Voertuigverkope behou momentum in Mei

  • Beste Mei-verkope sedert mark-hoogtepunt in 2007
  • Toyota Hilux los voor in plaaslike en uitvoerverkope
  • Uitvoer van Trots Suid-Afrikaanse voertuie bly styg

Voertuigverkope wat deur die Nasionale Vereniging van Voertuigvervaardigers van Suid-Afrika (Naamsa) gepubliseer is, het in Mei 2013 op 53 997 eenhede te staan gekom, wat in pas is met die bedryf se 2013-verwagtinge vir ’n algehele verkopemark van tussen 650 000 en 680 000 eenhede.

Toyota en sy gesinsfabrikate Lexus en Hino het altesaam 10 370 eenhede vir die maand van die hand gesit, wat hom ’n markaandeel van digby die 20% in die strawwe handelstoestande wat Mei gekenmerk het, gee. Die Hilux het uitstekend gevaar en altesaam 3 076 eenhede is in Mei verkoop, terwyl ander plaaslik vervaardigde Toyota-modelle beter as hul onderskeie marksegmente gevaar het. Dit sluit die Fortuner (940 eenhede), Corolla (1 309 eenhede) en die Quantum- en Ses’fikile-taxi (1 210 eenhede) in.
“Hierdie verkoopsyfers moet egter in perspektief gesien word,” sê Glenn Crompton, Visepresident: Bemarking by Toyota Suid-Afrika Motors.
“Mei 2013 is – die markverwagting ten spyt – steeds die beste Mei sedert die mark ’n hoogtepunt in 2007 bereik het.”

Dieselfde kan ook van die uitvoermark gesê word. Die uitvoer van voertuie het met 16,5% teenoor dieselfde maand verlede jaar gestyg. Toyota het in Mei vanjaar een uit elke vier Suid-Afrikaans geboude voertuie wat deur plaaslike hawens uitgevoer is, vervaardig.

Nog ’n verrassende neiging is die goeie handelaarsverkope. Handelaars verteenwoordig gewoonlik sowat 80% – 85% van die algehele voertuigverkope, en dít bly ’n goeie aanwyser vir verkope in die private sektor en individuele voertuigaankope. Algehele handelaarsverkope het in Mei 91% van die mark verteenwoordig, terwyl staatsaankope beperk was en verkope aan die motorverhuringsektor seisoenaal gebly het. Verkope aan motorverhuringsmaatskappye sal nader aan die somervakansietyd ‘n bydra tot algehele verkope lewer.

“Gesonde mededinging tussen fabrikate en ’n mengsel van vervangingsverkope en vroeë verkope om verwagte prysverhogings die hoof te bied, het Mei-verkope ’n hupstoot gegee.

“Ons verwag dat die mark se huidige groeikoers sal volhou, maar is versigtig oor die daling in die waarde van die rand en die uitwerking wat dit op voertuigbekostigbaarheid, die brandstofprys en algehele lewenskoste sal hê,” sê Crompton.

Posted on by jonckie

Comments Off on Voertuigverkope behou momentum in Mei