Nuwe 2.5VNT Diesel-Enjin vir Toyota Hilux

Die Hilux 2.5 D-4D Raised Body Raider-dubbelkajuit is die jongste model in die reeks wat Toyota se tegnologies gevorderde turbodiesel-enjin met veranderlike tuit-werking (VNT) kry. Hierdie nuwe kragbron, wat die nuwe neiging vir kleiner enjins volg en van die Fortuner 2.5 oorgedra word, bied baie meer oemf, beter brandstofekonomie en meer verfyning sonder dat dit nodig was om die enjin se verplasingsinhoud te vergroot.

Die verrigtingstatistiek is indrukwekkend: kraglewering verhoog van 75 kW na ’n stewige 106 kW, terwyl die wringkrag ’n aansienlike styging van 260 Nm na ’n monstergatige 343 Nm toon.

Baie van die krediet hiervoor moet voor die deur van die turbo-aanjaer met sy veranderlike tuit gelê word, wat ’n tegnologiese kragtoer soos min is. Die turbo-aanjaer se turbine-lem is byvoorbeeld oneindig verstelbaar, wat dit moontlik maak om die lem-hoeke na gelang van die lading op die enjin te vervolmaak. Nog ’n slim stukkie tegnologie wat tussenbeide tree wanneer die uitlaatgasdruk nog laag is, is dat die lemme heeltemal toemaak, wat die uitlaagasse na ’n nouer gedeelte dwing. Dit laat die druk wat die kompressor laat werk, outomaties verhoog.

Die hoek van die lemme is teen hoë enjinsnelhede heeltemal oop om die soort druk wat ’n turbo-aanjaer kan beskadig, te verhinder. Dit moet ook genoem word dat die turbo by baie lae enjinsnelhede reeds begin werk omdat die lemme deur ’n elektriese motor aangedryf word. Die nuwe enjin is eksklusief aan ’n vyfgang-handratkas gekoppel.

Benewens die enjin-opgradering kry al die Raider-model sowel as die Hilux Xtra Cab SRX nou buite-truspieëls wat elektries platgevou kan word. Hand verstelde kopligte is nou ook deel van die reeds omvattende lys toerusting vir al die Hilux-modelle.

Die nuwe Hilux 2.5 D-4D Raised Body Raider-dubbelkajuit se voorgestelde kleinhandelprys is R358 000 (BTW ingesluit). Hierdie model het ’n diensplan van vyf jaar / 90 000 km.

Posted on by jonckie

Comments Off on Nuwe 2.5VNT Diesel-Enjin vir Toyota Hilux