Toyota se Gesamentlik Ontwikkelde Robot gereed vir Ruimte-Avontuur

 

–          Kirobo kan gesprek voer en emosie herken

–          Toyota aan die voorpunt van robot- en stemherkenningsnavorsing

Toyota en ’n groep Japanse maatskappye en navorsingsinstellings het ’n werklikheids-Astro Boy-ruimteman geskep wat hom later vanjaar by ’n ruimte-ekspedisie na die internasionale ruimtestasie sal aansluit.

Die Toyota-Motorkorporasie (TMK), Dentsu Inc. (Dentsu), die Navorsingsentrum vir Gevorderde Wetenskap en Tegnologie, die Universiteit van Tokio (RCAST) en Robo Garage Edms. Bpk. (Robo Garage) sal die robot-ruimtevaarder genaamd Kirobo, wat almal gesamentlik ontwikkel het, op 4 Augustus 2013 die ruimte in stuur. Die ekspedisie sal van die Tanegashima-ruimtesentrum in die Kagoshima-provinsie geloods word.

Kirobo is een van twee menslike robotte wat kan praat en onder die Kibo-robotprojek ontwikkel is. Dit is ’n gesamentlike navorsingsprojek deur RCAST, Robo Garage en TMK. Die Japannese Ruimteverkenningsagentskap (JAXA) het ook omvattende hulp verleen. Kirobo weeg 1 kg, is 34cm hoog en kan emosie herken, knik en ’n gesprek voer. Mirata, Kirobo se mede-robot wat die aardse beheersentrum sal beman, het die bykomende vermoë om kennis in te samel. Hy sal Kirobo monitor.

RCAST en Robo Garage het saam aan die ontwikkeling van die robot-hardeware en bewegingsvermoë gewerk, TMK was verantwoordelik vir die stemherkenning, en Dentsu het die geselskapsinhoud sowel as die bestuur van die hele projek hanteer.

Kirobo en Mirata volg in die voetspore van verskeie Toyota-robotte wat geskep is om persoonlike vervoer en menslike vaardigheid te bestudeer. Vorige Toyota-robotte het onder andere ook trompet en viool gespeel.

Kirobo sal ná die lansering op die Kounotori 4 aan boord van die ISS gaan en vir kommandeur Koichi Wakata se aankoms in November of Desember wag. Die kommandeur en Kirobo sal in die Japannese Kibo-eksperimentelemodule aan die eerste gesprekseksperiment tussen ’n mens en ’n robot in die ruimte deelneem.

Meer oor die Kibo Robot-webtuiste: http://kibo-robo.jp/en/


Die projek se beplande tydsverloop:

4 Aug. 2013: Robot-ruimtevaarder Kirobo vertrek na die ISS

Aug. – Sept. 2013: Kirobo praat die eerste keer in die ruimte

Nov. – Des. 2013: Kommandeur Wakata kom by die ISS aan

Des. 2013: Kommandeur Wakata en Kirobo voer hul eerste gesprek

Mei – Jun. 2014: Kommandeur Wakata verlaat die ISS

Des. 2014: Kirobo keer terug aarde toe

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota se Gesamentlik Ontwikkelde Robot gereed vir Ruimte-Avontuur