat 27,5 agter Visser/Badenhorst is.

Taylor en Murphy is op die jag na hul eerste kampioenskapstitel en het nog regdeur die seisoen gewys waartoe hulle in staat is. Vos, wat vyf kampioenskappe op sy kerfstok het, en Howie, wat een het, speel ’n belangrike ondersteunende rol vir hul spanmaats. Al twee spanne het ’n 100%-suksesrekord vanjaar waarmee die Toyota Hilux sy oorheersing teenoor sy teenstanders bewys het.

“Ons het regdeur die seisoen ’n goeie lopie met die Hilux geniet,” het die spanhoof, Glyn Hall, erken. “Ons ontwikkelingsprogram weerspieël die soort uitslae waarna ons op soek is, en al twee ons renjaers is baie tevrede met hul voertuie. Ons het vir hierdie ren ’n paar verbeterings aangebring wat gegrond is op dit wat ons vroeg in Augustus in ons toetswerk in die Namib-woestyn voor die komende Dakar-veldtydren geleer het.”

Toyota Motorsport het ’n derde Hilux ingeskryf vir Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee, wat nie-amptelik in die kleure van Imperial Toyota sal deelneem, maar nie vir punte in aanmerking sal kom nie. Dit is ’n opgegradeerde weergawe van dieselfde Imperial Toyota Hilux waarin Giniel de Villiers en sy navigator, Dirk von Zitzewitz, in Januarie vanjaar as naaswenners van die Dakar-veldtydren in Suid-Amerika uit die stryd getree het.

Die voertuig, wat onafhanklike agtervering het, voldoen na aan die reëls vir die nasionale kampioenskap nie, en sal Vrydag en Saterdag voor die res van die renveld jaag en sal nié deel van die amptelike uitslae wees nie.

“Ons het Leeroy ingeskryf om hom so veel as moontlik tyd agter die stuur van die Dakar-bakkie ter voorbereiding op sy Dakar-buiging in Januarie saam met Giniel te gun,” het Hall gesê. “Dit sal ook die volmaakte toetslopie oor ’n afstand van 450 kilometer in volwaardige rentoestande vir die enjin- en veringveranderings ná ons toetsprogram in Namibië wees, en ook ’n geleentheid vir Leeroy om ’n bietjie te oefen.”

Poulter en Coetzee, wat gewoonlik in ’n vierwielaangedrewe Castrol-Toyota Yaris S2000 aan die nasionale tydrenkampioenskap deelneem, het in Junie vanjaar ’n indrukwekkende veldrenbuiging in ’n derde Castrol-Hilux met Suid-Afrikaanse spesifikasie in die Toyota-1000-Woestynren in Botswana gemaak. Hulle het die voorren van die agterkant van die renveld af gewen en was in die hoofren voor almal toe ’n elektriese probleem hulle gekniehalter het.

Die Vryburg 400 is ’n splinternuwe byeenkoms op die veldrenkalender en gedenk die terugkeer na die omgewing waar die oorspronklike Toyota-Woestynren aangebied is voordat dit na Botswana verskuif is. Die renhoofkwartier en aangewese dienspunt sal by die Vryburg-motorklub wees, waar besoekers gratis openbare toegang sal geniet. Toegang tot die talle toeskouerpunte oral langs die roete is ook gratis. Die kwalifiserende voorren oor 60 kilometer, wat gebruik word om die wegspringposisies te bepaal, begin Vrydag 12:00. Die hoofren, wat twee sirkelroetes van 170 kilometer elk behels, skop Saterdagoggend 8:30 af.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die Castrol-Toyota-renspan op Twitter www.twitter.com/toyotasa.

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol-Toyota Renspan mik na nog ‘n veldren titel