Bande-ondersoek moet deel wees van die vakansiereis

Johannesburg (November 12, 2012)

Die bandevervaardiger Bridgestone het gesê motoriste wat op vakansiereis is, moet elke stilhoukans gebruik om ook seker te maak die voertuig se bande is nog in ’n goeie toestand.

“’n Rit van Johannesburg na Kaapstad behels sowat 1 500 km se wisselende padtoestande,” het Mandy Lovell, Bridgestone Suid-Afrika se skakelbestuurder, gesê. “’n Mens se vakansie kan op talle maniere deur bandeprobleme langs die pad in die wiele gery word.”

Lovell het gewaarsku dat een van die grootste gevare die geleidelike verlies aan druk weens foute soos ’n lekkende klep of iets soos ’n spyker in die band kan wees. Die banddruk kan oor ’n afstand van ’n paar honderd kilometer só stadig verander dat die bestuurder dit nie dadelik kan voel nie, hoewel die verminderde padhouvermoë ’n groot gevaar inhou as die bestuurder in ’n noodgeval vir iets moet uitswaai.

Iets wat nog gevaarliker is, is dat ’n band wat druk verloor, oormatig begin warm word. Dit is veral op lang vakansiereise ’n groot gevaar wanneer die voertuig swaar gelaai en vol passasiers en bagasie is, wat die oorverhitting weens verminderde druk al erger sal maak. Oorverhitting kan teen lang afstande teen hoë snelhede uiteindelik daartoe lei dat die band se rubberlae van mekaar af begin trek, wat die band kan laat bars. Dit is ’n baie gevaarlike noodtoestand wanneer ’n voertuig teen snelhede soos 120 km./h op nasionale hoofweë ry.

Bandskade, soos ’n sny in die wand van die band, kan veroorsaak word deur goed wat onopgemerk verbygaan, soos ’n skerp klip of klein stukkie metaal in die pad. Sulke skade verminder die band se vermoë om die voertuig se gewig te dra, sowel as die remvermoë, draaivermoë en versnelling, wat die band kan laat bars.

Lovell het gesê motoriste wat lang afstande reis, moet elke ruskans of hervulstop gebruik om te kyk of die bande nog in ’n goeie toestand is en nie dalk probleme opgedoen het nie. “Neem ’n draagbare banddrukmeter saam met jou,” het Novell aanbeveel. “Dit sal jou skaars twee minute neem om al die bande daarmee na te gaan,” het sy gesê.

Novell het motorryers ook daaraan herinner dat die banddruk sal toeneem namate die bande warmer word, dus sal die banddruklesings van bande wat oor lang afstande teen hoë snelhede gery is, heelwat hoër wees as toe die bande nog koud was.

“Moet nooit ’n warm band tot dieselfde as sy banddruk toe hy koud was, pomp nie – jy sal die druk in werklikheid moet verminder,” het sy gesê. “Maar as jy een van die bande kry waarvan die banddruk minder as dié van die ander bande is, ondersoek eers die moontlike oorsaak daarvan om seker te maak jy kry nie verder probleme nie.”
Sy het bygevoeg dat dit ’n ideale geleentheid is om die band se toestand te ondersoek terwyl die banddruk nagegaan word. Ondersoek die hele wiel ook vir goed soos lekkende olie of pak-olie, wat dalk op komende meganiese probleme kan dui.

“Enige probleme met ’n band of ’n wiel dui op veiligheidskritieke gevare en kan selfs ’n bedreiging vir die insitendes se lewe inhou,” het Lovell gewaarsku. “Maak op ’n lang reis seker van voortgesette bandeveiligheid. Dit is dalk al wat nodig is om ’n tragedie te voorkom.”

Besoek ook: Tyres and Road Safety

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Bande-ondersoek moet deel wees van die vakansiereis