Auris HSD- Die nuwe maatstaf in groen motorry

Toyota is besig om die manier waarop mense ry, met sy ontluikende reeks hibriedmotors – alles van die ikoniese Prius tot die super-suinige Yaris HSD – te verander. ’n Hardnekkige mite wat egter om omgewingsvriendelike motors bly voortbestaan, is oor hul kraglewering. Toyota het hom hierop ‘ingestel’ en aan die hand van gevorderde elektroniese stelsels vir die volmaakte balans tussen verrigting en doeltreffendheid in antwoord op die bestuurder se behoeftes, hierop gereageer.

’n Goeie voorbeeld is die splinternuwe Auris HSD (hibried-sinergie-aandrywing) wat pas in Suid-Afrika bekend gestel is. Hierdie jongste ekovegter, wat by Toyota se vervaardigingsaanleg in die VK gebou word, se verwagte verkopemengsel sal nagenoeg een derde volhibriedmotors wees. Die nuwe Auris-hibried, wat die beste in sy klas vaar wat uitlaatgas (net 87 g/km) betref en byna geen stikstofoksied of stofdeeltjie-uitlaatgas vrylaat nie, pronk met groot eienaarskoste-voordele danksy die laer belasting in talle Europese lande, sowel as laer uitgawes vir versiening en instandhoudingskostes.

Maar soos Kerry Roodt, Hoofbestuurder van Bemarkingskommunikasie, dit stel, bied die nuwe model ook soveel meer: “Die Auris HSD maak groot inbreuk op Toyota se posisie as die maatstaf vir groen motorry deur die soort verfyning, praktiese bruikbaarheid, verrigting en bekostigbaarheid te bied wat dié van gewone petrol- en dieselaangedrewe motors oortuigend die hoof bied. Dit stuur die nuweling ook na die voorste linie as hoofstroom-model wat vir die grootste moontlike gehoor toeganklik is.”

Hibried-spesifieke buite-ontwerp

Die Auris-hibried pronk met dieselfde dinamiese buitekant-stilering en omvattende herontwerpte binneruim as wat in die nuwe Auris bekend gestel is. Die hibried-modelle gaan egter (in die geval van die middelslag-XS-beslag en in hoëgraadse XR-gewaad) ’n entjie verder deur unieke detailstilering om hulle as die vlagskipmodelle in die reeks te identifiseer.

Die onderste deel van die sierrooster en die lugvloeiverspreier aan die onderkant van die agterste buffer is byvoorbeeld in ’n hibried-eksklusiewe grafietkleurige metaalvlokkieverf afgerond, terwyl die Toyota-kentekens op die enjinkap en bagasieruimdeksel hibried-blou is. Die voorste modderskerms het ook hibried-kentekens, terwyl die agterste kombinasieligte ligdiodes het, wat net in die hibried-model aangetref word.

Die Auris-hibried het ook spesiale sierwiele wat vir dié vlagskipmodelle ontwerp is – 15” silwer vir die XS en 17”-grafiet vir die XR.

Hibried-spesifieke binneruim-ontwerp

Al twee die hibried-modelle slaan uit die aard van die saak munt uit dieselfde splinternuwe binneruim-ontwerp wat deur meer ruimte, groter gemak en beter voelbare gehalte gekenmerk word, insluitende die omvattende gebruik van leer en materiale wat sag voel.

Die herverpakking van die battery onder die agtersitplek beteken dat die bagasieruim nou dieselfde as in die ander modelle in die reeks is (’n stewige 360 liter – die beste in sy klas).

Die Auris-hibried het ’n eksklusiewe ontwerp vir sy meters en die ekorymeter in die instrumentehuisie, ’n hibried-blou elektroniese ratkierie en hibried-eksklusiewe versiering vir die instrumentepaneel.

Die XS-weergawes het vooraanstaande doekstofbekleedsel en ’n hibried-blou geborselde aluminium-afwerking vir die instrumentepaneel, terwyl die hoëgraadse XR-modelle met ysgrys-leerinsetsels op die voorpaneel sowel as leerbekleedsel regdeur pronk.

