Toyota Suid-Afrika Motors betreur die afsterwe van een van sy stigterslede

Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) betreur die afsterwe van een van sy stigterslede, Jan de Necker, wat verlede week in die ouderdom van 93 in die Paarl, Wes-Kaap, dood is.

Mnr. De Necker was ’n bekende en geliefde lid van die Toyota-familie. Hy het as goeie vriend en sakevennoot van die Toyota-stigter, dr. Albert Wessels, ’n sleutelrol gespeel om Toyota na Suid-Afrika te bring. Dit is duidelik te bespeur in die wyse waarop hy gehelp het om ’n vergadering tussen Dr. Wessels en Toyota in Japan te reël en hom bygestaan het, en die grondslag vir ’n invoerpermit deur die destydse Suid-Afrikaanse regering gelê het. Mnr. De Necker was in der waarheid die person wat die finale stigtingskontrak van Japan vervoer het.

Mnr. De Necker en Dr. Wessels het as sakevennote en vertrouelinge gesamentlik die SA Finansieringskorporasie (Sasficor) sowel as Sasbank, Bonuskor en natuurlik Toyota Suid-Afrika op die been gebring.

“Jan het onlangs nog ons vyftigste verjaarsdag in Suid-Afrika saam met ons gevier en ek is seker hy het ons vreugde gedeel toe ons vroeër vanjaar 33 jaar se markleierskap aangeteken het. Baie van hierdie sukses is te danke aan die grondslag wat hy en Dr. Wessels gelê het – nie net in die maatskappy en sy bestuurstruktuur nie, maar ook sy beleid dat die klant eerste kom en sy kultuur van innovasie en harde werk,” het Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors, gesê.

“Ons gedagtes en ons gebede is by die De Necker-familie en sy vrou, Dalenè, hul seun Pieter, dogter Sunè en hul vyf klein- en drie agterkleinkinders. Jan het tot in sy sewentigs op Toyota se direksie gedien en sy insig, wysheid en sakevernuf sal ’n groot leemte laat.”

‘n Gedenkdiens vir mnr. De Necker word gehou op Donderdag 31 Augustus om 10:00 by die Strooidakkerk in Paarl, Wes Kaap.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Suid-Afrika Motors betreur die afsterwe van een van sy stigterslede