Aandag word gegee aan speeloppervlak in die Vrystaat Stadion

Om die speel oppervlak in die Vrystaat Stadion in die beste moontlike kondisie, binne die beskikbare begroting, te hou, is dit nodig om die gras op die veld een maal per jaar oor te saai. Die Toyota Cheetah span is tans op toer in Australië en Nieu Seeland en daar is vir hierdie tydperk ook geen sokker wedstryde wat in die stadion gespeel word nie en daarom is daar vandag begin met die voorbereiding van die veld.

Die speel oppervlak het die afgelope jaar meer rugby en sokker wedstryde as in die verlede gedra, siende dat die Bloemfontein Celtic span tans al hulle tuiswedstryde in die Vrystaat Stadion speel. Die Toyota Cheetahs beskik ook huidiglik nie oor ‘n alternatiewe oefenveld en al die spanne oefen om die beurt hier.

Buitengewone hitte en weersomstandighede en die hoeveelheid voete op die veld het veroorsaak dat die speeloppervlak gekompakteer geraak het en in ‘n swakker toestand as gewoonlik is. Hierdie is nou die eerste geleentheid sedert Junie 2012 dat die veld oorgesaai kan word.

Pretty Gardens, wat gekontrakteer is om na die veld om te sien, gaan hierdie week die veld in totaliteit oordoen en is van mening dat teen die tyd dat die Toyota Cheetahs terugkeer van oorsee, die veld weer op standaard en mooi sal wees.

Posted on by jonckie

Comments Off on Aandag word gegee aan speeloppervlak in die Vrystaat Stadion