Veiligheid deurslaggewend by aankoop van eerste motor

Johannesburg (Oktober 30, 2012)

Die bandevervaardiger Bridgestone het daarop gewys dat ouers veiligheid as ’n groot oorweging moet beskou wanneer hulle hul kinders se eerste motor aanskaf.

“Ons paaie bly ten spyte van ’n effense daling in Suid-Afrika se padsterftesyfer die afgelope jaar of twee steeds baie, baie gevaarlik,” het Bridgestone se skakelbestuurder, Mandy Lovell, gesê. “Die jong ouderdomsgroep van 18 tot 24 jaar is ook die groep waaronder die meeste sterfgevalle voorkom,” het sy bygevoeg.

Ouers wat dit oorweeg om hul kinders van universiteitsouderdom se eerste motor aan te skaf, moet twee aspekte oorweeg: eienskappe wat sal help om botsings te voorkom, gevolg deur toerusting wat die insittendes in die geval van ’n ongeluk sal help beskerm.

Aangesien botstoetse vir botsings van voor net teen snelhede tot 64 km /h gedoen word, is “botswaardigheid” nie in botsings teen hoër snelhede verseker nie. Ouers word aangeraai om voertuie te oorweeg wat toegerus is met toerusting soos sluitwerende remme (ABS), en elektroniese stabiliteitsbeheer (ESC) wat help dat die bestuurder in beheer van die motor bly en dit uiteindelik daartoe kan lei dat ’n botsing geheel en al vermy word. Navorsing wat in Europa gedoen is, dui daarop dat stabiliteitsbeheer ongelukke met tot 30% kan verminder – ’n belangrike oorweging vir jonger bestuurders wat geneig is om meer bestuursfoute wat tot botsings kan lei, te maak.

Nie alle botsings kan voorkom word nie, en sodra ouers ’n motor gekry het wat die regte toerusting het om die bestuurder so veel as moontlik te help, moet hul aandag op botsbeskerming gevestig word. Die maklikste manier om vas te stel hoe veilig moderne motors is, is om die databasis van botstoetse by www.euroncap.com te besoek, aangesien modelle wat in Europa getoets is, dikwels dieselfde of identies is as dié wat in Suid-Afrika verkoop word. Navorsing het ook getoon hoe meer EuroNCAP-sterre ’n motor in ’n botstoets gekry het, hoe beter vaar die motor in werklike botsings buite die laboratorium. Voertuie wat ’n vyfster-gradering het, is van die veiligste, en ouers behoort ’n voertuig met so veel as moontlik sterre te kies as wat hul begroting hulle toelaat. Voertuie wat stabiliteitsbeheer as deel van hul standaard-toerusting het, kry as ’n reël ’n beter gradering in Euro-NCAP-botstoetse.

“Dit is ongelukkig so dat jonger bestuurders die meeste foute maak en die kwesbaarste bestuurders is,” het Lovell gesê. “Ouers moet seker maak dat hul kinders se eerste motor ’n motor is wat hulle die beste moontlike beskerming sal bied as en wanneer hulle foute maak,” het sy afgesluit.

Besoek ook die volgende skakels:

Posted on by jonckie

Comments Off on Veiligheid deurslaggewend by aankoop van eerste motor