Toyota Racing jaag Le Mans – Podiumposisie los

Toyota Racing het ná ’n wipplankren waarin sy jaers en renspan ontsaglike uitdagings te bowe gekom het, op emosionele wyse as naaswenners uit die Le Mans-uithouren oor 24 uur getree.

Die #8-TS030-hibriedmotor van Anthony Davidson, Sébastien Buemi en Stéphane Sarrazin was tweede, terwyl die #7-motor van Alex Wurz, Nicolas Lapierre en Kazuki Nakajima ’n bevredigende week vir die span met ’n netjiese vierde plek afgerond het.

Die ren is ontsier deur die dood van Allan Simonsen, wat aan sy beserings beswyk het nadat sy #95-Aston Martin net ’n paar minute ná die begin van die ren van die baan gejaag het. Toyota Racing betreur sy dood en dra sy innige medelye aan sy familie, vriende en span oor.

Die chaotiese ren is deur immer veranderende weerstoestande gekenmerk, wat gevaarlike omstandighede geskep en tot nie minder nie as elf veiligheidsmotor-onderbrekings gelei het, wat sake erg vir die jaers bemoeilik het.

Die #7-motor het ’n onstuimige 24 uur oorkom waartydens die span verskeie uitdagings in die gesig gestaar het, waaronder ’n verlies aan brandstofdruk vroeg in die ren, ’n stadige rondte om die brandstof tot in die kuipe te laat hou, en twee wiele wat as voorkomende maatreël geruil is nadat sensors stadige lekke aangedui het.

Die #7-motor was met minder as ’n uur voor die einde van die ren in ’n opwindende stryd om die derde plek totdat ’n baie swaar reënbui baantoestande bykans onmoontlik gemaak het. Nicolas kon niks daaraan doen om te verhinder dat sy TS030-hibriedmotor van die baan af teen die sperrelings vasgly nie.

Nicolas het die motor op dapper wyse terug kuipe toe gery en skitterende werk deur die span het die ernstige skade aan die snoetkant en voorvering binne 30 minute herstel. Dit het hom in staat gestel om verder te jaag en die geruite vlag in die vierde posisie te ontvang.

Die #8-motor het ’n baie beter lopie ten spyte van die moeilike toestande gehad, en net tyd verloor toe sy brandstofhervulbeurt twee keer tydens die veiligheidsmotor-onderbreking opgeduik het en Stéphane in die kuipelaan moes wag om hom weer by die ren aan te sluit.

’n Dag van volmaakte betroubaarheid het daartoe gelei dat die #8-motor ’n aanslag op ’n algehele oorwinning kon loods voordat die span die 24 uur net een rondte agter die wen-Audi (#2) voltooi het.

Dié tweede plek ewenaarToyotase beste posisie opLe Mansaangesien die TS030-hibriedmotor die uitslae van die TS010 (1992), 94C-V (1994) en TS020 (1999) geëwenaar het.

Yoshiaki Kinoshita, president van die span: “Eerstens, baie geluk aan Audi met hul oorwinning. Dit was fantasties om in só opwindende ren teen hulle te kon deelneem. Ek is baie trots op ons span vandag; ons het waarlik soos ’n span opgetree en verdien hierdie uitslag. Ons het nooit moed of fokus verloor nie – nie eens in die moeilikste omstandighede nie. Dit was ’n baie gerusstellende uitslag om al twee die motors oor die wenstreep te kry en op die podium te staan. Ek sal almal se vasberadenheid en spanwerk nadat die #7-motor beskadig is, vir ewig onthou. Dit was baie emosioneel om dit te ervaar, aangesien dit ons spangees getoon het. Ek wil dus dankie sê aan die span, en die renjaers, wat hulle alles vir ons gegee het. Ek is baie tevrede met hierdie uitslag, maar dit is my droom om dieLe Mans te wen, dus is ek vasbeslote om aanstaande jaer selfs nog sterker terug te wees.”

 

TS030-hibriedmotor #7 (Alex Wurz, Nicolas Lapierre, Kazuki Nakajima)

Wegspringposisie: 5e

Jaersvolgorde: Nicolas / Alex / Kazuki / Nicolas / Alex / Kazuki / Nicolas

Uitslag: 4e, 341 rondtes (+ 7 rondtes), 30 kuipebesoeke. Vinnigste rondte: 3 min. 25,718 sek.

 

Alex Wurz: “Baie geluk aan Audi #2; hulle het ’n baie dramatiese ren gewen wat gekenmerk is deur die dood van een van ons kollegas, waaroor ons baie jammer is. Ons is uit ons oogpunt baie tevrede en trots daarop dat ons die motor tot op die podium kon bring, dus ook baie geluk aan Anthony, Sébastien en Stéphane. Ons was alwys net kort agter die voorjaers; dit was ’n baie sterk vertoning. Ons moet nie vergeet dat Audi op ’n groot hoogtepunt is nadat hulle die ren die afgelope dekade geheel en al oorheers het nie, dus was dit vir ons ’n baie bemoedigende vertoning.”

