Castrol Toyotas 3rde en 4rd in Nkomazi 400-Veldren in Mpumalanga

Duncan Vos en Robert Howie

  • Private Toyota-jaers wen Klas D
  • Toyota wen vervaardigerspanprys

Die Castrol-Toyota-jaers Duncan Vos en Rob Howie en hul spanmaats Anthony Taylor en Dennis Murphy het hul Klas SP Toyota Hilux 4×4-veldrenmotors in die derde en vierde plekke in die eerste Nkomazi 400-veldtydren wat Saterdag in Malalane in die Mpumalanga-laeveld geëindig het, oor die wenstreep gestuur.

Die tweede ronde van die Suid-Afrikaanse Donaldson-veldtydrenkampioenskap is deur die voormalige kampioene Chris Visser en Japie Badenhorst (Ford Ranger) gewen, terwyl Gary Bertholdt en Siegfried Rousseau (Toyota Hilux) die naaswenners was.

Die plaaslike gemeenskap in Nkomazi, wat Malalane insluit en deur die Krokodilrivier van die Nasionale Kruger-wildtuin geskei word, het in hul duisende opgeruk om die ren te ondersteun. Die byeenkoms het in ongewone bewolkte en matige toestande vir dié tyd van die jaar plaasgevind.

Die plaaslike Toyota-handelaar, Malalane Toyota, het ’n groot rol in die aanbieding van die ren in die omgewing gespeel, en dit was uiteindelik een van die beste rennaweke wat nog deur die veldtydrengemeenskap geniet is.

Die vyf Toyota Hilux 4×4’s in die voorste ses – Johan van Staden en Mike Lawrenson was vyfde en Malcolm Kock en Johan Burger sesde – het Toyota die tweede agtereenvolgende keer die vervaardigersprys besorg.

Toyota het ook Klas D gewen toe Jason Venter en Vincent van Alleman die wenstreep by die Riverview-laerskool in die negende plek algeheel in hul Hilux oorgesteek het.

Pap bande vir al twee die Castrol-Toyota Hilux 4×4’s het ’n moontlike 1-2-uitslag in Vrydag se voorren oor 66 kilometer, waarin die wegspringvolgorde bepaal is, verhinder. Vos en Howie, die verdedigende nasionale produksievoertuigkampioene, was uiteindelik vierde, en hul spanmaats Taylor en Murphy sewende in hierdie voorren.

“Dit was ’n baie knap en ietwat tegniese roete, met min geleentheid om stadiger jaers verby te steek,” het Vos gesê. “Die roete was aan die begin baie stowwerig, en gladde oppervlakke, modderkolle en vroegoggend-mis het alles saamgewerk om dit moeiliker te maak. Ons het ’n skoon lopie gehad en moet in die omstandighede met ons derde plek tevrede wees.”

Taylor het dit só gestel: “Dit was ’n baie aangename byeenkoms met ’n roete wat vir almal nuut en onbekend was, wat baie interessant en uitdagend was. Dit sou uit ons sewende wegspringplek maar moeilik gewees het om tot onder die voorste drie op te skuif, en die jaers wat voor ons was, het almal ’n goeie dag gehad. Ons het so hard as wat ons in die omstandighede kon gejaag, en is baie tevrede met die feit dat ons teen die einde drie plekke opgeskuif het.”

Die volgende ronde van die kampioenskap is die Toyota-Sugarbelt 400-handelaarsveldren die naweek van 17 en 18 Mei.

Toyota Motorsport gee erkenning aan sy borge, amptelike spesialis-verskaffers en tegniese vennote:

Toyota het ’n wedersydse borgskapsverhouding met Castrol, Toyota Finansiële Dienste, die Imperial Toyota-groep, die Innovation-groep, Bosch, Donaldson, Edgecam, Ferodo, NGK, SKF en Spanjaard.

Volg al die opwinding en gebeurlikhede van die Castrol/Toyota-veldrenspan op Twitter by www.twitter.com/toyotasa.

Anthony Taylor en Dennis Murphy

Posted on by jonckie

Comments Off on Castrol Toyotas 3rde en 4rd in Nkomazi 400-Veldren in Mpumalanga