RAV4 -Die evolusie van die oorspronklike kompakte sportnuts

2013 Toyota RAV4 VX

  • Gesofistikeerde, nuwe ontwerp
  • Hoëgehalte binneruim met verbeterde ergonomie
  • Drie enjins waaronder nuwe 2,5ℓ-petrolenjin
  • Splinternuwe geïntegreerde dinamiese dryfstelsel (IDD) vir modelle met aandrywing deur al vier wiele

 

Dit lyk asof ’n mens nie deesdae meer deur die betonoerwoud (of ’n organiese een, wat dit aanbetref!)kanry sonder om op die een of ander kompakte sportnuts af te kom nie. Dit behoort nie juis ’n verrassing te wees nie –Toyotahet hierdie kruisvoertuig-omwenteling in 1994 met die heel eerste RAV4 afgeskop.

 

Die oorspronklike RAV4, wat as kompakte driedeur-model van net 3,69m lank bekend gestel is, was ’n nuweling wat ingrypend anders was as enigiets wat destyds in die vorm van ’n tradisionele 4×4 beskikbaar was. Die nuweling het ’n klein, dwarsgemonteerde enjin in ’n enkelstukromp met onafhanklike vering voor en agter gehad. Die mark vir kompakte sportnutse is gebore, en die RAV4-suksesverhaal duur voort, en die res is geskiedenis…

 

Meer as ’n rekord-aantal 4,5 miljoen eenhede van die drie geslagte van die RAV4, wat nou in meer as 150 lande beskikbaar is, is sedert dié model se bekendstelling verkoop. Suid-Afrika het meer as 15 verskillende voertuie wat op die titel ‘kompakte sportnuts’ kan aanspraak maak, maar ’n mens moet onthou dat dit Toyota is wat die weg in hierdie segment gebaan het.

 

Glenn Crompton, Vise-President van Bemarking, is baie opgewonde oor die nuweling: “Toyotahet sy uitstekende ervaring goed in die splinternuwe 2013-RAV4, wat die vierde geslag is, toegepas. Dié model is aansienlik op die gebied van styl en dinamika verbeter. Die nuwe RAV4 pronk nie net met dramatiese nuwe lyne en ’n meer volwasse binneruim nie, maar bied ook ’n meer innemende ry-ervaring – die nuweling meng die beste van al sy voorgangers saam en voeg ’n aangename gehalte-inspuiting daarby terwyl hy steeds aan al die oorspronklike model se beloftes vir groot pret voldoen.”

2013 RAV4 GX

 

Ontwerp

  • Gekunstelde, dinamiese en sterk buitekant met kenmerkende Toyota-ontwerpelemente
  • Verbeterde aerodinamiese verrigting ten gunste van beter hanteringstabiliteit, minder windgeraas en beter brandstofdoeltreffendheid

 

Die vierde generasie van Toytota se kompakte, veelsydige sportnuts is 205mm langer as sy voorganger (nou sonder die noodwieldraer op die stertdeur) met ’n algehele lengte van 4 570mm, en pronk met ’n splinternuwe silhoeët wat sy veelsydigheid, ruimheid en sportiewe karakter beklemtoon.

 

Die nuwe model se daklyn is 25mm laer as die derde geslag RAV4; is 30mm breër en pronk met ’n asafstand wat ’n stewige 100mm langer is, maar lewer steeds die beste draaisirkel in sy klas – net 10,6 meter – wat vir puik maneuvreering en gemaklike bestuur in stadsverkeer sorg.

 

Sy splinternuwe, gespierde buitekantstilering vertolk die kenmerkende elemente van die nuweToyotase voorkant-ontwerp as volg:

  • Die stylvolle, smal sierrooster-middelpunt met ’n horisontrale chroombalk wat visueel tot in die kopligsamestelle strek;
  • Die groot, trapesoïdale onderste opening onder die sierrooster wat in swart hars afgewerk is, met ingeboude mislighulse aan weerskante (misligte is deel van die 2.2 en 2.5 se standaard-toerusting);
  • Die bekende katoogagtige Keen Look-kopligte met ingeboude ligdiode-dagligryligdetail (DRL).

 

Van die kant gesien erf die nuwe RAV4 die kombinasie van ruimte-doeltreffende verpakking, stygende heuplyn en onderskeidende silhoeët wat opeenvolgende geslagte vanToyotase kompakte sportnuts kenmerk.

 

Die swart B- en C-pilare bokant die duideliker heuplyn beklemtoon die verlengde glaskas en die voertuig se ruim binnekant. Die kontras van die bolronde romp onder die gordellyn en die skerp, holronde stilering van die uitgeboude wielnisse en drumpels laat die RAV4 van die kant gesien selfs nog meer dinamies en sterker lyk.

 

Die kajuit spits aan die agterkant in teenstelling met die onderste deel van die romp skerp na binne, wat gespierde skouers bokant die wielnisse skep en die voertuig se stabiele, vasvoetige houding beklemtoon. Die sterker heuplyn en wielnis-skouer aan die agterkant van die voertuig word verder deur ’n nuwe ontwerp vir die stertligsamestelle beklemtoon, wat deur die afmetings van die agterste skouer geskep word en om die hoeke van die voertuig vloei om die stertkant-glaswerk te beklemtoon.

