Toyota-Motorkorporasie (TMK) kondig aan dat Hibriedverkope die 5-Miljoen-Kerf oorskry

2012 Toyota Prius

  • 5,125 miljoen hibriedvoertuie sedert bekendstelling van eerste hibriedmodel verkoop
  • 18 nuwe hibriedvoertuie teen Desember 2015 beplan
  • 34 ton CO2 en 12 miljoen kiloliter brandstof deur hibriedvoertuie bespaar

Toyota City, Japan – Die Toyota-Motorkorporasie (TMK) kondig aan dat die saamgestelde wêreldwye verkope van sy hibriedvoertuie die vyfmiljoen-kerf op 31 Maart 2013 oorskryf en altesaam 5,125 miljoen eenhede gehaal het1.

Die TMK se bemarking van hibriedvoertuie en hul aanvaarding in die massamark word as ’n bestuursvoorkeur bedryf en is gegrond op die maatskappy se oortuiging dat omgewingsvriendelike voertuie net ’n werklik positiewe impak kan hê as hulle algemeen gebruik word.

Hibriedvoertuie het verlede jaar 14 persent van die TMK se wêreldwye voertuigverkope en 40 persent van sy voertuigverkope in Japan verteenwoordig. Die TMK verkoop van vandeesmaand af 19 hibried-passasiersmotormodelle en een inprop-hibried in nagenoeg 80 lande en streke wêreldwyd. Die Toyota-Motorkorporasie sal tussen nou en Desember 2015 altesaam 18 nuwe hibriedvoertuie wêreldwyd bekend stel, en is daartoe verbind om sy produkreeks nog verder uit te brei en die reeks in nog meer lande en streke as nou te verkoop.

TMK bereken dat TMK-hibriedvoertuie2 van 31 Maart 2013 af nagenoeg 34 miljoen ton3 minder CO2-uitlaatgasse – baie mense glo dit is die oorsaak van aardverwarming – vrygestel het as wat dit die geval met soortgelyke grootte voertuie met gewone brandstofenjins en vergelykbare verrigting was. TMK raam ook dat sy hibriedvoertuie nagenoeg 12 miljoen kiloliter se brandstof teenoor die hoeveelheid wat deur soortgelyke grootte voertuie met gewone brandstofenjins gebruik is, bespaar het.

Toyota het in Augustus 1997 die Coaster-hibried-EV in Japan bekend gestel, en die “Prius” – die wêreld se eerste massa-vervaardigde hibried-passasiersvoertuig – in Desember daardie jaar. Sedertdien het TMK-hibriedvoertuie ontsaglike steun van verbruikers regoor die wêreld ontvang.

Die TMK-visevoorsitter, Takeshi Uchiyamada, wat vir die ontwikkeling van die eerste Prius verantwoordelik was, het die volgende gesê: “Ons het die eerste Prius ontwikkel met die doel om dit ’n motor vir die 21e eeu te maak, en te wys hoe Toyota op omgewingsprobleme reageer. Ons moes ’n hibriedstelsel van die begin af ontwerp, wat ons taak aansienlik bemoeilik het. Ons het die uitdaging nogtans aanvaar.

“Die bekendstelling van die eerste Prius het ’n uitwerking gehad wat ons verwagtinge ver oortref het. Die voertuig het verbruikers se omgewingsbewustheid verhoog en hibriedvoertuig-verwagtinge laat styg. Verbruikers se begrip ten tyde van die bekendstelling het daartoe gelei dat die voertuig wyd aanvaar is, en verbruikers ondersteun sedertdien TMK-hibriedvoertuie steeds. Hiervoor is ek innig dankbaar.”

Toyota, wat hibried-tegnologie daargestel het wat die gebruik van verskillende brandstof-kombinasies as kern-omgewingstegnologie vir die 21e eeu moontlik maak – waaronder die komponent-tegnologie wat vereis word vir die ontwikkeling van omgewingsvriendelike motors – beplan om verder werk daarvan te maak om verrigting te verbeter, koste te verlaag en sy produkreeks uit te brei (waaronder dié van sy omgewinsgvriendelike voertuie wat nié hibriedvoertuie is nie) ten einde voertuie wat gewild onder kopers is, te bemark.

Skakel na toegewyde internet-inligting, waaronder ’n video-boodskap van die visevoorsitter, mnr. Uchiyamada: http://www.toyota-global.com/hv5m/

2012 Toyota Yaris Hybrid

Toyota Auris Hybrid

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota-Motorkorporasie (TMK) kondig aan dat Hibriedverkope die 5-Miljoen-Kerf oorskry