Waardevolle wenke om die huis te beveilig in jou afwesigheid

Dit is nog lank voordat baie van ons ‘n blaaskans kan neem weg van die huis af – maar dit is altyd goed om bewus te wees van veiligheidswenke in en om die huis. Dit is nie net raadsaam om behoorlik beveilig te wees met die regte versekering nie – maar ook om betyds voorsorg te tref en dit moeiliker te maak vir kriminele!

Ons wil kortliks let op wenke om die huis te beveilig. Is u woning en besittings veilig wanneer u met vakansie vertrek?

Dit is ‘n minder aangename ervaring om u vakansie te moet kortknip of om na u vakansie tuis te kom en te vind dat daar ingebreek is.

Die polisie wil die volgende wenke aan die hand doen:

–              Sluit u woning behoorlik voordat u vertrek en maak seker dat u die sleutel uit die deur verwyder.

–              Rapporteer die feit dat u met verlof weg sal wees, met vermelding van die tye van vertrek en aankoms, aan die SAPD.  Hulle sal u woning dan van tyd tot tyd besoek.

–              Tref reëlings met ‘n buurman of vriend om u pos uit die posbus te verwyder, die gras te sny en af en toe die ligte aan te skakel.

–              Moenie u afwesigheid adverteer deur ‘n stoeplig dag en nag te laat brand nie.

–              Kanselleer vooraf alle aflewerings.

–              Moenie u reisreëlings met vreemdes bespreek nie.

–              Maak, voordat u vertrek, ‘n lys met die reeksnommers van waardevolle artikels soos radio’s, hoëtroustelle, elektriese toestelle, grassnyers, fietse, ensovoorts, en bêre dit op ‘n veilige plek.  Dit sal die identifisering daarvan vergemaklik indien dit wel gesteel word.

–              Moenie vuurwapens in hangkaste of ander derglike plekke in die huis bêre nie.  Sluit dit in ‘n brandkluis toe of handig dit by ‘n handelsbank in vir bewaring.

–              Skakel alle onnodige kragpunte af en ontkoppel die muurproppe om brandskade te voorkom.

–              Moenie lere en ander toerusting wat dit vir die inbreker gerieflik kan maak, buite laat rondlê nie.

–              Sorg dat die motorhuis behoorlik gesluit is en fietse en so meer toegesluit is.

–              Stel u buurtwagbevelvoerder in kennis van u vertrek.

 

Indien u die nodige voorsorg getref het om u woning te beveilig, sal u u vakansie soveel meer geniet!

Besoek ook gerus die volgende wenke in Engels:

Tips for increased Safety Awareness and Preventing House Robberies

Posted on by jonckie

Comments Off on Waardevolle wenke om die huis te beveilig in jou afwesigheid