 

Die nuwe stertdeur self, wat ’n ingeboude lugskort aan die bokant het, se skarniere is nou aan die bokant, terwyl die noodwiel wat voorheen aan die agterdeur gemonteer was, nou verwyder is om die nuwe RAV4 se skoner, meer aerodinamies doeltreffende ontwerp af te rond. Die nuwe stertdeur-ontwerp behels benewens die estetiese voorsprong verskeie ander voordele wat minder gewig en beter ruimtebenutting (die binnekant van die deur het ’n holronde vorm om meer pakplek te bewerkstellig) insluit.

 

Die voertuig is met ’n keuse van ’n paar verskillende 17”-allooisierwiele as deel van sy standaard-toerusting en in enige van agt kleure beskikbaar, wat vier nuwe kleure vir die reeks insluit: gryserige blou metaalvlokkieverf, eklips swart metaalvlokkieverf, karmosynrooi metaalvlokkieverf en pêrelwit metaalvlokkieverf.

 

Verbeterde lugdinamiese verrigting

 

’n Lugvloeibestuur-ontwerpbenadering is vir die stilering van die nuwe RAV4 ingespan om sy aerodinamiese verrigting te verbeter. Dit lei tot beter hanteringstabiliteit en groter brandstofdoeltreffendheid.

 

Lugvloeihoeke voor en agter en ’n nuwe wielontwerp en buitetruspieëlhulsels wat meer aerodinamies is, beperk lugdwarreling en stabiliseer die lugvloei aan die kante van die romp. Sogenaamde ‘Sakana’-vinne, wat op gevorderde Formule 1-tegnologie gegrond is, word aan die onderkant van die buitetruspieëls en stertlighulsels aangetref en help om die lugvloei met die romp langs te versnel, wat voertuigstabiliteit en beheer verbeter.

 

Die kajuit spits smaller na agter, en die hoeke van die agtervenster, die daklyn en ingeboude lugskort is verfyn om lugvloei oor die bokant van die romp te stabilisiseer, wat onstuimigheid tot die minimum beperk en lugweerstand verminder.

 

Omvattende maatreëls is ingespan om windgeraas in die kajuit te beperk en stabiliteit aan die onderkant van die voertuig te bevorder. Dit sluit klankdigtingsmateriaal in die voorste en agterste modderskerms, ’n skerm onder die enjin, talle klankskerms onder die vloer, en skerms onder die brandstoftenk, onderste veringarms aan die agterkant en ’n klankskerm onder die onderkant, in.

 

Hierdie aerodinamiese verbetering van talle aspekte van die romp, tesame met die nuwe RAV4 se kleiner oorhang aan die voorkant, het die voertuig se sleursyfer tot net Cd 0,31 verlaag.

2013 Toyota RAV4

 

Hoëgehalte-binneruimontwerp vol nuwighede

 

  • Elegante, ergonomiese binneruimstilering met hoëgehalte-materiale, sagte vulsel en helder blou agtergrondbeligting vir die instrumente
  • Hersiene sitposisie agter die stuur vir verbeterde ergonomie, beter sig vorentoe en ’n meer innemende bestuur-ervaring

 

Die meeste bestuurders sal die binneruim beskou as die gebied waar die dwarslat die meeste opgeskuif is. Die voorpaneel en middelkonsole-toring is nie net baie meer modern met ’n aantreklike gevoel nie, maar die kajuit het baie meer ruimte as voorheen.

 

Die dinamiese, sterk argitektuur van die nuwe voorpaneel pronk met kragtige boonste en onderste horisontale oppervlakke wat die nuwe kajuit se ruim, oop atmosfeer kenmerk. ’n Geboë balk met metaalafwerking en wat in die transmissietonnel gewortel is, onderbreek die horisontale oppervlakke om die bestuurder se instrumentehuisie, stuurwiel en voethuls, wat die nuwe RAV4 se binneruim meer bestuurder-gefokusde eienskappe gee.

 

Die skoon, gekunstelde elegansie van die nuwe ontwerp word verder deur die gebruik van hoëgehalte materiale, sagte vulsel op talle gebiede waaraan die insittendes sal raak, vars beslagafwerking en nuwe kleure regdeur versterk.

 

Die voorrand van die boonste horisontale oppervlak van die voorpaneel het ’n metaalagtige afwerking, terwyl die onderkant die vorm van ’n vloeiende, sag-opgestopte paneel aanneem (egte leer vir die VX), wat volmaak by die identiese afwerking van die boonste deurpanele pas.

 

Silwerbeslag-detail beklemtoon die bestuurder se instrumente, luguitlate, middelkonsole-instrumente en ratkierie, terwyl die deure se skakelaarpanele en die transmissietonnel met panele van nagemaakte koolstofvesel afgewerk is.

 

Al die agtergrondbeligting vir die instrumente en skakelaars het nou ’n helder blou kleur; ’n vars, koel beligting ná donker wat visuele bestendigheid tot die nuwe binneruim voeg.

