Toyota Motorsport hunker na oorwinning in nuwe byeenkoms op tydrenkalender

Toyota Motorsport Suid-Afrika se tydrenspan – Johnny Gemmell en Carolyn Swan (Castrol-Toyota Yaris S2000), Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee (Castrol-Toyota Yaris S2000) en Giniel de Villiers en Greg Godrich (Imperial Toyota-Yaris S2000) – is almal daarop uit om die nuwe 2013-Yaris-tydrenmotor met vierwielaandrywing hierdie naweek tot sy eerste oorwinning in die vyfde ronde van die Suid-Afrikaanse kampioenskap aan te voer.

Hoewel die nuwe tweedeur-Yaris die suksesvolle Auris-kampioenskapswenner net vier byeenkomste gelede vervang het, het dié jongste model in ’n lang reeks tydrenwenners uit die Toyota-stal reeds gewys wat in hom steek deur die pas ’n paar keer al van voor af aan te gee. Hierdie naweek se splinternuwe Ford-handelaarstydren in Gauteng kan dalk net die regte byeenkoms wees.

Tweede plekke vir Poulter/Coetzee en Gemmell/Swan in onderskeidelik die Sasol-tydren in April en die Toyota-Gauteng-handelaarstydren in Junie, en ’n derde plek vir De Villiers/Godrich in die onlangse VW-tydren, was bemoedigend. Trouens, as dit nie vir die boetetyd was wat Gemmel en Swan gekry het toe hulle te vroeg by ’n beheerpunt in die Toyota-Gauteng-handelaarstydren aangekom het nie, sou hulle die wenners gewees het.

Gemmell, wat steeds daarop uit is om sy eerste tydrenkampioenskap te wen nadat hy ’n paar keer as naaswenner geëindig het, en Swan is op die oomblik derde in die kampioenskap en is 35 punte agter die voorlopers, Mark Cronjé en Robin Houghton. De Villiers en Godrich is vierde en 2,5 punte agter hul spanmaats, terwyl Poulter en Coetzee die sewende plek met ’n agterstand van nege punte teenoor De Villiers en Godrich beklee.

“Ons is baie tevrede met die vordering wat ons tot dusver met die tweedeur-Yaris gemaak het,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons kom teen gevestigde tydrenmasjinerie van Volkswagen en Ford te staan, en werk hard daaraan om hulle te klop. Ek dink nie ons is meer ver agter nie. Pap wiele en skade wat deur versteekte hindernisse veroorsaak is, het ons ’n paar keer heelwat tyd gekos, maar ons is tevrede met die motor se spoed.

“Ons sal ’n nuwe veringinstelling vir al drie motors gebruik, en ek dink die jaers sal baie daarvan hou. Ons het die motors voorlopig getoets, maar moet nog baie werk voor die tydren doen. Ons is onder groot druk.”

Die Ford-handelaarstydren sal Vrydag om 11:00 by die Zonderwater-gevangenis in Cullinan begin. Die eerste dag sal ses sneltrajekte in die Cullinan-omgewing behels – vyf op grond, gevolg deur ’n kort, toeskouervriendelike teersneltrajek by die Mamelodi Plaza. Saterdag se tydrenaksie begin om 8:00 by Zonderwater en sal nog vier grondsneltrajekte behels wat elk later herhaal sal word om die byeenkoms uit altesaam 14 sneltrajekte met ’n algehele tydrenafstand van sowat 180 kilometer saam te stel.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa

Besoek ook:

Veilige bestuur op grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Motorsport hunker na oorwinning in nuwe byeenkoms op tydrenkalender