Loopvlakslytasie-wyser ‘n waardevolle middel om te wys of voertuig se bande nog veilig is!

Noudat die lente net om die draai is, is dit tyd vir motoreienaars in die somerreënvalgebiede om daaraan te begin dink en seker te maak hul voertuie se bande is opgewasse vir die taak wat op hulle wag. Dít is die boodskap van die bandevervaardiger Bridgestone, wat gesê het een van die beste maniere om bandeslytasie te bepaal, is om ’n loopvlakslytasie-wyser (TWI – Tread Wear Indicator) te gebruik.

“Die loopvlakslytasie-wyser is ’n maklike manier om te bepaal hoeveel loopvlak nog oor is,” het Mandy Lovel, skakelbestuurder van Bridgestone Suid-Afrika, gesê. “Dit is ’n verhewe rubberknoppie in elke loopvlakgroef wat tevoorskyn kom sodra die loopvlak gelyk daarmee afgeloop het. Wanneer die rubber só ver afgeloop het, is dit tyd om die band te vervang,” het sy verduidelik.

Suid-Afrikaanse wetgewing gee twee voorwaardes vir loopvlakdiepte – die band moet óf minstens 1 mm se loopvlak oor die hele oppervlak van die band hê, of moet nie verder as die TWI afgeloop wees as die band dié aanwyser het nie. Die TWI dui gewoonlik ’n loopvlakdiepte van 1,6 mm aan. Baie motoriste is nie eens daarvan bewus dat ’n band met ’n ontblote TWI reeds onwettig is nie.

Skuif die wetgewing vir eers opsy – ’n band met 1,6 mm se oorblywende loopvlak is amper nie daartoe in staat om groot hoeveelhede water te verplaas ten einde te verseker dat die bandoppervlak pal aan die padoppervlak raak nie. Bande behoort vervang te word sodra hulle 3 mm of minder loopvlak oorhet. Dit sal voortgesette veiligheid verseker deur die gevaar van watergly te verminder, waar die band nie meer genoeg water kan verplaas om aan die padoppervlak te raak nie en dan eerder bo-op die water gly.

“As daar genoeg water op die padoppervlak is, of die voertuig ry vinnig genoeg, kan selfs ’n splinternuwe band bo-op die water gly,” het Lovell verduidelik. “’n Afgeloopte band waarvan die TWI ontbloot is, sal waarskynlik nié die skielike stortvloed van ’n hoëveldse donderstorm kan hanteer nie.”

Lang, droë seisoene lei daartoe dat bestuurders gewoond raak aan hul voertuie se goeie stuur- en rem-vermoë weens die goeie klouvermoë van die rubber op die droë pad, en dit kan tot selfvergenoegdheid in nat toestande lei waar klouvermoë die helfte kan wees van wat dit in droë toestande is.

“Onthou ook dat die padoppervlak in die droë seisoen deur allerhande stowwe besmet kan word – olie, pakolie, banderommel, sand en gruis,” het sy verduidelik.

“Al dié vullis word in die eerste reenbui van die nuwe reënseisoen met reënwater gemeng, wat seepgladde toestande skep – selfs vir bestuurders van voertuie met die beste bande. Dit kan noodlottige gevolge vir bestuurders van voertuie met verslete bande inhou.”

Die TWI-slytasiepatroon sal ook foutiewe banddruk en/of wielsporing uitwys, en bestuurders word aangeraai om dit voor die aanvang van die reënseisoen te laat nagaan.

“Vra die mense by jou naaste passentrum om seker te maak jou voertuig en sy bande kan nog behoorlike klouvermoë bied sodra die reën begin uitsak. Dit sal verseker dat jy regdeur die reënseisoen veilig behoort te wees,” het sy afgesluit.

Besoek ook:

Road Safety and Tyre Safety

Driving in Heavy rains

Posted on by jonckie

Comments Off on Loopvlakslytasie-wyser ‘n waardevolle middel om te wys of voertuig se bande nog veilig is!