 

Gefokusde, ergonomiese ryposisie

 

Die sitposisie van die nuwe RAV4-bestuurder is in pas met die meer stuurkajuitagtige omgewing omvattend hersien om ergonomie, gemak en uitsig vorentoe te verbeter en ’n meer innemende bestuurder-ervaring te bied.

 

Die bestuurder se heuppunt is met 5mm verlaag terwyl die reikafstand van die afwaartse sitplekverstelling met 15mm tot 30mm verleng is. Die stuurwielhoek is nou 2,3 grade laer, terwyl die reikafstandverstelling in die rigting van die bestuurder met tot 38mm verleng is.

 

Die groter reikverstellings vir dié sitplek beteken die bestuurderkannie net ’n laer en meer innemende sitposisie bewerkstellig nie, maar ook ’n hoër sitposisie – as die bestuurder dit sou verkies – wat die uitsig vorentoe sal verbeter.

 

Die sitplek self, wat groter gemak en houvermoë met groter verstelbaarheid kombineer, het ’n sitplekoppervlak wat 20mm groter is, die kussinghoek is met 2 grade verhoog en die systeun is relatief hoër om steun te verbeter. Die rugleuningoppervlak is 30mm groter en hoër, en het dikker systeun om sydelingse steun te verbeter.

 

Die A-pilare is verder na buite geskuif, wat die bestuurder se sigveld vorentoe met 3 grade verbeter, terwyl die dwarssnit-breedte van die pilare self met 8% verminder is.

 

Groter ruimte en veelsydigheid

 

Hoewel die kompakte buite-afmetings ten gunste van maneuvreerbaarheid behou is, voorsien die toename van 205mm in algehele lengte (teenoor die kortbak-weergawe sonder die noodwieldraer op die agterdeur) en nuwe asafstand wat 100mm langer is, die nuwe RAV4 van ’n beduidende groter kajuit, wat die ruimte vir passasiers en bagasie in pas met dié van veel groter voertuie in die D-segment plaas.

 

Die afstand tussen die voorste en agterste sitplekke is tot die beste in hierdie klas verleng – ’n stewige 970mm. Dit, tesame met die dunner voorsitplekrugleuning, maak die oorvloedige agtersitplekruimte een van die mees uitstaande eienskappe van die nuwe model.

 

Die 60:40-verdeelbare agtersitplekke is gemakliker en slaan munt uit die kussingoppervlakhoek wat 2 grade hoër is, en het hersiene en verbeterde systeun. Die agterste sitplekkekanamper gelyk met die laairuimvloer platgevou word sonder om die sitplekkussings of kopstutte te verwyder.

 

Die laairuim is tot 1 025mm verleng, wat die bagasieruimvermoë tot 547 liter – die beste in sy klas – vergroot.

 

Die stertdeur wat aan kantskarniere gehang het, is met ’n nuwe deur met skarniere aan die bokant vervang, enkanin die geval van die VX-model elektries oop en toe maak. Die nuwe deuropening van 645mm pronk met ’n merkwaardige lae laaivloerlip sowel as ’n wyer opening tot 1 158mm.

Kragbronne

 

  • Grootste en mees doeltreffende enjinreeks nog vir die nuwe RAV4, met gemiddeld 11% minder CO2-uitlaatgasse regdeur
  • Keuse van voerwielaandrywing of aandrywing deur al vier wiele, 6-gang-handrat, outomatiese 6-gang-transmissie en Multidrive S CVT (palwisseltransmissie)

 

Die nuwe RAV4 bied klante ’n nog groter enjinreeks as tevore in reaksie op die voortgesette evolusie van die kompakte sportnutsmark en die behoefte na immer beter brandstof- en uitlaatgasdoeltreffendheid. Die nuwe RAV4 se omvattende reeks bied vir al sy petrol- en diesel-weergawes ’n ongeëwenaarde balans tussen uitstaande verrigting met voorwielaandrywing of aandrywing deur al vier wiele en die beste syfers vir CO2-uitlaatgasse in sy klas.

 

Die enjinreeks behels ’n 107kW-Valvematic-petrolenjin van twee liter in ’n tweewielaangedrewe formaat met die keuse van ’n 6-gang-handratkas of Multidrive S (Toyota se uiters gevorderde palwissel-transmissiestelsel); ’n 110kW-D-4D-dieselenjin van 2,2 liter met ’n 6-hang-handratkas en die voordeel van aandrywing deur al vier wiele danksy Toyota se AWD-stelsel; en ’n 132kW-VVT-i-petrolenjin van 2,5 liter wat aan ’n splinternuwe outomatiese 6-gang-transmissie met aandrywing deur al vier wiele gekoppel is. Elke enjin in die nuwe reeks stel minder CO2-uitlaatgasse vry, met ’n vermindering van gemiddeld 11% regdeur die reeks.

