Fortuner 2.5 D-4D – Die Outomatiese Keuse

Al meer en meer mense besef die waarde van ’n outomatiese voertuig – niks meer gekarring nie, koppelaar trap en jouself moeg maak nog voordat jy by jou bestemming is nie.

Toyota het by hierdie momentum ingespring en ’n outomatiese “intreemodel” by sy alomteenwoordige Fortuner-reeks gevoeg. Die nuwe 2.5 D-4D-outo skuif net bokant die

2.5 D-4D-handrat wat die mees bekostigbare intreepunt vir Fortuner-eienaarskap is, in.

’n Baie gekunstelde kragbron is die hartklop van die Fortuner 2.5 D-4D VNT-outo, en kan die maksimum verrigting uit ’n suinige viersilinder-enjin tower. Sy maksimum-kraglewering is ’n stewige 106 kW terwyl die wringkragsyfer by dié van die 3.0 D-4D kan kers vashou – ’n allemintige 343 Nm. Die outomatiese viergang-ratkas is dieselfde wat in die ander diesel-enjin in die reeks gebruik word, en bied soepel kragoordrag reg van laag onder in die toerestrek af. Die maksimum wringkrag is van ’n baie toeganklike 1 600 r/min af beskikbaar terwyl die kraghoogtepunt by net 3 400 r/min bereik word.

Die Fortuner het die plaaslike mark sedert sy bekendstelling in 2006 stormenderhand verower, en verkoopsyfers wat hom los voor in die sportnutssegment plaas, opgeraap. Trouens, hy is ingevolge NAAMSA-statistiek Suid-Afrika se beste verkoper onder voertuie wat deur private kopers aangeskaf word. Die voertuig het in 2011 ’n relatief omvattende kosmetiese opkikkering ondergaan, wat dit ’n selfs nog aantrekliker voertuig gemaak het.

Sy puik waarde vir geld en legendariese veldryvermoë bly egter die kern-steunpilare van die Fortuner-reeks. Voeg daarby sy sewesitplek-veelsydigheid, ’n ruim brandstoftenk van 80 liter vir daardie lang ritte, en ’n diensplan van vyf jaar / 90 000 km, en jy het ’n onoorwinbare gesinspakket om enige plek te gaan verken.

Die toevoeging van die outomatiese ratkas gaan die 2.5 D-4D ’n nog gewilder keuse maak en selfs nog meer kopers die geleentheid gee om die leefstyl wat hulle nog altyd wou hê, te kan geniet.

Die nuwe Fortuner 2.5 D-4D (hoëromp) outo kos R350 400 (BTW ingesluit).

Posted on by jonckie

Comments Off on Fortuner 2.5 D-4D – Die Outomatiese Keuse