Verbeterde rydinamika

Die hele Auris-reeks (insluitende die hibried-modelle), wat Toyota se verbintenis tot die dinamiese verbetering van sy voertuie versterk, is ontwerp om die bestuurder van ’n meer innemende ervaring te voorsien. Hier is ’n opsomming van sekere van die onderstel-hersienings wat tot sy nuutgevonde hanteringsvaardighede gelei het:

• Ligter, strammer romp met ’n laer swaartekragmiddelpunt wat tot beter hantering en groter rygemak lei
• Hersiene vering wat gemak verhoog en stabiliteit verbeter (nog beter nuus vir die HSD-weergawes)
• Verbeterde elektriese kragstuurstelsel wat lewendiger terugvoer, vinniger reaksie en groter bestuursgenot bied
• Beter NVH-maatreëls (geraas-, vibrasie- en grofheid) om enjin sowel as padgeraas te bekamp

Nog iets wat die Auris-hibriedmodelle onderskei, is die gebruik van dubbele mikvere vir die agterste vering. Hierdie stelsel is hersien en behels verbeterde sleeparm-busse en nuutontwikkelde kronkelvere en skokbrekers wat net soos dié aan die voorkant ’n kleiner veertempo en beter demp-eienskappe het. Hierdie verbeterings het alles saam tot verbeterde rygemak, stabiliteit en hantering gelei.

Volwaardige hibriedstelsel-verrigting

Een ding wat ’n hibried-model kan doen, is om ontsaglike hoeveelhede trekkrag te lewer. Om die nuwe Auris HSD se dryfstelsel voor te stel – dink aan die elektriese motor as ’n energie-hupstoot vir die petrolenjin. Die elektriese motor ontwikkel op sy eie ’n stewige 207 Nm se wringkrag, wat die 142 Nm wat die petrolenjin teen 4000 r/min ontwikkel, aanvul.

Die HSD-stelsel, wat onafhanklik of saam ingespan kan word, se VVT-i-petrolenjin van 1,8ℓ en sy elektriese motor sorg vir maksimum-kraglewering van 100 kW, wat die Auris-hibried in 10,9 sekondes van 0 – 100 km/h tot ’n topspoed van 180 km/h laat versnel.

Die Auris-hibried se merkwaardige min CO2-uitlate het danksy die motor se verbeterde lugdinamiese verrigting en laer gewig van hierdie nuwegenerasiemodel met 2 g/km tot 87 g/km (met 15”-wiele) verminder. Daarbenewens stel die Auris-hibried byna geen stikstofoksied en stofdeeltjie-uitlaatgas vry nie.

Die Auris-hibried stel ook geen koolstofdioksied-, stikstofoksied- of stofdeeltjie-uitlaatgas vry wanneer suiwer elektriese aandrywing (wat nie in gewone hibriedvoertuie aangetref word nie) gebruik word nie. Dié modelle kan (onderhewig aan die lading en rytoestande) tot twee kilometer ononderbroke teen snelhede tot 50 km/h op suiwer elektriese aandrywing ry.

Die Auris-hibried se dryfstelsel is spesifiek ontwerp om die behoefte aan die petrolenjin so veel as moontlik in stadsverkeer uit te skakel. Toyota se eie toetsdata dui daarop dat die saamgestelde volhibriedwerking tot groot dele uitlaatgaslose motorry lei.

Verbeterde hibried-sinergie-aandrywing – ’n selfs nog meer oortuigende proposisie

Die beheerlogika van die HSD-stelsel se naatlose palwissel-transmissie (CVT) is aangepas en bied ’n nog gladder, meer natuurlike versnellingsgevoel met ’n nouer verhouding tussen voertuigspoed en enjintoere.

Gevorderde enjintegnologiese verbeterings sluit in ’n verkoelde gashersirkuleringstelsel (EGR), ’n elektriese waterpomp en verminderde suierringspanningskrag, terwyl die hulpmiddeldryfband uitgeskakel en die oliepomp-inhoudsvermoë vervolmaak is.

Dié Atkinson-siklus-enjin bied in samewerking met ’n verkoelde EGR-stelsel aansienlike voordele op die gebied van brandstofekonomie en verminderde uitlaatgasse.