 

Enjin kW Aandrywing Ratkas. CO2 (g/km)
2.0 Valvematic 107 / 6200 2WD 6MT 179
2.0 Valvematic 107 / 6200 2WD Multidrive S 173
2.2 D-4D 110 / 3600 AWD 6MT 149
2.5 VVT-i 132 / 6000 AWD 6AT 198

 

2,0ℓ-Valvematic-petrolenjin

Hierdie ligte, kompakte viersilinder-sestienklepper van 1 987cc lewer 107kW teen 6 200r/min. Sy maksimum-wringkrag van 187 Nm word teen 3 600r/min ontwikkel.

 

 

Dié enjin pronk met Valvematic-tegnologie –Toyotase veranderlike inlaatklep-stelsel, dubbele VVT-i (intelligente veranderlike kleptydreëling), ’n inlaatspruitstelsel waarvan die lengte van die spruitstukkanverander, sowel as ’n oliepomp met veranderlike verrigting. Hierdie uiters doeltreffende, ligte en skoon tegnologie verhoog kraglewering terwyl brandstofverbruik en uitlaatgasse verminder en geraas en vibrasie tot die minimum beperk word. Brandstofverbruik en uitlaatgasse is met tot 6% verminder.

 

Die enjinkanaan ’n 6-gang-handratkas of ’n palwissel-transmissie gekoppel word, en is net met tweewielaandrywing beskikbaar.

 

2,2ℓ-D-4D-dieselenjin

Hierdie kragtige viersilinder-D-4D-dieselenjin van  2 231cc het ’n turbo-aanjaer waarvan die lengte van die luginlaattonnel veranderkanword, sowel as hoëdrukbuis-dieselinspuiting met hoëdruk-inspuiters. Sy TCCS-enjinbeheerstelsel (Toyotase rekenaar beheerde stelsel) het ’n 32-bis-verwerker wat vir akkurate, gelyktydige beheer van die brandstofinspuiting, inspuitertydreëling, brandstofdruk, gloeipropoordrag en uitlaatgas-hersirkulasie (EGR) sorg.

 

Dié enjin lewer 110kW teen 3 600r/min en ontwikkel sy maksimum-wringkrag van 340Nm teen tussen 2 000 en 2 800r/min. Hierdie weergawe het ’n 6-gang-handratkas wat al vier wiele aandryf.

 

Die gebruik van skêragtige dubbelas-balanseerstawe en ’n silinderkopdeksel wat van hars gemaak is, onderdruk enjinvibrasies en beperk enjingeraas. Die gebruik van ’n aluminium-silinderblok en die water- en oliepompe wat onder ’n aluminium kettingdeksel gehuisves word, het aansienlike gewigsbesparings teweeg gebring. ’n Roltuimelaararm met ingeboude naaldlaers verminder wrywing aansienlik, wat brandstofekonomie verhoog.

 

Die gevolg daarvan is dat brandstofverbruik en die uitlaatgasse van enjins wat aan ’n handratkas gekoppel is, met meer as 7% tot net 5,6 ℓ/100km en 149 g/km onderskeidelik gedaal het.

 

2,5ℓ-VVT-i-petrolenjin

 

Die 2013-RAV4-reeks het ’n nuwe dubbel-VVT-i-viersilinderenjin van 2,5 liter wat in die petrolaangedrewe modelle met aandrywing deur al vier wiele aangetref word.

 

DieToyota2AR-FE-enjin bied beter verrigting, rybaarheid en brandstofekonomie, minder uitlaatgasse en minder geraas en vibrasie en meer verfyning as die vorige VVT-i-enjin van 2,4 liter (wat nie voorheen in Suid-Afrika beskikbaar is nie), en is aan’n nuwe outomatiese 6-gang-transmissie gekoppel.
Hierdie Toyota 2AR-FE-enjin het 7kW en 9Nm meer teenoor die 2,4ℓ-petrolenjin wat hy vervang. Die 2AR-FE-enjin het hom reeds in die Toyota Camry in Australië bewys. Die enjin is spesiaal vir die RAV4 gekalibreer en lewer 132kW teen 6 000r/min met 233Nm se wringkrag teen 4 100r/min.
Brandstofverbruik is met 11,5% vir die modelle met outomatiese transmissie teenoor die 2,4ℓ-petrol-enjin verbeter. Die brandstofekonomie vir die nuwe RAV4 2.5 is 8,5ℓ/100km in die gekombineerde siklus.

 

Die inlaatspruitstuk is baie lig, stil en van ’n veeldoelige hars gemaak wat lugvloei verbeter. Die ontwerp van die nuwe inlaatpoort is met die hulp van rekenaar gesteunde ingenieursontwikkeling verfyn, en sorg vir hoë kraglewering en verbeterde brandstofdoeltreffendheid deur hoë lugvloei en inlaattuimelvloei te verseker.
Ander interessante enjineienskappe sluit in suierringe met ’n lae spanning, ’n skuins gemonteerde krukas, ’n oliepomp met driefase veranderlike uitset, en roller-tuimelarms.
Die gebruik van roller-tuimelaars eerder as die vorige stelsel wat klepligters op ’n plat oppervlak gehad het, lei tot beter brandstofekonomie dansky die aansienlik minder wrywing tussen die nokke en die glyende komponente.

