Opgekikkerde Land Cruiser reeks beur voretoe

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie

·         Wêreld se eerste Land Cruiser 70 produksie-dubbelkajuit nou in Suid-Afrika in petrol en diesel-gewaad

·         Vierwiel-skyfremme een van die toevoegings tot die lang lys kosmetiese en meganiese veranderings

·         Brandstoftenkgroottes styg tot tussen 130 liter en 180 liter

Mense wat dit noord van die Steenbokskeerkring waag, sal sien die Toyota Land Cruiser is ’n meer algemene gesig as die Corolla – en vir goeie rede. Die onoorwinlike Land Cruiser 70-Reeks is al vir so lank as wat Toyota ’n huishoudelike naam in Suid-Afrika is, die volmaakte en rateltaai werkesel. Die LC 70-Reeks, wat ’n miljoen roetes in Suid-Afrika se veld- en vleilande oopgery en sy pad in, deur en uit myne gestoei het, deur boupersele gewroeg het en plaasroetes uitgery het, het hom die benydenswaardige reputasie vir veelsydigheid, taaiheid en betroubaarheid op die hals gehaal. Soos Kerry Roodt, Toyota Suid-Afrika se Hoofbestuurder vir Bemarkingskommunikasie, dit gestel het: “As jy die wêreld se taaiste 4×4 vir werk, sleep of uitgebreide veldrywerk wil hê, is die LC 70 net die reeks!”

Toyota se hardwerkende 70-Reeks Land Cruiser-reeks het in sy jongste gedaante pas ’n omvattende opgradering vir die 2013-modeljaar ondergaan en ’n nuwe Dubbelkajuit-weergawe bygekry. Die belangrikste veiligheidsopgradering is die gebruik van sluitwerende ABS-remme vir al die modelle, terwyl die reeks ’n magdom ander verbeterings gekry het.

Die nuwe rompvorm – die vierde lid van die eerbiedwaardige 70-Reeks tesame met die bestaande (hoewel effens hersiende) Enkelkajuit, Stasiewa en Wa (wat ook die troepedraer genoem word) – het teen die middel van Desember in vertoonlokale aangekom.

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie

Hardwerkende ‘dubbel’-skof

Die jongste toevoeging tot die Land Cruiser 70-familie spruit uit ’n werklike behoefte aan ’n voertuig wat die dravermoë van ’n bakkie by die veelsydigheid van ’n dubbelkajuit voeg.

“Die Dubbelkajuit kan vyf volwassenes in gemak vervoer sonder om sy loonvrag van een ton (920 kg vir die diesel en 1 005 kg vir die petrol-model) of die Land Cruiser se legendariese taaiheid in te boet – trouens, hy sorg vir alledaagse dravermoë op enige plek, en dit in styl,” sê Roodt.

Hoe werk dit?

Dit is kinderspeletjies om met sy onkeerbare dieselenjin van 4,2 liter, wat regdeur die reeks beskikbaar is, op die hunkering van die natuur te antwoord.

Die voertuig pronk met ’n prysenswaardige 96 kW teen 3 800 r/min en ’n wringkragtige 285 Nm teen ’n lae 2 200 r/min. Kopers het ook die keuse van die petrol-kragbron van 4,0 liter wat in die Land Cruiser 79-Enkelkajuit en -Dubbelkajuit heerlik op die oor val. Dié bielie se kraglewering kom op 170 kW teen 5 600 r/min met 360 Nm se wringkrag teen 3 800 r/min te staan.

Al die modelle het ’n ewenaargrendel, vyfgang-handratkas en vierwielaandrywing met ’n geharde laestrek-oordraratkas vir verbysterende veldryvermoë. Neem asseblief kennis dat die nuwe ABS-remstelsel in H2- en H4-aandrywing werk, behalwe wanneer die ewenaargrendels gebruik word. Die remme behels soos voorheen lugverkoelde skywe voor, maar al die 70-Reeks-modelle het ’n groot tegnologiesprong gespring en het nou ook skyfremme aan die agterkant. En terwyl ons van veiligheid praat – lugsakke vir die bestuurder en voorste passasier is nou deur die bank deel van die standaardtoerusting, en die kenmerkend verlengde voorste buffer verhinder dat die lugsakke nie onnodig gedurende harde veldrywerk ontplooi nie.

