Castrol Toyota Renspan oorgehaal vir nog ‘n oorwinning in Port Elizabeth

Johnny Gemmell en Carolyn Swan is vandeesweek terug op die toneel van hul oorwinning in verlede jaar se byeenkoms wanneer hulle hul splinternuwe Castrol-Toyota Yaris S2000 Vrydag (19 Julie) vir die wegspring van die volgende nasionale kampioenskapstydren, die Volkswagen-tydren in die Oos-Kaap, op die wegspringstreep trek.

Dié naaswenners in die 2012-kampioenskap het pas ook ’n skitterende tweede plek in die onlangse Toyota-Gauteng-handelaarstydren behaal in wat maar net hul derde byeenkoms in die nuwe vierwielaangedrewe 2013-Yaris was, en is vol vertroue om die jongste weergawe in ’n lang reeks suksesvolle Toyota-tydrenmotors sy eerste oorwinning te gee. Gemmell het die VW-tydren ook in 2010, maar destyds in ’n Castrol-Toyota Auris, gewen.

Hulle sal ondersteun word deur hul spanmaats Leeroy Poulter en Elvéne Coetzee, wat in April ’n indrukwekkende tweede plek in die span se ander Castrol-Toyota Yaris in die reëndeurdrenkte Sasol-tydren losgejaag het.

Toyota Motorsport Suid-Afrika se sterk driemotor-uitdaging word in die vierde ronde van die Suid-Afrikaanse Tydrenkampioenskap deur Giniel de Villiers en Greg Godrich in die Imperial Toyota-Yaris afgerond.

De Villiers het intussen sedert sy eerste uitstappie met dié motor in die Sasol-tydren aan die nuwe tydrengevaarte gewoond geraak, en die Dakar-veldtydren-sterjaer sal daarop uit wees om op sy en Godrich se bemoedigende vierde plek in die onlangse Toyota-Gauteng-handelaarstydren te verbeter.

Die VW-tydren is die halfpadmerk in die kampioenskap, en al drie spanne sal daarop uit wees om hul posisies op die punteleer te probeer verbeter. Gemmell en Swan is vierde in die kampioenskap, Poulter en Coetzee is vyfde, en De Villiers en Godrich is onderskeidelik sewende en sesde in die jaers- en navigatorskampioenskappe.

“Johnny en Carolyn het verlede jaar ’n puik oorwinning in die 2012-Auris gehad, en ons moet vanjaar met die nuwe Yaris op hierdie sukses voortbou,” het die spanhoof, Glyn Hall, gesê. “Ons het die motor sedert sy vorige uitstappie verbeter, en al drie weergawes sal met ’n enjinopkikkering spog – iets waaraan ons al die hele jaar werk.

“Die motors pronk ook met ’n nuwe voorste buffer wat spesiaal vir hierdie byeenkoms goedgekeur is. Ons het tot nou die Yaris se gewone produksieweergawe-buffer gebruik aangesien ons nog nie tyd gehad het om ’n nuwe weergawe te ontwikkel en te toets voordat ons die nuwe tydrenmotor bekend gestel het nie. Dit is ’n baie belangrike komponent. Die nuwe buffer bied lugdinamiese voordele, wat die motor ook in sy geheel beïnvloed.

“Die Oos-Kaapse byeenkoms is ’n vinnige woud-byeenkoms, dus moet ons alles uithaal om so verrigtingswys as moontlik te wees,” het Hall bygevoeg. “Ons het nog veringveranderinge gedoen, en hoewel ons toetswerk in Gauteng gedoen het, sal ons ook die geskeduleerde inoefeningsneltrajek op plaaslike paaie die Donderdag (18 Julie) ten volle benut om seker te maak die motors is slaggereed vir Vrydag se aksie.”

Die VW-tydren begin Vrydag (19 Julie) om 12:00 by die VW AutoPavilion in Uitenhage met die laaste van die dag se sewe sneltrajekte ’n dorpsneltrajek wat in Jeffreysbaai op teer beslis sal word.

Saterdag se roete behels nog sewe sneltrajekte en die opwinding begin om 8:00 by die Fountains-winkelsentrum in Jeffreysbay. Die tydren eindig omstreeks 14:15 by Kingsstrand in Port Elizabeth. Die podiumgeselligheid en prysuitdeling word om 15:45 by die eindpunt gehou.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, De Walt, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol Toyota-tydrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa. 

 

 

Besoek ook:

Veilige bestuur op gruis en grondpaaie

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyota Renspan oorgehaal vir nog ‘n oorwinning in Port Elizabeth