 

Toyota gebruik die akroniem VVT-i, waar die ‘i’ staan vir die intelligente manier waarop die stelsel kleptydreëling regdeur die enjin se toerestrek optimaal beheer ten einde die beste verrigting en brandstofdoeltreffendheid te bied. Die gebruik van veranderlike uitlaatgaskleptydreëling verminder pompverlies en verhoog die hoeveelheid uitlaatgashersitkulasie, wat minder uitlaatgasse vrystel. Die stelsel verminder uitlaatgasse selfs wanneer die enjin nog koud is (soos byvoorbeeld wanneer die motor soggens vroeg aangesit word).

 


TRANSMISSIES

 

Die nuwe RAV4 bied klante die keuse tussen ’n 6-gang-handratkas, outomatiese 6-gang-transmissie of ’n palwissel-transmissie (CVT).

 

6-gang-handratkas

 

Twee 6-gang-handrattransmissies is beskikbaar – een vir die 2,0ℓ-petrolenjin, en die ander vir die 2,2ℓ-D-4D-dieselweergawes. Laasgenoemde gebruik ’n drievoudige keëlsinchroniseerder vir die 1e tot 3e ratte, en ’n dubbelkeël-sinchroniseerder vir 4e rat, wat minder wisselkrag vereis om ’n gladder ratwisseling te bied.

 

Outomatiese 6-gang-transmissie

 

Die outomatiese 6-gang-Super ECT (elektronies beheerde dryfas) wat in die 2,5ℓ-petrolenjin beskikbaar is, is vir hoë ryverrigting en lae brandstofverbruik ontwerp.

 

Dié transmissie, wat wisselpedale aan die stuurwiel vir outo-, handrat- en sport-werking het, het kunsmatige intelligente beheer (AI SHIFT), wat wisselpatrone outomaties by die bestuurder se manier van ry en padtoestande aanpas.

 

Dié weergawe het ook volledige vasslaanbeheer in tweede rat en hoër, wat dit moontlik maak om veranderinge in enjinuitset soos in die geval van ’n handratkas regstreeks op die dryfas oor te dra, sowel as terugwisseling waar die enjintoere vinnig opgejaag word om ’n gladder, meer innemende ry-ervaring in die handrat- en sport-modusse te bied.

 

Palwissel-transmissie (CVT)

 

Multidrive S isToyotase gerekende palwisselende veranderlike transmissiestelsel wat ook in die nuwe Verso aangetref word. Dié stelsel lewer ’n oneindige aantal ratverhoudings aan die hand van twee keëlvormige katrolle en ’n hoësterkte staalband, en sorg vir ’n ongelooflik gladde, naatlose ry-ervaring in die tweewielaangedrewe 2,0ℓ-petrolweergawe.

 

Aangesien die transmissie die mees doeltreffende enjinspoed teen enige gegewe voertuigspoed behou, word lae ry-geraas met min CO2-uitlaatgasse en goeie brandstofdoeltreffendheid gekombineer, dog ditkan ook die volmaakte verhouding vir hoë krag en maksimum verrigting lewer.

 

’n ‘Sport’-knoppie sorg vir lewendiger ratverhoudings wat die enjin se hoogste kraglewering benut en ’n meer innemende ry-ervaring bied. Die transmissie pronk ook met sekwensiële 7-gang-handratwisseling, waar die rat óf deur die ratkierie of wisselpedale aan die stuurwiel gekieskanword. As die ratkierie in die ‘D’-posisie is,kandie bestuurder ook die wisselpedale gebruik om die outomatiese werking tydelik ter syde te stel.

 

2013 Toyota RAV4 VX

Ryverrigting

 

  • Groter rompstewigheid ten gunste van beter hanteringstabiliteit en verbeterde stuurreaksie
  • Heringestelde voor- en agtervering en hersiene elektriese kragstuur ten gunste van beter stuurgevoel en presisie
  • Geïntegreerde dinamiese aandrywing – opgegradeerde aandrywing deur al vier wiele met Sport-modus vir ratser padgedrag

 

Agtereenvolgende weergawes van die RAV4 het ’n reputasie vir ritgemak, rygemak, maneuvreerbaarheid en gerusstellende vermoë op uitdagende padoppervlakke opgebou. Die nuwe RAV4 bou tesame met ’n nuwe, gemakliker en meer gefokusde ryposisie voort op hierdie kerneienskappe danksy heringestelde voor- en agtervering, hersiene elektriese kragstuur (EPS), en nuwe geïntegreerde dinamiese aandrywing wat in al die modelle met aandrywing deur al vier wiele aangetref word. Daarbenewens gee hierdie ontwikkelings die nuwe RAV4 beter stabiliteit wat hom ratser op nat en droë paaie maak en klante van ’n meer intuïtiewe en innemende ry-ervaring wat vertroue inboesem voorsien.

 

Die nuwe RAV4 is nou ook met afdraande-beheer sowel as opdraande-wegtrekbeheer beskikbaar. Afdraande-beheer, wat deel van die 2.5 VX-model se standaard-toerusting is, kies outomaties die regte rat, en beheer die enjinspoed en die ABS-remstelsel se remvermoë vir individuele wiele om die bestuurder te help om ’n konstante spoed teen afdraandes op die pad of in die veld te handhaaf.