Die veerstel maak steeds gebruik van die beproefde kombinasie van draai-asse voor en agter met kronkelvere vir die voorwiele en bladvere aan die agterkant. Die vering vir die agterste vaste as verseker dat die insittendes altyd gemaklik bly. Hou in gedagte dat vere wat ten gunste van ritgehalte eerder as blote vragdravermoë ingestel is, vir die kronkel- sowel as die bladvere van die Stasiewa en Dubbelkajuit pleks van die stywer vere van die Enkelkajuit-bakkie ingespan word.

Nog iets wat in aanmerking geneem moet word, is die voertuig se indrukwekkende grondvryhoogte – die talentvolle 76-Stasiewa pronk met ’n grondvryhoogte van 230 mm, terwyl die Land Cruiser 78-Stasiewa en 79-bakkieweergawes 235 mm bokant die grond is, wat beteken hulle kan enige veldry-uitdaging selfversekerd die hoof bied.

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie

Dis nie net werk nie…

Die voertuig, wat uit die aard van die saak as meer as net ’n werkesel gesien word, het desnieteenstaande ’n gesonde skeut retro-aantrekking ook. Sy toerusting is ook nie net bloot prakties nie – benewens die onvernietigbaarheid is daar heelwat lekkernye ook. Al die modelle het byvoorbeeld kragstuur, kantelbare en teleskopiese stuurkolomverstelling, lugversorging, elektries beheerde vensters en buite-truspieëls, en ’n 12V-kragsok vir bybehore. Daarbenewens het almal nou ook afstand beheerde sentrale sluiting.

Die 76-Stasiewa is in pas met sy rol as mensedraer (vir tot vyf mense) die kwistigste van almal toegerus en pronk met binneruim-bykomstighede soos matte op die vloer, ingeboude satelliet-navigasie, en ’n stereo-klankstelsel met CD-speler en USB-sok. Die 76, wat esteties die mees verfynde van die vierstuks 70-modelle is, is in saamgestelde kleurgepaste en verchroomde mondering (buffers, sierrooster, modderskermstroke), aluminium kanttrappies en treffende sestiensduim-allooisierwiele, uitgerus. Die nuwegeslag 2013-model pronk met ’n brandstoftenk van 130 liter wat die vorige tenk van 90 liter vervang, terwyl ’n noodwielbedekking nou deel van die standaard-pakket is.

Numeries gesproke is die volgende model die geharde driedeur-78-Wa. Hierdie kanniedood-troepedraer het dubbele brandstoftenks van 90 liter elk (algehele inhoudsvermoë van 180 liter) en word nou deur twee misligte aan die voorkant onderskei.

Dan kom die 79’s – die eerste is in enkelkajuit-gewaad. Dié modelle, wat nie heeltemal so esteties as die 78 is nie, is nou met kleurgepaste en verchroomde binneruimbeslag, misligte voor en kleurgepaste modderskermstroke opgekikker. Die 79-Enkelkajuit-weergawes pronk net soos hul 78-stalmaat met ’n saamgestelde brandstoftenk van 180 liter.

Die nuwelinge in die gesin – die 79-Dubbelkajuite – word op die gebied van voorkoms van hul enkelkajuit-stalmaats deur die toevoeging van twee agterdeure onderskei, sowel as sestiensduim-allooisierwiele (kan steeds bykomstig bestel word) en die verdwyning van die modderskermstroke. As ’n mens egter binne gaan loer, sien jy die bykomende toerusting in die vorm van ingeboude satelliet-navigasie, ’n stereo-klankstelsel en USB-sok. Die Dubbelkajuite het ook ’n brandstoftenk van 130 liter.

Maak jou sommetjies

Toyota Land Cruiser 76-Stasiewa (4.2 Diesel)                           –           R506 700;

Toyota Land Cruiser 78-Wa(4.2 Diesel)                                      –           R484 000;

Toyota Land Cruiser 79-Enkelkajuit-bakkie (4.0 Petrol)           –           R417 900;

Toyota Land Cruiser 79-Enkelkajuit-bakkie (4.2 Diesel)          –           R444 800;

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie (4.0 Petrol)         –           R463 900;

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie (4.2 Diesel)        –           R487 000;

Al die nuwe Land Cruiser 70-Reeks-modelle word deur Toyota se omvattende waarborg van drie jaar/100 000 km gedek.

Hierdie modelle word ook deur die ToyotaCare-padhulpprogram gesteun, wat klante van noodpadhulp oor 24 uur vir algehele gemoedsrus verseker.

Toyota Land Cruiser 79-Dubbelkajuit-bakkie

Posted on by jonckie

Comments Off on Opgekikkerde Land Cruiser reeks beur voretoe