Land Cruiser 70-Reeks kry lang verwagte nuwe V8-turbodiesel

 

  • 151 kW teen 3 400 r/min
  • 430 Nm se wringkrag teen 1 200 r/min
  • Platste wringkragkurwe van alle Toyota-enjins

 

Die Land Cruiser 70-Reeks met sy nuwe enjin is nou die nuwe wringkrag-koning onder vierwielaangedrewe voertuie danksy Toyota se legendariese V8-turbodiesel-enjin van 4,5 liter met 32 kleppe, regstreekse hoëdrukbuis-dieselinspuiting en tussenverkoeler.

 

Drie Land Cruiser 70-Reeks-modelle – die 76-Stasiewa, die 79-enkelkajuit- en die 79-dubbelkajuit-bakkie – is die jongste modelle met hierdie V8-enjin van 151kW teen 3 400 r/min wat aan die Euro IV-uitlaatvereistes voldoen. Dié bielie van ’n enjin se wringkraghoogtepunt is 430Nm wat van net 1 200 r/min af regdeur die toerestrek tot by 3 200 r/min beskikbaar is – die platste wringkragkurwe van al Toyota se enjins. Die nuwe enjin pronk met 55 kW meer krag en 145 Nm meer wringkrag as die turbolose V6-dieselenjin van 4,3ℓ met gewone inspuiting wat steeds in sekere Land Cruiser-werkesels diens doen.

 

Hierdie enjin is aan ’n 5-gang-handratkas met ’n 2-gang-oordraratkas en deeltydse vierwielaandrywing met handverstelbare vryloopnawe gekoppel.
Iets waarop ’n mens moet let, is dat die V8-enjin se verbeterde verrigting nie sy brandstofekonomie in die wiele ry nie: brandstofverbruik is op 11,55 liter/100km* vasgestel.

 

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking by Toyota SA Motors, sê enigiemand wat ’n 70-Reeks-Land Cruiser koop, doen dit met ’n spesifieke behoefte, en dit is om in die veld te gaan ry. “Onvernietigbare bougehalte, uitdagende retro-stilering en nou ook V8-turbodiesel-aandrywing maak hierdie nuwe reeks ‘Cruisers selfs nog meer gebiedend. Dit is geen wonder dat ons reeds meer as 1 300 bestellings vir hierdie nuwe weergawe het nie.”

*Gekombineerde siklus


Land Cruiser-erfenis

 

Land Cruiser is een van die mees gerespekteerde handelsname in die wêreld van motorvoertuie, en dit kan regstreeks toegeskryf word aan sy ryk geskiedenis en die feit dat hy aanhoudend die pas in veldry-geledere aangee.

 

Die eerste Land Cruiser is in 1951 vervaardig toe die kleiner BJ sy buiging gemaak het, maar die Land Cruiser-kenteken het sedertdien op oopdak-weergawes, hardekappe, stasiewaens, sportnutse en natuurlik die reeks nuttige bakkies gepryk.

 

Die Land Cruiser het sy Suid-Afrikaanse buiging in 1971 met die koms van die FJ-45-bakkie gemaak, en het nog nooit teruggekyk nie. Die Land Cruiser-handelsnaam behels nou nie minder nie as vier uiteenlopende modelreekse waarvan elk sy eie, kenmerkende karakter het:

 

  • Die Land Cruiser 70-Reeks (76, 78 en 79) – “onvernietigbaar”. Geharde, vermoënde voertuie wat orals kan ry.
  • Die FJ Cruiser – “die rebel”. Hierdie retro-agtige bielie-veldryer is effens links van die regering en oorheers alles op die pad en in die veld.
  • Prado – “jy hoort buite”. ’n Opregte, verfynde veelsydige nutswa – van Sandton se strate tot in die duine van die Namib.
  • Land Cruiser 200 – “gebou om respek af te dwing”. Hierdie Toyota-vlagskip – ’n statusleier – kan vastelande in algehele gerief deurkruis sonder om vir enigiets terug te deins.

 

En soos Crompton dit stel: “Of jou voorkeur nou praktiese nuttigheid of iets meer genotsoekend is, is daar ’n Land Cruiser wat in al jou behoeftes sal voldoen. Die een ding wat elke liewe Land Cruiser-model egter gemeen het, is dat hulle almal die kroon as “koning van Afrika” met gesag kan dra.”

 

Die fyner besonderhede

 

  • Die nuwe V8-turbodiesel van 4,5 liter is die eerste Toyota-enjin met ’n grafietyster-silinderblok. Die gebruik van grafietyster sorg vir minder gewig en kompakte afmetings, terwyl dit die kenmerkende hoë silinderdruk van turbo-aangejaagde diesel-enjins weerstaan.
  • Die turbo-aangejaagde Toyota 1VD-FTV-enjin met ’n tussenverkoeler en viervoudige nokasse met 32 kleppe maak gebruik van regstreekse hoëdrukbuis-D-4D-dieselinspuiting.

 

  • Die waterverkoelde turbo-aanjaer het ’n veranderlike tuit-klap om hoë enjinverrigting, lae brandstofverbruik en min uitlaatgasse in die hand te werk.

 

  • Die 1VD-FTV-enjin het ’n lug-tot-lug-tussenverkoeler en dubbele elektroniese versnelkleppe.

 

  • Die 4 461 cc-enjin het ’n 90o-hoek tussen die silinderbanke, oneweredige boor- en slag-afmetings van 86,0 mm by 96,0 mm vir die beste moontlike wringkrag, en ’n drukverhouding van 16,8:1. Die silinderbank-afwyking is 22 mm en die boorhelling is 97 mm, wat help om ’n kompakte enjinblok in verhouding tot die enjin se verplasingsinhoud te bewerkstellig.

