Toyota bly op die kruin van die internasionale motorwêreld

Toyota bly op die kruin van die internasionale motorwêreld wat algehele handelsnaamwaarde betref nadat dié van die maatskappy op R241 miljard (VSA$26* miljard teen R9,27) vasgestel is. Nuwe navorsing deur die vooraanstaande handelsnaam-valuerings- en bemarkingskonsultante Brand Finance sê Toyota se handelsnaamwaarde het met ses persent teenoor die VSA$24,5 miljard van verlede jaar gestyg.

Die stigter en uitvoerende hoof van Brand Finance, David Haigh, het gesê van die redes vir die verbetering sluit in die bekendstelling van stylvolle, nuwe ontwerpe (modelle soos die 86 en die Auris het Toyota se estetiese aantrekking aansienlik verhoog). ’n Styging van 23 persent in verkope tot ’n rekord van 9,8 miljoen voertuie en ’n hoër nettowins as wat verwag is, het ’n bydrae tot die hoër waarde gelewer.

Toyota word deur drie Duitse motorvervaardigers gevolg – Volkswagen, BMW en Mercedes-Benz – terwyl die Amerikaanse motorvervaardiger Ford die top-vyf afrond. Toyota se markkapitalisasie is op R1 942,9 miljard (VSA$209,6 miljard teen R9,27) vasgestel – meer as dubbel dié van enige ander voertuigvervaardiger.

Die Brand Finance-navorsing is in ooreenstemming met nog ’n peiling wat Toyota die afgelope nege jaar as die wêreld se waardevolste voertuighandelsnaam gradeer. Die 2012-verslag vir die beste handelsname ter wêreld, wat deur die internasionale konsultantemaatskappy Interbrand opgestel is, het gesê Toyota is besig om sy handelsnaam met meer stylvolle en aantrekliker voertuie te herdefinieer.

Interbrand het gesê hibriedmotors is iets wat Toyota “duidelik onderskei”, terwyl die Prius-reeks nuwe klante na die Toyota-fabrikaat laat stroom. Toyota het ook in 2012 die tweede agtereenvolgende jaar as die beste wêreldwye groen handelsnaam na vore getree. Daarbenewens het die invloedryke Forbes-groep vier Toyota-voertuie – die Camry, die Corolla, die Prius en die RAV4 – as van die suksesvolste motors vir 2012 uitgesonder.

Die motors is op grond van hul verkoopsyfers, klantetevredenheid en -verrigting, betroubaarheid, veiligheid en waarde verkies. Brand Finance bepaal die sterkte, risiko en potensiaal van ’n handelsnaam in verhouding tot dié van sy mededingers. Dit is in wese dieselfde as ’n kredietgradering.

Die data wat hiervoor gebruik word, kom van verskillende bronne, waaronder Bloomberg se jaarverslae en Brand Finance-navorsing.

Interbrand gebruik ’n metodeleer wat ’n magdom veranderlikes, wat ’n invloed het op hoe ’n handelsnaam by die verbruiker byval vind en waarde tot die instelling voeg, in ag neem.

 

Toyota is die afgelope 33 jaar reeds die topverkoper-voertuigvervaardiger in Suid-Afrika.
*Bron: Brand Finance

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota bly op die kruin van die internasionale motorwêreld