BMW-groep en die Toyota-Motorkorporasie (TMC) verdiep samewerking met bindende ooreenkomste

Van Links: Akio Toyoda, President van TMC, en Norbert Reithofer, Voorsitter van die Bestuursraad van BMW AG tydens ondertekening van die memorandum van ooreenkoms

• Brandstofsel-stelsel, sportmotor, liggewig-tegnologie en Litium-lug-battery-medewerking gaan voort

Die BMW-groep en die Toyota-Motorkorporasie (TMC) gaan hul strategiese langtermyn-samewerking op die gebied van volhoubare mobiliteit voortsit, en het vandag bindende ooreenkomste onderteken. Dié ooreenkomste is op langtermyn-medewerking tussen die twee maatskappye gemik vir die gesamentlike ontwikkeling van ’n brandstofsel-stelsel, gesamentlike ontwikkeling van die ontwerp en komponente vir ’n sportmotor, en gesamentlike navorsing en ontwikkeling van liggewig-tegnologie. Dit volg op ’n memorandum van verstandhouding wat in Junie 2012 onderteken is.

Daarbenewens het die BMW-groep en TMC vandag ook ’n bindende ooreenkoms onderteken om navorsing in medewerking oor litium-lug-batterye, ’n nuwe battery-oplossing wat op litium-batterye volg, te doen. Hierdie ooreenkoms is die begin van die tweede fase van navorsing in medewerking in die volgende generasie litium-ioon-batteryselle wat in Maart 2012 begin het.

Die hoofpunte van die ooreenkomste is:

1. Brandstofsel-stelsel

– Die maatskappye is daarvan oortuig dat brandstofsel-tegnologie een van die oplossings is wat nodig is om uitlaatgasloosheid te behaal. Die BMW-groep en TMC gaan hul tegnologie deel en ’n grondliggende brandstofsel-voertuigstelsel ontwikkel, wat nie net uit ’n brandstofsel-stapel en -stelsel sal bestaan nie, maar ook ’n waterstoftenk, motor en battery sal insluit. Die mikpunt hiermee is om dit teen 2020 af te handel.

– Die maatskappye is van plan om saam te werk om die ontwikkeling van waterstofinfrastruktuur te assesseer en kodes en standaarde daar te stel wat vir die popularisasie van brandstofselvoertuie vereis word.

2. Sportvoertuig

Die maatskappye het ingestem om ’n lewensvatbaarheidstudie te doen om ’n gesamentlike konsep vir ’n platform vir ’n middelgrootte sportvoertuig te definieer wat teen die einde van 2013 voltooi moet wees. Die twee maatskappye is daarop uit om mekaar se tegnologie en kennis op hoë vlak saam te voeg ten einde die beste moontlike klantetevredenheid te bewerkstellig. Al twee maatskappye deel die visie om verder op die gebied van sportmotor-ontwikkeling saam te werk.

3. Liggewig-tegnologie

Die maatskappye gaan ook gesamentlik liggewig-tegnologie vir voertuigrompe ontwikkel deur hipermoderne materiale soos versterkte samestelle te gebruik. Die doel daarvan is om hierdie tegnologie in samewerking met die ontwikkeling van ’n gesamentlik ontwikkelde sportmotorplatform sowel as ander BMW- en TMC-voertuie in te span.

4. Nuwe battery-tegnologie wat op dié van litium-batterye volg

Die twee maatskappye gaan ook met gesamentlike navorsing begin met die doel om ’n litium-lug-battery met baie hoër energiedigtheid van bestaande litium-ioon-batterye te ontwikkel.

Norbert Reithofer, Voorsitter van die Bestuursraad van BMW AG, het die volgende gesê: “TMC en die BMW-groep deel dieselfde strategiese visie van toekomstige volhoubare mobiliteit. Die hele motorbedryf staar in die lig van die tegnologiese uitdagings voor ons geweldige uitdagings in die gesig, wat ons ook as ’n geleentheid beskou. Hierdie medewerking is ’n belangrike bousteen om al twee maatskappye op die paadjie na toekomstige sukses te hou.”

Akio Toyoda, President van TMC, het dit só gestel: “Dit is nou net langer as ’n jaar sedert ons ons memorandum van verstandhouding vir hierdie medewerking onderteken het, en namate ons verhouding elke dag versterk, voel ons van nuuts af hoe ons goeie vordering maak. Ons betree nou die fase wat vrugte gaan afwerp. Hoewel ons groot klem plaas op wat ons uit die samewerkingsooreenkoms leer, sal ons hard aan ons gemeenskaplike doel om immer beter motors te vervaardig, werk.”

Die BMW-groep en TMC het oorspronklik in Desember 2011 ooreengekom om ’n medium tot langtermyn medewerkingsverhouding op die been te bring om die volgende generasie omgewingsvriendelike voertuie en tegnologie te ontwikkel. Die twee maatskappye het destyds ook ’n kontrak onderteken waaronder die BMW-groep hoogs doeltreffende dieselenjins aan Toyota Motor van Europa sou voorsien. Die BMW-groep en TMC het sedertdien as vennote in die lang termyn saamgewerk om volhoubare mobiliteit vir die toekoms te bewerkstellig.

Posted on by jonckie

Comments Off on BMW-groep en die Toyota-Motorkorporasie (TMC) verdiep samewerking met bindende ooreenkomste