Begroot nou vir Kersfees-veiligheid op die Pad

Dit is nou reeds tyd om vir padveiligheid oor Kersfees te begin begroot. Dít is die boodskap van die bandevervaardiger Bridgestone, wat sê motoriste moet seker maak hul voertuie is in ’n foutlose toestand voordat hulle Suid-Afrika se vakansiepaaie aandurf.

“Baie ongelukke gebeur omdat voertuie onpadwaardig is,” het Mandy Lovell, skakelbestuurder van Bridgestone Suid-Afrika, gesê. “Gaan jou voertuig nou reeds na – dit gee jou nog meer as twee maande voor Kersfees om vir herstelwerk te begroot,” het sy voorgestel. “Dit is baie gevaarlik om in ’n voertuig wat noodsaaklike meganiese herstelwerk nodig het, na jou Kersvakansie-bestemming te ry,” het sy bygevoeg.

Dink aan basiese goed sowel as die ernstiger dinge. Kyk byvoorbeeld na die toerusting wat ons gebruik om met ander padgebruikers te kommunikeer – kyk dat al die rigtingwysers en ligte reg werk en dat jy spaargloeilampies vir onverwagse onklaarrakings het. En moenie die toeter vergeet nie – werk hy? Indien nie, laat maak dit reg; die wet vereis dat die toeter moet werk en dit kan jou help om ’n lewe te spaar.

Dit is noodsaaklik om die voertuig volledig te laat nagaan om meganiese betroubaarheid te verseker, dus moet jy jou plaaslike handelaarskap vra om goed soos die water- en brandstofpype, elektriese bedrading en die voertuig in die geheel na te gaan en seker te maak dat alles reg werk. As die voertuig in elk geval binnekort versien moet word, kan dit gedoen word nog voordat jy vertrek om bykomende gemoedsrus te verseker.

“Daar is natuurlik sekere veiligheidskritieke toerusting wat nie oor die hoof gesien mag word nie,” het Lovell gewaarsku. “Gaan die bande na en maak seker dit is nie beskadig nie en loop almal gelyk af. Maak ook seker die bande het genoeg oorblywende loopvlak om water op die pad die hoof te bied, en as die bande amper by hul slytasieperk is, laat dit eerder vervang voordat jy vertrek. Dit sal baie gevaarlik wees om op pad terug van jou vakansie af deur ’n Hoëveldse donderstorm te ry as die bande se loopvlak geheel en al afgeloop is,” het sy gesê.

Lovell het verduidelik dat hoewel die wettige loopvlakdiepte 1,6mm is, sal natweerverrigting aansienlik daal wanneer die groewe tot minder as 3mm of so begin afloop.

Sy het motoriste ook aangeraai om hul voertuie se remme vir buitensporige slytasie te laat nagaan, en om die remvloeistof aan te vul of te vervang as dit nodig sou wees. Remvloeistof absorbeer water uit die atmosfeer en behoort as voorsorgsmaatreël elke 18 tot 24 maande vervang te word om te verseker dit is meer bestand teen kokende temperature waneer die voertuig lank en hard moet rem, soos wanneer ’n mens teen ’n bergpas af ry en ’n woonwa sleep.

Skokbrekers is ook ’n veiligheidskritieke komponent. Remafstande word baie langer weens uitgewerkte skokbrekers, terwyl dit ook moeiliker is om veilig te draai. Bestuurders raak stresvol, en passasiersgemak word ingeboet – veral vir mense wat maklik karsiek word.

“’n Goeie werktuigkundige kan jou voertuig in minder as ’n halfuur fynkam,” het Lovell gesê. “Daar is nog tyd om geld eenkant toe te sit om die noodsaaklike herstelwerk te laat doen om jou veilig na jou Kersvakansiebestemming – en terug – te bring. Moenie uitstel totdat dit te laat is nie,” het sy afgesluit.

Vir meer besonderhede besoek ook:

Road Safety and Tyre Safety

Vir meer oor veiligheid van bande en motorversekering :

Car insurance might not cover accidents with smooth tyres on your car!

Tyres and Road Safety

Tyres and Car Insurance

What is the causal link required before a car insurer can reject your claim?

 

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Begroot nou vir Kersfees-veiligheid op die Pad