Bridgestone se inisiatief vir jong bestuurders kry momentum

Die bandevervaardiger Bridgestone se inisiatief om jong bestuurders aan groter veiligheid bloot te stel, is besig om te versnel. Meer as 110 skoolkinders wat al oud genoeg is om te bestuur, het sedert die aanvang van die Bridgestone-nabootser-ervaring in Julie 2013 die geleentheid gehad om agter die stuur in te skuif en ’n voorsmakie van alledaagse motorry te kry. Dit was vir bykans die helfte hul heel eerste ervaring agter die stuur, en selfs dié van hulle wat met rekenaar-renspeletjies grootgeword het, het gou besef oorlewing op die pad is ligjare daarvan verwyder om dodelike rondtetye op ’n speletjieskonsole op te stel.

“Bridgestone werk al jare aan maniere om ’n lewenswerklike verskil aan jong bestuurders en vaardighede te help maak,” het Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, gesê. “Die probleem was hoe? Ons wou nie net staan en preek en pamflette uitdeel nie; ons wou hul denkrigtings aktief verander, maar dit is baie moeilik as ’n mens nie die kinders na ’n bestuuropleidingsentrum – iets wat altyd meer prakties is – kan stuur nie,” het sy gesê. “Dit het gelyk asof dit onmoontlik sou wees.”

Die oplossing was toe Bridgestone se verskaffer van bestuursopleiding, driving.co.za, voorgestel het dat hul nuwe vragmotor-nabootsers met hul beproefde selfstudiekursus vir verdedigende bestuurstegnieke gekombineer word. Die nabootsers behels ’n generiese vragmotorkajuit met detail-grafika en klank. Dié nabootsers het in teenstelling met die meeste ander nabootsers wat algemeen gebruik word, ’n bewegingsplatform wat die gevoel van voertuigbeweging goed namaak.

“Ons was aanvanklik nie baie seker of ’n vragmotor-nabootser die regte manier sou wees nie, maar was daarvan oortuig nadat ons dit self probeer het,” het Lovell gesê. “Baie skoolkinders het al ’n motor bestuur, en baie min ’n vragmotor, dus kan dit amper gewaarborg word dat dit ’n splinternuwe ervaring vir die meeste sou wees.”

Die nabootser, wat op die oomblik nog net in Gauteng beskikbaar is, is agter op ’n Hyundai H100-voertuig gemonteer en is geheel en al onafhanklik met selfs sy eie kragopwekker. “Leerders kry oral dieselfde ervaring, hetsy ons by ’n landelikse plaasskooltjie of ’n groot, private skool in die stad is,” het Lovell verduidelik.

Rob Handfield-Jones, die besturende direkteur van driving.co.za, het gesê die fokus is daarop om kennis oor padveiligheid te bevorder deur elke sessie vir die spesifieke leerder aan te pas. “Ons stel die voertuig, kontroles en die roete op om by elke leerder se ervaring te pas, en elkeen ry vir 10 tot 15 minute. Dié wat reeds kan bestuur, kry waardevolle wenke vir verdedigende motorbestuur,” het hy verduidelik.

“Nuwelingbestuurders word meer oor basiese vaardighede ingelig, soos hoe om veilig weg te trek en die stuur te gebruik,” het hy bygevoeg.

Die nabootser monitor bestuursfoute en maak ’n drukstuk wat aan die einde van elke sessie saam met ’n selfstudiegids aan die leerders gegee word om hulle te help om reg van die begin af die regte bestuursgewoontes te leer. Lovell het gesê die reaksie tot dusver het alle verwagtinge oortref. “Die leerders is dol daaroor en baie het gevra om ander roetes te probeer waar hulle groter uitdagings sal hê, soos ’n perd-en-sleepwa-vragmotor met handratwisseling,” het sy verduidelik.

Die program word geheel en al gratis aan deelnemende skole gebied, en Bridgestone dek al die koste. Al wat die skole moet voorsien, is ’n geskikte plek om die nabootser te parkeer, en ’n kragsok indien moontlik. “Ons moedig skole in Gauteng aan om met ons in verbinding te tree om te help om bewustheid van veiliger motorry onder hul leerders wat al oud genoeg is om te bestuur, te bevorder,” het Lovell afgesluit.

Mandy Lovell kan in verband met die Bridgestone-nabootser-ervaring by 011 923 7501 of mlovell@bridgestone.co.za gekontak word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone se inisiatief vir jong bestuurders kry momentum