 

Samestelling van die romp

 

Die gebruik van hoësterkte en ultrahoësterkte staal vir die samestelling van die romp maak die gebruik van dunner plate moontlik sonder dat enige rompstewigheid verlore gaan, wat tot minder gewig en beter brandstofekonomie lei.

 

Dit is meer omvattend in die nuwe RAV4 toegepas, wat strategiese liggings soos die versterking waar die tussenkap aan die A-pilare geheg is, die agteras-monterings en die agterste kronkelveersteunpunte aan die bokant van die vere insluit. Rompstewigheid is deur ’n toename in die aantal kolsweispunte om die voor- en agterdeure vergroot, wat stuurreaksie en wringstewigheid verbeter het.

 

Heringestelde voorste en agterste veerstelsels

 

Die nuwe RAV4 het dieselfde MacPherson-stuttipe voorvering en ligte dubbelmik-agtervering met sleeparms as wat in sy voorganger aangetref is. Die twee stelsels is egter hersien om ritgemak te bevorder en stuurgevoel te verbeter.

 

Die veringtempo van die voorvering is hersien. Die stywer stabiliseermonteerstuk vir die voorvering bied ’n gladder stuurgevoel wanneer die voertuig draai. Wrywing in die binne-struktuur van die skokbreker is verminder, wat ’n bydrae tot ’n beter stuurgevoel sowel as beter ritgemak gelewer het, terwyl die eienskappe van die balanseerstaaf-busse optimaal ontwikkel en die wrywing aan hul binnekant danksy die gebruik van ’n fluoorbedekking verminder is.

 

Soortgelyke maatreëls is vir die agtervering ingespan. Die veringtempo is hersien, en die deursnit van die balanseerstawe is vergroot om die rolstewigheid tussen die voor- en agterkante meer eweredig te verdeel. Die agterste skokbreker- en rolstaaf-busse het munt uit dieselfde behandeling as dié van die voorvering geslaan.

 

Hersiene elektriese kragstuur (EPS)

 

Die montering en die elektroniese beheereenheid (ECU) van die elektriese kragstuurstelsel (EPS) is hersien om die gemakliker ryposisie met groter stuurpresisie en ’n beter stuurgevoel te kombineer.

 

Die stuurkolom is met een graad verlaag, terwyl die monteerhoek van die nuwe stuurwiel van 27,6 na 25,3 grade verander is, wat dit nader aan die bestuurder bring.

 

Die elektriese beheereenheid (ECU) en elektriese kragstuur (EPS) is geïntegreer om die voertuig se gewig te help verminder, terwyl die gebruik van ’n hars-bedekte skag en hersiene sagteware die stuurpresisie en stuurgevoel verbeter het.

 

Geïntegreerde dinamiese dryfstelsel

 

Die nuwe RAV4 is beskikbaar met voorwielaandrywing (2.0) of die geïntegreerde dinamiese dryfstelsel (2.2 en 2.5), ’n opgegradeerde weergawe vanToyotase gevorderde tegnologie vir aandrywing deur al vier wiele, met ’n nuwe Sport-modus.

 

Die geïntegreerde dinamiese dryfstelsel is ’n gesofistikeerde en interaktiewe hoëspoed-beheerstelsel wat die RAV4 se dinamiese wringkragbeheer van die dryfstelsel vir al vier wiele, voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) en elektriese kragstuur (EPS) koördineer om die kompakte sportnuts se verrigting, hantering en veiligheid te verbeter.

 

Die dinamiese wringkragbeheer van die dryfstelsel vir al vier wiele gebruik inligting van verskillende sensors (spoed, stuurhoek en giertempo) om die wringkrag-oordrag tussen die voor- en agterwiele aan die hand van ’n elektromagnetiese koppeling voor die agterste ewenaar te beheer. Die wringkragverdeling tussen die voor- en agteras kan van 100:0 tot 50:50 wissel, waar suiwer voorwielaandrywing (100:0) outomaties onder gewone rytoestande gekies word om brandstofverbruik te verbeter.

 

Wanneer die stelsel sonder die Sport- of Sluit-modusse gebruik word, word wringkrag nie net na die agterwiele oorgeplaas wanneer die voorwiele op gladde oppervlakke begin gly nie (soos in die geval van die derdegenerasie-RAV4 nie) maar ook wanneer die stelsel stuurtraagheid in ’n draai op gewone paaie bespeur. Die gevolg is dat die algehele ratsheid en ryverrigting van die voertuig op gewone paaie en in die veld verbeter.

 

As die nuwe Sport-modus aangeskakel is, begin die oordrag van wringkrag na die agterwiele selfs nog voordat stuurtraagheid begin ontwikkel. Die dinamiese wringkragbeheerstelsel vir aandrywing deur al vier wiele begin werk die oomblik dat die stuurwiel gedraai word, en maak outomaties gebruik van ’n 90:10-verdeling tussen die voor- en agterkant om draaiwerk te vergemaklik deur wringkrag na die agterwiele te stuur.

