Bridgestone bekommerd oor Kaapse bandepeiling

Johannesburg (3 Desember, 2012)

Bridgestone Suid-Afrika se projek vir bandepeilings vir 2012 het met die laaste peiling vir die jaar, wat in November in die parkeerterrein van Pick and Pay se Ottery-tak naby Kaapstad gedoen is, afgesluit. Altesaam 1 220 bande aan 305 voertuie se toestand, loopvlakdiepte en banddruk is nagegaan.

Elke band is net soos in die geval van die vorige peilings geklassifiseer as ‘goed’ (banddruk tussen 180 kPa en 290 kPa), ‘gevaarlik’ (minder as 180 kPa maar hoër as 150 kPa) of ‘uiters gevaarlik’ (minder as 150 kPa of meer as 290 kPa). Elke band is ook vir algemene veiligheid, soos snye en bulte, of buitensporige loopvlakslytasie, ondersoek.

“Die 2012-bandepeiling-seisoen het talle nuwe rekords vir band-toestand en -banddruk opgestel, waaronder ’n rekord van 95 persent bande wat in die Carnival Mall-peiling in Februarie vanjaar as ‘goed’ geklassifiseer is,” het Mandy Lovell, Bridgestone SA se skakelbestuurder, gesê. “Die Ottery-peiling het hierdie neiging egter teengestaan en ons is bekommerd oor die hoë persentasie bande wat as ‘uiters gevaarlik’ geklassifiseer is.”

’n Hele 15 persent van die bande wat ondersoek is, het in die afdeling vir ‘uiters gevaarlik’ geval, terwyl nog drie persent as ‘gevaarlik’ geklassifiseer is. Dit het daartoe gelei dat net 82 persent bande die korrekte banddruk gehad het, wat die laagste persentasie is sedert die Rustenburg-peiling wat twee en ’n half jaar gelede gehou is, en die vyfde laagste van al 22 bandepeilings wat ons van 2007 gedoen het.”

Lovell het gesê ’n verdere kommer is die feit dat sewe persent van bande weens slytasie of skade as ‘onveilig’ geklassifiseer is. Dit is ook die hoogste persentasie wat die afgelope bykans twee jaar in hierdie afdeling bespeur is.

“Die algehele prentjie is dat die toestand van bande in die Ottery-omgewing veel te wense oorlaat,” het Lovell gesê. “Ons doen ’n beroep op dié omgewing se motoriste om seker te maak hul bande is teen die regte druk gepomp om buitensporige slytasie te verhinder en padhouvermoë te verbeter, en dat hulle beskadigde of verslete bande vervang ten einde voortdurende veiligheid te verseker,” het sy bygevoeg.

Lovell het gesê die swak uitslae van die Ottery-peiling moet nie die glans van die algehele verbetering wat in die 2012-bandepeiling bespeur is, verdof nie. Die persentasie bande wat in die saamgestelde uitslae vir die vier bandepeilings deur 2012 in ’n goeie toestand aangetref is, het tot 89 persent gestyg – die hoogste nog in enige jaar tot dusver. Die persentasie bande wat as ‘gevaarlik’ geklassifiseer is, het tot vier persent gedaal – ook ’n nuwe rekord. Dié in die afdeling ‘uiters gevaarlik’ het op ’n bestendige 7,5 persent gebly en die algemene neiging wat van 2009 af ervaar word, gehandhaaf.

“Ons ervaar in Suid-Afrika ’n deurlopende neiging teenoor bande wat in ’n beter toestand is en hoop dit word in 2013 voortgesit,” het Lovell gesê. “Al wat ons vra, is dat motoreienaars moet seker maak dat hul voertuie se bande in ’n goeie toestand is – wat banddruk sowel as skade betref – voordat hulle hierdie Kersvakansie op hul vakansieritte vertrek,” het sy afgesluit.

Besoek ook die volgende skakels:

 

Road Safety and Tyre Safety

 

Car insurance might not cover accidents with smooth tyres on your car!

 

Tyres and Road Safety

 

Tyres and Car Insurance

 

What is the causal link required before a car insurer can reject your claim?

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Bridgestone bekommerd oor Kaapse bandepeiling