Die samepersing- en uitsettingsfases in die Atkinson-siklus is oneweredig, en die inlaatklep maak laat toe, wat samepersing vertraag. Dit skep ’n hoë uitsettingsverhouding wat minder samepersing verg en die ontbrandingsenergie meer doeltreffend in enjinkrag omskakel. Die gevolg daarvan is ’n laer uitlaatgastemperatuur as dié van gewone enjins. Die verkoelde EGR-stelsel stuur verkoelde uitlaatgas terug na die inlaatstelsel, wat die enjin koeler hou.

Die gebruik van ’n elektriese waterpomp verbeter die enjin se opwarmingsverrigting en verminder verkoelingswrywingverlies, wat brandstofdoeltreffendheid verbeter. Die afwesigheid van ’n dryfband vir hulpmiddels verminder wrywing, wat brandstofekonomie nog verder verbeter.

Die verkoelingsluginlaat is danksy die herverpakking van die batterye onder die agtersitplek van die kante van die sitplekke na die gedeelte onder die sitplekke verskuif. Dit sorg vir ’n laer luginlaattemperatuur, wat die batterye koeler hou en doeltreffendheid verbeter. En moenie vergeet dat die bagasieruimte nou presies dieselfde as dié van die petrolenjin-modelle is nie.

Eenvoudige intelligente parkeerhulp (SIPA)

Die nuwe Auris HSD het ’n eenvoudige intelligente parkeerhulpstelsel (SIPA) as deel van die standaard-toerusting van die XS- en XR-weergawes, terwyl die stelsel makliker en aansienlik vinniger is om te gebruik.

Die stelsel gebruik klanksensors op die hoeke van die voorste en agterste buffers om beskikbare parkeerruimte te bepaal. Die stelsel sal dan die korrekte stuurhoeke inspan om die voertuig in die parkeerruimte te kry. Die bestuurder hoef net die voertuig se spoed te beheer.

Gevorderde toerusting vir hibried-modelle

Die nuweling is in pas met die hibried-reeks se vlagskipstatus in die modelreeks toegerus, en selfs die XS-model het baie om mee te pronk. Soos reeds genoem het die XS- sowel as die XR-weergawes ’n hibried-spesifieke voorste lugskort, daglig-ryligte sowel as voorkant-misligte. Die XR-modelle word verder met ’n panoramiese glasdak (met elektries beheerde sonskerm), privaatheidsglas vir die agterste kantvensters en grafietkleurige 17”-allooisierwiele opgekikker.

Hibried-spesifieke binneruimafwerking sluit in outomatiese lugversorging, raakskerm-klankstelsel met Bluetooth, vertoonskerm met unieke hibried-instrumente waaronder blou agtergrondbeligting, trurat-kamera, stuurwiel-skakelaars, leerbedekking vir die stuurwiel, Toyota se Smart Entry-stelsel, elektrochromatiese truspieël, reënsensors vir die ruitveërs, en ’n spesiale metaalvlokkie-afwerking vir ’n voorpaneelinsetsel in die XS-modelle.

Die XR-weergawes brei die begrip vir standaard-toerusting nog verder uit danksy lekkernye soos afsonderlike temperatuurkontroles vir die bestuurder en voorste passasier, verhitte voorsitplekke met elektries verstelbare laerugsteun vir die bestuurder, ’n drukaansitter-stelsel, spoedbeheer en doelgemaakte ysgrys-leerbekleedsel.

’n Ware waarde-proposisie

– Auris HSD XS: R297 900 (BTW ingesluit)
– Auris HSD VR: R323 100 (BTW ingesluit)

Die volhibried-battery, wat omvattend vir verrigting en duursaamheid beproef is en deur 14 jaar se ervaring ondersteun word, is ontwerp om vir die motor se leeftyd te hou. Die nuwe Auris-hibried word gedek deur ’n waarborg van drie jaar/100 000 km, wat vir hibriedkomponente tot agt jaar/195 000 km, wat die battery insluit, verleng is. Die HSD-reeks het net soos die ander Auris-modelle ’n diensplan van vyf jaar/ 90 000 km. Die nuwe modelle word ook gedek deur die ToyotaCare-padhulpprogram, wat eienaars padhulp 24 uur per dag bied om volmaakte gemoedsrus te verseker.

Posted on by jonckie

Comments Off on Auris HSD- Die nuwe maatstaf in groen motorry