Nicolas Lapierre: “Ek dink dit was ’n puik dag vir Toyota Racing om die podium in die Le Mans-uithouren oor 24 uur te haal. Ons het die ren amper gewen enkan baie trots daarop wees as ’n mens in ag neem dat ons span maar net 18 maande oud is. Die feit dat die twee motors die ren sonder enige groot tegniese probleme voltooi het, is ’n groot prestasie. Ek het ongelukkig ’n fout met ons motor gemaak, wat ons aanslag op ’n podiumposisie gekniehalter het. Ons moes hard werk om ’n derde plek te probeer behaal, maar dit het nie so uitgewerk nie. Ons was vierde, wat ’n groot teleurstelling was, maar toe ek die motor terug in die kuipe bring, was ek baie trots op ons werktuigkundiges. Hulle het puik werk gedoen en ek was baie emosioneel om daarna terug baan toe te gaan.”

 

Kazuki Nakajima: “Dit was ’n opwindende stryd teen die Audi #3, en dit is iets wat ons nie ná die kwalifiserende uitslae verwag het nie. Noukan ons nie wag om aanstaande jaar terug te keer en te probeer om die ren te wen nie. Dankie aan die hele span vir hul puik werk; dit is fantasties dat ons spanmaats die podium gehaal het. Dis net jammer dit was nie nog een trappie hoër nie… Dit was egter ’n goeie einde aan die ren vir ons motor, selfs al is die uitslag nie ideaal nie. Ons het as span baie hard gewerk enkan baie trots wees op die wyse waarop ons op die ongeluk naby aan die einde van die ren reageer het. Daarna was dit fantasties om die geruite vlag te sien, maar ek het gemengde gevoelens daaroor – veral ná gister se hartseer nuus.”

 

TS030 HYBRID #8 (Anthony Davidson, Sébastien Buemi, Stéphane Sarrazin)

Wegspringrooster: 4e

Jaersvolgorde: Anthony / Sébastien / Stéphane / Anthony / Stéphane / Anthony / Sébastien

Uitslag: 2e, 347 rondtes (+ 1 rondte), 30 kuipebesoeke. Vinnigste rondte: 3 min. 25,151 sek.

 

Anthony Davidson: “Die toestande was werklik moeilik, maar die span en die motor het soos klokslag gewerk. Almal het puik saamgewerk; Toyota Racing het hom puik van sy taak gekwyt en ek het nog altyd gesê as ons almal doen wat ek weet onskan doen, sal ons ten minste ’n podiumposisie kry. Ons het nie die volmaakte spoed uit die motor gekry om te wen nie, en dit was duidelik van die oomblik dat ons daar aangekom het, maar ons het nie opgegee nie. Ons het aanhou druk en het besef dit was ’n ren waarin enigiets kon gebeur. Saterdagoggend se ongeluk waarin Allen dood is, het dit tragies bewys. Dit was veral vir my baie pynlik ná wat verlede jaar gebeur het. Dit was wonderlik om te herstel en uiteindelik op die Le Mans-podium te staan. Ek het nog altyd daarvan gedroom, en dit was ’n fantastiese gevoel.”

Sébastien Buemi: “Dit was in dié omstandighede ’n baie uitdagende ren vir ons, en vir almal. Ons het geweet dat foute enige tyd kon voorkom, maar my spanmaats het ’n fantastiese ren gehad en die span het ’n puik taak verrig. Ek is werklik baie tevrede omdat ons so hard in ons uithou-toetse gewerk het, en ons het steeds nie geweet of ons genoeg gedoen het nie.Om dan daar te kom en sonder enige probleme te jaag, en die ren as naaswenners te voltooi, was ’n puik, puik stukkie werk deur die hele span. Daar was uit die aard van die saak ’n bietjie teleurstellende frustrasie, want ons wil altyd wen. Maar ons het baie teenoor verlede jaar verbeter en gewys ons is besig om daar te kom; dalk het Audi iets om hulle aanstaande jaar oor te begin bekommer!”

 

Stéphane Sarrazin: “Dit is ’n ongelooflike uitslag vir die span en baie bemoedigend vir die toekoms. Ons het van verlede jaar af baie hard gewerk en die span het met ’n massiewe poging vorendag gekom; hulle het die hele tyd hulle alles gegee. Die motor was die hele naweek net fantasties. Ons het geen probleme gehad nie; geen betroubaarheidsbekommernisse nie. Ons het ons bes gedoen, maar Audi was net ’n tikkie vinniger as ons. Sébastien en Anthony het in die moeilike omstandighede puik gevaar en dit was maklik om ’n fout te maak. Ons het baie botsings gesien, en Saterdag ongelukkig ook ’n baie tragiese een. Nou is ons net baie tevrede met ons ren, ons span, ons werktuigkundiges en ons ingenieurs. Ek is so gelukkig om deel van hierdie span te wees; ek is ’n baie gelukkige mens!”

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Racing jaag Le Mans – Podiumposisie los