 

  • Die kruk-as van gevormde staal het sewe balanseergewigte. Al die penne en inlaat-binnerondings is getemper om dit so sterk as moontlik te maak. Die onderkant van die enjinblok het wesenlike versterkingsplate om vibrasie tot die minimum te beperk, sowel as vier aandraaiboute vir elke laerkap. Die suierstange is van hoësterkte staal gemaak, terwyl die grootkoplaers met boute sonder moere geanker word.

 

  • Die 1VD-FTV-enjin se suiers is van ’n aluminium-allooi gemaak, met die ontbrandingskamers in die suierkruin. Oliespuite aan die onderkant van die silinder spuit die olie aan die onderkant van die suiers ten einde suierverkoeling en smering te verbeter. Die slinderkoppe is van ’n aluminium-allooi gemaak, en het ’n tweefase-watermantelsamestelling, wat verkoeling verbeter.

 

  • ’n Uitlaatgas-hersirkulasiekanaal (EGR) verminder uitlaatgasse. Die ontwerp van die ontbrandingskamer bestaan uit vier kleppe met ’n middelste draadspoelagtige hoëdruk-inspuitertuit wat verrigting verbeter en uitlaatgasse verminder. Die inspuiterstelsel sluit voorafinspuiting-beheer in wat verrigting en brandstofekonomie verbeter en uitlaatgasse verminder. ’n Gloeiprop tussen die inlaatkleppe laat die enjin makliker aanskakel.

 

 

  • Altesaam vier nokasse word in die nuwe Land Cruiser-V8-dieselenjin ingespan, wat akkurate kleptydreëling verseker. Die nuwe enjin gebruik instandhoudingsvrye klepspeling-verstellers om ’n bestendige nulpunt-klepspeling tussen die tuimelaararm en klepsteel te verseker.

 

  • Die 1VD-FTV-enjin se turbo-aanjaer word deur water verkoel, wat groter betroubaarheid bied. Die inlaatlug word deur ’n lugverkoelde tussenverkoeler en afsonderlike versnelkleppe vir elke silinderbank gelei voordat dit die inlaatpoorte bereik. ’n Knikpyp balanseer die uitlaatdruk tussen die twee silinderbanke, wat doeltreffende turbo-werking verseker.

 

  • Ander kenmerke van die 1VD-FTV-enjin sluit in ’n reglynige temperatuur beheerde koppeling vir die verkoelerwaaier, ’n brandstofverkoeler, ’n brandstoffilter met ’n waarskuwingskakelaar, ’n segmentgeleier-alternator en ’n oksidasie-tipe katalitiese omsetter.

 

Die reeks

 

Die V8 turbodiesel-reeks weerspieël dié van die ander petrol- en dieselmodelle in die 70-reeks. Al die turbodiesel-modelle kry kragstuur, kantel- en teleskopiese stuurkolom-verstelling, lugversorging, elektries beheerde vensters en deurspieëls, ’n bykomende 12V-kragsok sowel as afstand beheerde sentrale sluiting, om maar net ’n paar van die nuwighede op die lys standaard-toerusting te noem.

 

Die 76-Stasiewa is in pas met sy rol as mensedraer (vir tot vyf mense) die weelderigste toegerus, en pronk met binneruim-bykomstighede soos matte regdeur, ingeboude SatNav, ’n stereo-klankstelsel met ’n CD-speler en ’n USB-sok. Die 76, wat op estetiese gebied die mees verfynde model van die 70-Reeks-V8-drieling is, is opgetooi met kleurgepaste en verchroomde mondering (buffers, sierrooster, wielnisversierings), aluminium-kanttrappies en innemende 16”-allooisierwiele. Die nuwe Land Cruiser het ’n brandstoftenk van 130 liter terwyl hy in 2013-gewaad ook ’n spaarwielbedekking as deel van sy lang lys standaard-toerusting het.

 

Volgende op die numeriese lys in die reeks is die 79’s – met die eerstes in enkelkajuit-gewaad.

Kleurgepaste en chroom-buitebeslag, voorste misligte en kleurgepaste wielnisse onderskei hierdie model van sy stalmaats. Die 79-enkelkajuit pronk met ’n gekombineerde brandstoftenk-inhoudsvermoë van 180 liter.

 

Die jongste toevoeging tot die Land Cruiser-reeks – die 79-dubbelkajuit – word kosmeties gesproke deur die toevoeging van twee agterdeure van sy enkelkajuit-stalmaat onderskei. Hierdie model het nie wielnisversierings nie, en allooisierwiele kan bykomend bestel word. Aan die binnekant kry hy egter ’n ingeboude satelliet-navigasiestelsel (SatNav), ’n stereo-klankstelsel en ’n USB-sok by. Die dubbelkajuit-model het ’n brandstoftenk van 130 liter.

 

Pryse

 

Land Cruiser 76-stasiewa 4.5 V8 D                –           R587 500

Land Cruiser 79-enkelkajuit 4.5 V8 D             –           R527 000

Land Cruiser 79-dubbelkajuit 4.5 V8 D           –           R567 600

 

Al die nuwe Land Cruiser 70-Reeks-modelle word deur Toyota se omvattende waarborg van drie jaar/100 000 km gedek. Hierdie modelle word ook deur die ToyotaCare-padbystandsdiens gesteun, wat klante 24 uur se nood-padhulp bied om algehele gemoedsrus te verseker.

Besoek Ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Land Cruiser 70-Reeks kry lang verwagte nuwe V8-turbodiesel