Groener bande is kinderspeletjies

Johannesburg (November, 2012)

Groener motorry het geblyk ’n groot treffer onder kinders te wees wat verlede week (6 November) die Projek DAD-byeenkoms bygewoon het. Projek DAD is ’n voortdurende inisiatief om dronkbestuur te bekamp en padveiligheid onder jongmense te bevorder.

Die bandevervaardiger Bridgestone het sy Ecopia Trike, ’n driewiel-fiets wat met die maatskappy se Ecopia-bande toegerus is, as deel van die geselligheid gebruik. Dié bande kombineer die padhouvermoë van ’n gewone band met laer rolweerstand, wat tot beter brandstofverbruik en minder uitlate lei.

Bridgestone se personeel was byderhand om te wys hoeveel verder die Ecopia-driewiel vanself sou loop voordat dit tot stilstand kom teenoor ’n driewiel met gewone bande nadat al twee fietse teen ’n skuins helling laat loop is.

Mandy Lovell, Bridgestone se skakelbestuurder, het gesê dit was om te wys hoe die Ecopia-bande deur middel van hul laer rolweerstand minder energie verbruik. “Dit lei tot laer brandstofverbruik, wat tot ander voordele soos minder CO2-uitlaatgasse lei,” het sy verduidelik.

Die kinders is betower deur die nuwigheid om op ’n driewielfiets met motorbande te kon ry, en het aandagtig toegekyk toe Bridgestone-personeel die verskil tussen die twee soorte bande verduidelik het. Die kinders kon self opklim en al twee driewiele teen ’n afraande laat vryloop totdat hulle vanself tot stilstand kom om die verskil eerstehands te ervaar. Die driewiel met die Ecopias het gou die gunsteling vir dié met ’n meer mededingende geaardheid geword om te kyk wie die verste kon vryloop.

“Ons hoop demonstrasies soos hierdie sal verbruikers se oorskakeling na meer omgewingsvriendelike bande in die toekoms help versnel,” het Lovell gesê. “Die moontlike koste- en omgewingsvriendelike besparings vir Suid-Afrika is astronomies,” het sy afgesluit.

Posted on by jonckie

Comments Off on Groener bande is kinderspeletjies