Centurion-motoriste kry 98% vir bandesorg

Johannesburg (20 Mei, 2013)

 

Dis amptelik: motoriste in Centurion, Gauteng, het ’n nuwe rekord vir bandesorg opgestel. Dít is die nuus van Bridgestone se bande-ondersoekspan nadat die uitslae van die jongste bande-ondersoek, wat op 1 Mei in die parkeerterrein van Pick n Pay se Lifestyle-sentrum-hipermark gedoen is, ontleed is. Dit was die tweede bande-ondersoek vir 2013 en die 24e sedert die voortgesette reeks bande-ondersoeke in 2007 begin is.

 

Die uitslae van die 996 bande van 249 voertuie wat ondersoek is, het onthul dat 98% van die bande binne die voorgeskrewe banddruk-veiligheidsvereistes was. Dit is ’n groot styging teenoor die vorige rekordsyfer van 95% wat in 2012 by die Carnival-winkelsentrum opgestel is. Bridgestone se bandespesialiste het die druk en toestand van die bande van elk van die voertuie wat ondersoek is, nagegaan en hul bevinding in ’n verslag opgesom wat onder die windskerm-ruitveër vir die aandag van die bestuurder gelaat is. Bande word ingevolge hul druk geklassifiseer: die voorgeskrewe banddruk is tussen 180 kPa en 290 kPa. ‘Gevaarlik’ is onder 180 kPa maar hoër as 150 kPa, en ‘uiters gevaarlik’ is vir bande wat papper as 150 kPa of stywer as 290 kPa gepomp is.

 

Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, het Centurion se motoriste met dié prestasie en hul bandesorg geluk gewens. “Toe die bande-ondersoekveldtog destyds in 2007 begin is, het minder as gemiddeld 80% motoriste by die voorgeskrewe druk gehou. Die rekord-laagtepunt was 54%,” het sy gesê.  “’n Uitslag van 98% is fantasties, en ons is ook baie in ons skik wat die res van die uitslae betref,” het sy bygevoeg.

 

Van die 2% bande wat buite die drukvoorskrifte val, het die helfte in die kategorie vir ‘gevaarlik’ en die ander helfte in die afdeling ‘uiters gevaarlik’ geval. Die peiling het ook getoon dat die persentasie voertuie met onpaar bande op net 2% te staan gekom het – die tweede laagste wat nog aangeteken is. Elke band is ook afsonderlik vir algehele veiligheid soos snye of drukbulte en buitensporige loopvlakslytasie ondersoek. Die aantal bande wat só erg afgeloop of beskadig was dat hulle onveilig is, was in die Centurion-peiling ook baie laag – net 3%. Dit was ook die naasbeste uitslag vir bandeskade en -slytasie ná die 2% wat in 2012 in die Moffet Retail Park-peiling in Port Elizabeth aangeteken is. In laasgenoemde peiling was die persentasie bande met die verkeerde banddruk egter net 88% – ver van dié van Centurion.

 

Lovell het gesê dat die Centurion-uitslag algeheel die beste nog was, en het bygevoeg dat die langdurende aard van die bandesorg-peiling besig is om spesifieke neigings bloot te lê. “Die Centurion-uitslae is byvoorbeeld ’n stewige verbetering van die 2012-peiling in Centurion, wat destyds self heelwat hoër as die gemiddelde was,” het sy verduidelik.

“Maar as ’n mens na die peiling kyk wat vroeër vanjaar in Germiston gedoen is, het 20% voertuie onpaar bande gehad, en net 88% het banddruk binne aanvaarbare perke gehad,” het sy gesê. “Hierdie uitslae is grootliks dieselfde as wat ons in ’n vorige Germiston-peiling twee jaar tevore aangeteken het. Dit gee die wetstoepassingsowerhede in die Germiston-omgewing ’n goeie geleentheid,” het sy gesê.

 

“Dit is hierdie soort praktiese voordeel waarvoor ons met die bandesorg-projek gehoop het, en as dit net een lewe kan spaar, was dit reeds die moeite werd,” het sy afgesluit.

Besoek ook die volgende skakels in Engels:

Also view:

Road Safety and Tyre Safety

Tyre Safety and Car Insurance

Posted on by jonckie

Comments Off on Centurion-motoriste kry 98% vir bandesorg