Corrolla Furia – Konsepmotor lig sluier oor komende nuweling

Toyota het die Corolla Furia-konsepmodel by die 2013-Noord-Amerikaanse Internasionale Motorskou in Detroit onthul.

Hierdie opwindende kompaktesedan-konsep lig die sluier oor die soort stilering wat ’n mens na verwagting in die komende nuwegeslag-Corolla* kan verwag. Die konsepweergawe se buitekant was die onderwerp van ’n ontwerpstudie deurToyotase ontwerpers, en bou voort opToyotase produkontwikkelingsvoorkeur om meer dramatiese voertuie met ’n buitengewone ontwerp te ontwikkel.

Hoewel die Corolla Furia-konsepmodel gewis net ’n konsepmotor is, is dit ’n vroeë aanduiding van waarheen Toyota sy kompaktemotor-ontwerp neem. Volgens Bill Fay, Groep-Vise-President en Hoofbestuurder van die Toyota-afdeling van Toyota Motor V.S.A, voeg dit “’n groter klem op dramatiese ontwerp en moderne elemente van gevorderde tegnologie saam om ’n motor te skep wat baie mense sal verras.”

Die Furia is gegrond op ’n tema wat “Ikoniese Dinamisme” genoem word en wat suiwer en eenvoudige oppervlak-elemente gebruik om ’n vertroude, beslissende en herkenbare voorkoms te skep wat in die smaak van jonger verbruikers sal val. Die motor is ’n meer pro-aktiewe, dinamiese vertolking van ’n kompakte sedan met ’n meer stabiele, atletiese houding. Sy negentienduim-wiele is tot in die hoeke van die motor verskuif, wat kort oorhange tot gevolg het en help om sy lang asafstand te beklemtoon.

Die Corolla Furia-ontwerp het ’n baie skuins windskerm, ’n daklyn wat agtertoe afloop, en oorbeklemtoonde modderskerms wat help om ’n sin vir beweging oor te dra wanneer die motor eintlik stilstaan. Die aggressief gevormde vooraansig, met ’n swart agtergrond vir die sierrooster, help om die twee gevormde ligdiode-kopligte te beklemtoon wat met die agterste ligdiode-ligsamestelle kombineer om ’n gevoel van gevorderde tegnologie tot die Furia se indrukwekkende ontwerp te voeg.

Koolstofvesel-insette versier die Corolla Furia-konsepmotor se wielboë, drumpelpanele, en agterskort, wat sier-uitlaatpunte het om ’n indruk moderne atletiese vermoë te skep.

Volgens Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking by Toyota SA Motors, “bied die Furia-konsepmodel die wêreld ’n skelm kykie na dít wat mense van ons volgende topverkoper-sedan kan verwag – ’n mens kan dit ’n hoëtegnologiese benadering tot klassieke Corolla-waardes noem. Dié voertuig het as een van Suid-Afrika se grootste gunstelinge nog ’n ikoniese status bereik, en daar is nog ’n tikkie selfversekerende Corolla in hierdie konsepmodel.”

*Die volgende geslag Toyota Corolla sal nié sy Suid-Afrika buiging in 2013 maak nie.

 

Toyota Corolla Furia-konsepmodel

Algehele lengte 4 620 mm
Algehele breedte 1 805 mm
Algehele hoogte 1 425 mm
Asafstand 2 700 mm
Wiele 19-duim-aluminiumallooi

Posted on by jonckie

Comments Off on Corrolla Furia – Konsepmotor lig sluier oor komende nuweling