Aftelling begin na die Lexus IS 350 – Deel 1

 

  • Nuwe Lexus IS maak sy SA buiging in 2013
  • Meer as 1,6 miljoen toetskilometer afgelê
  • Rydinamika grootste fokuspunt vir nuwe IS-ontwikkeling

Die splinternuwe Lexus IS het nog voor sy aankoms in Julie in Suid-Afrika reeds oor die 1,6 miljoen kilometer vir toets- en ontwikkelingswerk afgelê – twee keer maan toe en terug.
Die kern van die IS se ontwikkelingsproses was die behoefte om te verseker dat al die IS-modelle hul skitterende dinamiese vermoë behou, terwyl algehele ruimte en gemak verbeter is.
Die toetswerk van die splinternuwe IS is op die pad, op die toetsbaan en in die laboratorium gedoen, waarna die IS tot breekpunt in die ys- en sneeu-toestande van die noordelike halfrond, die hitte van die suidelike halfrond, en in moordende toetse op bane soos die Nürburgring in Duitsland en die Fuji Speedway in Japan, getoets is.
Die kern om die “pret-om-te-ry”-eienskappe van die nuwe IS te behou, was ’n nuwe ontwikkelingsproses waarin rydinamika voorkeur bo alles ander geniet het, het die hoofingenieur, Junichi Furuyama, verduidelik.
“Die gewone benadering sou die ontwikkeling van elk van die individuele aspekte behels, waar “pret om te ry” die mikpunt sou wees – baie soos wat ’n piramide gebou sou word deur eers die fondasie te bou en alles van daarop te bou,” het hy gesê.
“Die probleem met hierdie soort benadering is dat ’n mens nie weet of dit in die ‘pret om te ry’-ervaring sou eindig nie.
“Die ontwikkeling van die nuwe IS het die proses in teenstelling daarmee op sy kop gekeer.
“Dit het vereis dat die genotvolle ry-ervaring wat IS-bestuurders sal ervaar, eers as die punt van die piramide gevestig moes word, waarna die individuele verrigtingselemente om dit te ondersteun, moes volg,” het Furuyama gesê.
Die proses het tot die gebruik van nuwe rompversterkingstegnieke gelei, wat laserskroefsweiswerk en romphegting (wat in die nuwe IS altesaam 25 meter behels), en ’n veerstelsel wat 20 persent beter romprolweerstand bied, insluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Aftelling begin na die Lexus IS 350 – Deel 1