Toyota Slaan Driekuns met 3 Finaliste in die 2013-Wesbank SAGMJ- Motor Van Die Jaar Kompetisie

Die Toyota 86 en sy hibried-stalmaat, die Yaris HSD, is Maandag as twee van die Suid-Afrikaanse Motor van die Jaar-finaliste aangewys. Die finaliste is deur ’n jurie van 29 lede van die Suid-Afrikaanse Gilde van Motorjoernaliste gekies. (Daarbenewens het hul suster-fabrikaat Lexus dit met die GS 350 ook op die podium van finaliste gemaak, wat dit ’n rekord-aantal van drie finaliste uit die Toyota-stal maak.)

Maar wat is dit wat die Toyota 86 en die Yaris HSD sulke waardige deelnemers in vanjaar se Motor van die Jaar-kompetisie maak?

Calvyn Hamman, Senior Vise-President van Verkope en Bemarking vir Toyota SA Motors, oor die Toyota 86:

“Syfers en statistiek is waardige wegspringpunte, maar ek glo ’n motor wat met die titel as beste in die land wegry, moet iets diep in ’n mens se siel aanroer. Jy moet oor hom droom, maar hy moet terselfdertyd toeganklik wees. Die Toyota 86 is juis só soort sportmotor – hy het nie net uit die vorm gebreek nie; hy het dit geheel en al herontwerp. Die 86, wat ’n perfekte verfyning van die klassieke, bekostigbare sportmotorervaring is, bewys sonder twyfel dat pret en motorry wel in dieselfde asem genoem kan word. In kort is die 86 ’n bekostigbare ware bestuurdersmotor.*”  

Toyota 86 High (handrat) kernstatistiek:

Enjin

Tweeliter-bokserenjin met Toyota se jongste direkte brandstofinspuiting wat die wêreld se eerste horisontaal-teenoorstaande enjin met D-4S (regstreekse inspuiting met vierslag-werking) bied.

Kraglewering

147 kW / 7 000 r/min

0 tot 100 km/h

7,6 sekondes

Uitstaande eienskappe

Sewentiensduim-allooisierwiele, ligdiode-tegnologie, raamlose vensters, sleutellose toegang, leer/alcantara-bekleedsel, outomatiese klimaatbeheer, spoedbeheer, digitale spoedlesing,  sewe lugsakke, ABS en VSC.

Prys

R329 400 (BTW ingesluit)

Kerry Roodt, Hoofbebestuurder van Bemarkingskommunikasie vir Toyota SA Motors, oor die Yaris HSD:

“Dit was vir die ontwerpers ’n groot taak om die ideale groen kompakte motor te ontwerp. Kopers verwag laer CO2-uitlaatgasse en brandstofekonomie as dié van sy tydgenote, dog sonder enige tekortkominge op die gebied van verrigting, dinamisme of verfyning. Daarbenewens moet die motor ’n lang lys standaard-toerusting hê, terwyl die koste van eienaarskap billik bly. Die groen motor moet kortliks presies dít wees – die bykans volmaakte motor waarvoor die eienaar baie min hoef prys te gee. Wel, die Yaris-hibried kom nogal baie naby aan al hierdie vereistes, terwyl hy terselftertyd die mees moderne weergawe van die Yaris is danksy sy groot voorste lugskort, sy 17 dm. allooivellings en LED-daglig-ryligte. Is dit nie die soort motor wat die Motor van die Jaar moet wees nie?”

Toyota Yaris HSD XS-kernstatistiek:

Enjin

Dubbelbonokas-Atkinson-siklus-petrolenjin van 1 497 cc met 16 kleppe, gekombineer met ’n kompakte elektriese motor

Algehele hibried-kraglewering

74 kW

Brandstofverbruik

3,8 liter/100 km in die gekombineerde siklus

Uitlaatgasse

88 g/km (laagste in SA)

Uitstaande eienskappe

Outomatiese klimaatbeheer, afstand beheerde sentrale sluiting, raakskerm-klankstelsel met ingeboude Bluetooth-werking en ritrekenaar met hibried-spesifieke “Eco”-werking, klanksok met USB-poort en stuurwielkontroles

Prys

R223 800 (BTW ingesluit)

Agtergrondinligting oor MVDJ 2013

Suid-Afrika se Motor van die Jaar-kompetisie – wat die afgelope 28 jaar steeds deur die wielebank, WesBank, met bykomende steun van Total en Hollard-versekering, geborg word – is uniek in die wêreld in die sin dat die wenner deur drie rondes stemme bepaal word. Die eerste ronde is vir alle volle lede van die SAGMJ en lewer die semifinaliste op, waarna ’n tweede ronde volg waarin net die lede van die jurie mag stem, wat die finaliste aanwys. ’n Finale beoordeling word ná twee dae se toetswerk by Gerotek gedoen, waarna die jurie se puntetoekenning opgetel en geouditeer word voordat ’n algehele wenner aangekondig word.

Die toetswerk by Gerotek sal in pas met die kompetisie se breër omvang gebruik word om die voertuie in die toestande waaronder individuele voertuie na verwagting ingespan sou word, te evalueer. Die roetes is ontwerp om die voertuie op soortgelyke wyse te gebruik as wat die gemiddelde verbruiker dit sou gebruik. Die toetsdae bied die jurie die geleentheid om hulself met die voertuie en spesifieke aspekte daarvan te vereenselwig, soos voorkoms, bougehalte, ergonomie, brandstofverbruik, omgewingsvriendelikheid, veiligheidseienskappe en waarde vir geld.

’n Groot verandering in vanjaar se kompetisie is die wyse waarop die MVDJ-jurie aangewys is. Die jurie word ná ’n Motor van die Jaar-werkswinkel wat vroeër vanjaar gehou is, nié meer saamgestel uit dié SAGMJ-lede wat aan die hand van bekendstellingsbyeenkomste en toetsmotors die grootste blootstelling aan modelreekse wat vir die titel in aanmerking kom, gehad het nie. Elke lid het egter ná die eerste ronde die geleentheid gehad om vir 25 van sy of haar kollegas te kies om op die jurie te dien. Die lede met die meeste stemme – wat tot ’n maksimum van 30 lede beperk is – is as jurielede aangewys.

Hoewel al die modelle geag word voorbeelde van uitmuntende motorvoertuigontwerp te wees, kan net een as uiteindelike wenner aangewys word, en daardie model sal in die oë van die MVDJ-jurie voertuiguitmuntendheid op alle gebiede verpersoonlik. Die wenner van die 2013-WesBank / SAGMJ Motor van die Jaar-kompetisie sal in Maart 2013 op ’n dineegeselligheid aangekondig word.

Posted on by jonckie

Comments Off on Toyota Slaan Driekuns met 3 Finaliste in die 2013-Wesbank SAGMJ- Motor Van Die Jaar Kompetisie