Toyota Suid-Afrika Motors smee kragte om veilige taxis te bevorder

Middelburg – Toyota Suid-Afrika Motors (TSAM) het vandag sy steun toegesê aan die nasionale Hlokomela-padveiligheidsveldtog wat deur die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxi-vereniging (Santaco) begin is en bedryf word.

“Operasie Hlokomela is as Santaco-inisiatief daargestel om die veiligheid van die miljoene passasiers wat ons daagliks vervoer, te verseker. Ons het die veldtog vanjaar uitgebrei om Paasnaweek ook in te sluit,” sê MJ Msiza, President van Santaco.

“Enige lewe wat in ’n ongeluk verloor word, is vir ons een lewe te veel, wat Operasie Hlokomela baie belangrik vir ons maak.”

Toyota het hom reg van die begin van hierdie padveiligheidsveldtog in 2011 by Santaco geskaar, en het ’n vloot plaaslik geboude voertuie beskikbaar gestel om veiligheidsbeamptes in staat te stel om na taxi-staanplekke regoor die land te reis om taxis te ondersoek en die vaardighede van die bestuurders te toets.

“Vanjaar was ’n baie belangrike jaar vir Toyota en die taxibedryf,” sê Dr. Johan van Zyl, President en Uitvoerende Hoof van Toyota Suid-Afrika Motors.

“Ons het in 2012 met die plaaslike vervaardiging van die Ses’fikile by ons Prospecton-aanleg in KwaZulu-Natal begin. Ons is ook die enigste taxi-vervaardiger aan wie ’n volle vyfster-gradering deur die onafhanklike taxi-assesseringsdienste (ITAS) toegeken is. Hierdie mylpale, tesame met ons steun van Operasie Hlokomela, bewys hoe belangrik die taxibedryf en die veiligheid van sy passasiers vir Toyota is.”

Operasie Hlokomela geniet die steun van die Padverkeerbestuurskorporasie, die Departement van Vervoer en al die wetstoepassingsafdelings. Toyota het vir vanjaar se veldtog tegniese en veiligheidsopleiding vir Hlokomela se veiligheidsinspekteurs voorsien en hulle toegerus om ander inspekteurs regoor die land op te lei.

Toyota het ook die tegniese en veiligheidsinspeksiedokumente wat die inspekteurs moet gebruik, opgestel. ’n Afskrif van elke verslag sal aan Toyota se ingenieurs gestuur word om dit verder te ondersoek en Suid-Afrika se gunsteling-taxi, die Toyota Ses’fikile, net nog verder te verbeter.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Suid-Afrika Motors smee kragte om veilige taxis te bevorder