Toyota se nuwe geslag Corolla onthul

Die volgende geslag van die wêreld – en Suid-Afrika – se topverkoper-vierdeursedan, die Toyota Corolla, is vandag in twee uiteenlopende gedaantes op twee vastelande onthul.

’n Corolla-sedan met Europese styl is in Istanboel, Turkye, onthul, terwyl nog ’n weergawe met ’n kenmerkend verskillende snoetontwerp, meer as 10 000 km verder in Santa Monica, Kalifornië, ten toon gestel is.

Die twee motors behou die stileringskenmerke van die Corolla Furia-konsepmodel wat in Januarie op die Detroitse motorskou uitgestal is, maar pronk ook met hul eie, unieke vertolking van die skoumotor se dramatiese en uitdruklike ontwerp.

Die Europese weergawe is bestem om in die meeste Corolla-markte regoor die wêreld – Suid-Afrika ingesluit – verkoop te word, terwyl die alternatiewe weergawe hoofsaaklik op kopers in die Verenigde State gemik is.

Lettie Labuschagne, hoofbestuurder van Toyota SA Motors se afdeling vir produkbeplanning, het bevestig dat die Europese weergawe dieselfde lyk as die model wat in die eerste kwartaal aanstaande jaar in Suid-Afrika bekend gestel sal word.

“Toyota het dekades daaraan bestee om die Corolla te verfyn, en dié model het voortdurend verbeter en terselfdertyd getrou aan sy kernwaardes gebly,” sê Labuschagne.

“Die 2014-Corolla beloof om met sy beter stilering, lewendiger verrigting, verbeterde dinamiese eienskappe en selfs nog meer binneruimte die beste model nog te wees. Dit is nogal iets as ’n mens in ag neem dat sy geskiedenis oor die 47 jaar strek.”

Die Corolla se saamgestelde wêreldwye verkope oorskry 39,7 miljoen sedert die oorspronklike model in 1966 bekend gestel is. Dit sluit amper 1 miljoen in Suid-Afrika in. Die nuwe sedan is die 11e geslag van die Corolla. Die model sal in 150 lande bemark word.

Toyota se volgende geslag Corolla-sedan pronk met ’n splinternuwe buite-ontwerp met skoon lyne en gebalanseerde afmetings, wat ’n meer gekunstelde en eietydse voorkoms bied.

Die voorkant-stilering is op Toyota se twee ontwerpkerns gegrond – ’n smal, langwerpige boonste sierrooster wat tot in die vlymskerp koplighulsels en die kenmerkende trapesiumvormige onderste sierrooster strek.

Van die kant gesien beklemtoon die kort voorste en agterste oorhange – tesame met die lang asafstand en uitdruklike wielnisse – die nuwe Corolla-sedan se dinamiese houding en elegante afmetings.

Agter word die duidelike lyn van die bagasiebakdeksel deur breë stertligte beklemtoon, wat ’n skoner, vooraanstaande voorkoms bied.

Die Corolla-sedan se kraaknuwe binneruimontwerp gee kopers ’n aansienlik groter, meer gesofistikeerde en goed toegeruste kajuit-omgewing.

Die breedte word deur die nuwe, horisontale voorpaneel met sy groter instrumentehuls beklemtoon. Die bestuursposisie is danksy ’n laer sitplek met meer verstellings verbeter.

Die agterste deel van die nuwe Corolla-sedan se kajuit bied ’n ruimer en deftiger omgewing met herontwerpte sitplekke wat veelsydiger en gemakliker is, sowel as meer knieruimte. Die reeks sal soos voorheen ’n verskeidenheid enjins en ratkasopsies bied.

Nog besonderhede oor die splinternuwe Corolla-sedan wat na Suid-Afrika op pad is, sal nader aan die bekendstelling aangekondig word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota se nuwe geslag Corolla onthul