 

As stuurtraagheid dan werklik ontwikkel, word die oordrag van wringkrag na die agterwiele outomaties deur ’n nuwe giertempo-terugvoerbeheer tot 50% vermeerder om die voorbande met beter sydelingse klouvermoe te help. Die nuwe Sport-modus aktiveer die dinamiese gedrag van die stelsel se oordrag van voor na agter en verminder terselfdertyd die RAV4 se kragstuurhulp met 20%, verskerp die versneller-reaksie en gee hoër enjintoere om ’n meer dinamiese en sportiewe ry-ervaring te bied.

 

Die stelsel het ’n wringkrag-sluitknoppie vir ernstiger veldrywerk. Dit stel die bestuurder in staat om die wringkrag in ’n vasgestelde verhouding van 50:50 teen snelhede tot 40km/h te sluit. Die stelsel keer outomaties na die gewone modus terug wanneer dié snelheid oorskry word.

 

Van geïntegreerde Active-dryfstelsel na geïntegreerde Dynamic-dryfstelsel

 

Die derde generasie van die RAV4 het ’n geïntegreerde aktiewe dryfstelsel gehad waar die wringkrag deur ’n aktiewe wringkragbeheerstelsel vir aandrywing deur al vier wiele beheer is. Die nuwe RAV4 maak nou van ’n dinamiese wringkragbeheerstelsel vir aandrywing deur al vier wiele gebruik.

 

Die nuwe RAV4 behou die volgende eienskappe:

–              Wegtrekbeheer: klouverrigting wanneer die voertuig op nat of modderige oppervlakke wegtrek, word verseker deur die wringkragverdeling na die agterwiele tot 50% te verhoog. Die stelsel skakel teen snelhede hoër as 25km/h outomaties na die gewone patroon oor.

–              Gewone patroon: die wringkragverdeling na die agterwiele word op hoofpaaie en stedelike paaie tot 0% verminder om brandstofdoeltreffendheid te verhoog. Wanneer die stelsel gladde oppervlakke bespeur waar die wiele begin gly, word wringkragbeheer oombliklik in werking gestel om stabiliteit te bewerkstellig.

–              VSC-beheer: As die voorwiele gly en die voertuig begin wegbeweeg van wat die stelsel as die bestuurder se voorgenoeme roete identifiseer, help die EPS-stelsel met die draairigting (deur wringkrag na die stuurwiel te stuur om die bestuurder die regte pad te “wys”), terwyl enjinwringkrag na die agterwiele gestuur word.

–              Rembeheer: AWD word gekanselleer om die uitwerking van die ABS- en VSC-stelsels te verhoog.

–              Sluitbeheer: Altesaam 50% van die beskikbare wringkrag word na elke as gestuur sodra die bestuurder die skakelaar druk ten einde veldryverrigting in situasies soos wanneer die voertuig vasgeval het, te verbeter.

 

Nuwighede bykomend tot hierdie vyf modusse:

–              Draaibeheer: Terugvoerbeheer van die giertempo (stertswaai-beweging) word gebruik om die wringkrag na die agterwiele aan te pas om draaiverrigting te ondersteun deur die beste moontlike dryfkragverdeling en balans tussen die voor- en agterwiele te handhaaf.

As die Sport-modus geaktiveer is, sal 10% van die wringkrag van die oomblik dat die eerste stuurinset gelewer word, voor ’n draai na die agterwiele gestuur word en in die draai tot 50% vermeerder kan word om stabiliteit en entoesiastiese bestuursgedrag te verseker. Die geïntegreerde dinamiese dryfstelsel help die bestuurder met draaibeheer om op sy voorgenome pad te bly en lewer op die ou einde ’n meer genotvolle ry-ervaring.

 

Gemak

 

  • Omvattende maatreëls om geraas, vibrasie en grofheid regdeur die nuweling se enjinruim te verminder, lei tot stiller kajuit
  • Two modelgraderings en ’n omattende lys standaard-toerusting

 

Minder geraas, vibrasie en grofheid (NVH)

 

Die nuwe RAV4 behels ’n rits maatreëls wat ingespan is om die oordrag van enjingeraas en
-vibrasies na die kajuit te onderdruk, wat tot ’n baie stiller kajuit vir al die insittendes gelei het. Omvattende verbeterings is ingevolge die nuwe enjinruim-ontwerp aangebring om die klankdigtingseienskappe van die voorpaneel, klankdempers in die voor- en agterkante van die voorpaneel, en die tussenkap- en enjinkap-isoleerders te verbeter om die oordrag van enjingeraas na die kajuit te verminder.

 

Bykomende klankdigtingsmateriale is op die beste plekke regdeur die nuwe RAV4 aangebring. Dit sluit in skuimmateriaal in die kajuitpilare sowel as in die drumpels en kopseksies om die oordrag van geraas deur die romp te beperk. Klankdigtingsmateriaal wat onder die vloer sowel as die binnekante van die voorste en agterste modderskerms gespuitverf is, help ook om die oordrag van geraas te verminder.

