Toyota maak skoonskip in Sun City 400 – Veldren

 

• Taylor en Murphy oes derde agtereenvolgende oorwinning in
• Vos en Howie maak dit ’n dubbele Toyota-oorwinning
• Toyota wen al die klasse

Die twee Toyota Hilux-inskrywings van die Castrol-Toyota-renspan het hul staal in die Sun City 400-veldren gewys en as wenners en naaswenners uit die stryd getree. Dit was Anthony Taylor en Dennis Murphy se derde agtereenvolgende oorwinning en het hul Hilux #SP03 met nog drie renne voor die einde van die seisoen stewig aan die bopunt van die punteleer in die Donaldson-veldtydrenkampioenskap geplaas.

“Die voertuie het foutloos geloop en Anthony en Duncan het netjies gejaag om ’n groot voorsprong voor die res van die renveld op te bou en dit regdeur die ren te handhaaf,” sê die Castrol-Toyota-spanhoof Glyn Hall.
’n Skoon lopie beteken egter nie dit was so maklik as wat dit klink nie. “Murphy het sy hande vol gehad om die roetemerkers te kry omdat groot dele van die roete splinternuut was, maar hy het hom puik van sy taak gewkyt,” sê Hall.

Dit het hierdie keer sekere voordele ingehou om voor te jaag. Die Sun City-ren word tradisioneel aan die einde van die droë winterseisoen gehou, en die deelnemers jaag gewoonlik in stof. Gedeeltes met swart klei en gras skep egter verbysteekgeleenthede, wat beteken het dat Anthony en Duncan die Hilux se bene effens moes rek om seker te maak die Ford-jaers in die 3e en 4e plekke agter hulle kom nie te naby nie.
Taylor en Murphy se oorwinning het hulle nou tot 10 punte voor Chris Visser en Japie Badenhorst aan die bopunt van die kampioenskapspunteleer laat styg.

Toyota het in al drie klasse puik gevaar en die oorwinnings in Klas SP, Klas D en Klas E aangeteken, wat hom ook die vervaardigersprys besorg het. Nie minder nie as elf Hilux-bakkies en ’n Land Cruiser het die ren voltooi. Johan en Werner Horn het Klas D in hul Malelane Toyota-Land Cruiser gewen, terwyl Douglas Fear en Kurt de Villiers hul Brytons Removals-Toyota Hilux op die bopunt van die in Klas E-podium parkeer het.
Die Toyota-fabriekspan sal egter nie tyd hê om die silwerware van hul laaste drie oorwinnings te sit en bewonder nie, aangesien hulle reeds besig is om hul voorbereidings vir die 2014-Dakar-toetssessie, wat van Sondag 4 Augustus 2013 af in die Namib-woestyn beplan word, te finaliseer.

“Die Hilux het homself bewys, maar ons het ’n groot aantal verbeterings wat ons nog wil beproef,” sê Hall.

Van die veranderings sluit in veringverfynings met nuwe komponente, nuwe skokbrekers en talle ander detail-komponente regdeur die Hilux, waaronder die onafhanklike agtervering wat ingevolge die Dakar-reëls toegelaat word, sowel as werk wat aan die enjin gedoen is.

Volg al die opwinding oor die Castrol-Toyota-renspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, 4×4 Mega World, Bosch, DeWalt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Besoek ook:

Safe Driving on Gravel Roads

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota maak skoonskip in Sun City 400 – Veldren