 

Geraas word ook verminder deur die gebruik van ’n akoestiese windskerm wat ’n bykomende laag klankdigingsfilm het om die oordrag van geraas te beperk. Die aerodinamiese vorm van die buite-truspieëls in die deure help ook om windgeraas te verminder.

 

Talle maatreëls is ook getref om die oordrag van vibrasies na die kajuit te beperk. Romppanele wat ’n geraas kon maak, is van vibrasiewerende panele voorsien, die voorste en agterste veringmonteerpunte is versterk, en die vorm van die stuurkneukels is verfyn om die vibrasie-eienskappe van die voorvering te beperk en padgeraas sodoende te verminder.

 

Twee keuses vir binneruimtoerusting

 

Die nuwe RAV4 se binneruimtoerusting (GX en VX) behels ’n omvattende lys. Die GX-modelle is alles behalwe suinig toegerus en pronk met buite-kenmerke soos dakrelings, 17”-allooisierwiele, en dagligryligte (DRL). Die enigste verskil aan die buitekant tussen die tweeliter-modelle en die 2.2 D-4D is die toevoeging van ingeboude misligte vir die diesel.

 

Die vlagskip-VX-weergawe kry ’n chroominsetsel in die voorste buffer, modderklappe voor en agter, elektries terugtrekbare buite-truspieëls, ’n glasdak watkankantel en oopskuif, en hoësterkte kopligte (HID) met ’n ingeboude skoonmaker.

 

Die weelde duur voort wanneer ’n mens inklim. Die GX-modelle se standaard-toerusting sluit in elektries beheerde vensters, afstand beheerde sentrale sluiting, hand beheerde klimaatbeheer, inligtingskerm met ingeboude klankstelsel, stuurkontroles, wegvoubare bagasieruimseiltjie met ’n skermnet, en parkeerhulp aan die agterkant.

 

Die VX kry leerbekleedsel regdeur, elektries verstelbare bestuurdersitplek met laerugsteun, sitplekverwarmers vir die voorste sitplekke, outomatiese dubbelsone-klimaatbeheer, truratkamera-skerm, elektries beheerde stertdeur met geheuewerking, spoedbeheer en sleutellose toegang (Smart Entry).

 

Veiligheid

 

Die nuwe RAV4 bou voort op die hoë gehaltestandaarde vir die beskerming van sy insittendes en voetganger-impakbeskerming wat oor drie generasies van die kompakte Toyota-sportnuts ontwikkel en tot nog beter aktiewe en passiewe veiligheidseienskappe verfyn is. Die nuwe RAV4, wat ’n impakabsorberende rompsamestelling het waarlangs botsenergie in verskillende rigtings opgeslurp word, is van meet af ontwikkel om ’n vyfster-gradering in die 2013-Euro NCAP-botstoetsprogram los te slaan.

 

Die nuwe Toyota-sportnuts is van nuwe sweepslagwerende sitplekke en sewe lugsakke as deel van sy standaard-toerusting voorsien, wat ’n knielugsak vir die bestuurder en dubbelkamer-kantlugsakke vir die voorste sitplekke insluit.

 

 

Aktiewe veiligheidstelsels sluit in toerusting soos sluitwerende remme (ABS) met elektroniese remkragverdeling (EBD), noodremhulp (BA), voertuigstabiliteitsbeheer (VSC) en kloubeheer (TRC), terwyl die modelle met aandrywing deur al vier wiele as deel van hul standard-toerusting ook VSC+ het, wat VSC en die voertuig se elektriese kragstuurstelsel (EPS) kombineer.

 

Bybehore

 

Baie RAV4-klante waardeer die bybehore wat virToyotase kompakte sportnuts beskikbaar is en waarmee hulle hul rygoedkanombou. Die uitgebreide reeks bybehore, wat deur die amptelike handelaarsnetwerk verkoop word, sal betyds vir die bekendstelling van die nuwe motor beskikbaar wees.

 

Dit wissel van matte en laairuimbedekkings tot voorkantskerms (wat ’n ingeboude silwer skerm vir die onderkantg insluit) en verwyderbare trekstange.

2013 Toyota RAV4 VX

 

Pryse

 

–       RAV4 2.0 2WD GX 6-gang-handrat R279 900 (BTW ingesluit)

–       RAV4 2.0 2WD GX CVT R289 900 (BTW ingesluit)

–       RAV4 2.2 D-4D AWD GX 6-gang-handrat R359 900 (BTW ingesluit)

–       RAV4 2.5 AWD VX 6-gang-outomaties R399 900 (BTW ingesluit)

 

Die nuwe RAV4 het ’n fabriekswaarborg van drie jaar/100 000km en word deur ’n diensplan vir vyf jaar of 90 000 km gedek. Die nuwe modelle word ook deur die ToyotaCare-padhulpdiensprogram gedek, waar klante 24 uur per dag te hulp gesnel sal word om algehele gemoedsrus te verseker.

Posted on by jonckie

Comments Off on RAV4 -Die evolusie van die oorspronklike kompakte sportnuts