Aerocare lugambulans vervoer boervrou nadat sy per ongeluk gif drink

Aerocare Lugambulans in foto deur Charl Devenish

Vanoggend het ek ‘n epos ontvang van ‘n vriend en eienaar van Aerocare -‘n lugambulansdiens wat dikwels ernstig beseerde pasiente vervoer hier in die Vrystaat , Noord Kaap en Oos -Kaap. In sy epos is ek ingelig rakende ‘n interessante noodvlug gister en wil graag aanhaal vanuit Volksblad:

” ’n Boervrou van die Oos-Kaap is gister met ’n noodvlug na ’n hospitaal in Bloemfontein gebring nadat sy in die oggendure hoesstroop wou sluk en per ongeluk gif gedrink het.

Die lugambulansdiens Aerocare het vroegmiddag met Ina van Wyk (67), van die plaas Fonteintjie tussen Venterstad en Steynsburg in die Oos-Kaap, in Bloemfontein geland. Sy is in die intensiewesorgeenheid van die Life-Rosepark-hospitaal opgeneem. Sonja Oosthuysen van Bethulie sê haar ma het gister om 01:00 ’n hondedip-middel gedrink pleks van hoesmedisyne.

“Sy het ’n hoesbui ontwikkel. Ons weet nie of dit in die donker was of wat nie, maar toe vat sy die bottel en toe besef sy dit is ’n hondedip-middel.”

Sy het melk gedrink en weer gaan slaap. Toe sy om 05:00 wakker word, kon sy nie beweeg nie. Twee van haar werkers, Doortjie en Pond Kemmel, het haar te hulp gesnel en ’n ambulans van Quali Care op Trompsburg is ontbied. Sy is na Gariepdam se lughawe gebring vir die noodvlug. Oosthuysen sê haar ma het Ectodex gedrink. Dit is ’n middel teen brandsiek, luise en vlooie. Om dit op honde te gebruik, moet 50 ml in 5 l water verdun word.

Esmarie Cronjé, hospitaalwoordvoerder, het gistermiddag gesê Van Wyk is in ’n kritieke, maar bevredigende toestand. Sy is gesedeer en aan ’n asemhalingsmasjien gekoppel. Oosthuysen en haar suster Elmarie van Rensburg, van Trompsburg, is albei in Bloemfontein om hul ma by te staan.

Hul ma, ’n weduwee, boer die afgelope 16 jaar met skape.”

Wanneer word ‘n pasient gevlieg?

CrisisOnCall het onlangs in ‘n nuusbrief meer duidelikheid hieroor verskaf.  Ons wil graag hieruit aanhaal:

Daar bestaan ‘n 15 punt kriteria wat bepaal wanneer ‘n pasiënt kwalifiseer vir lugafvoer. Die volgende as voorbeeld:

• Ernstige hoofbesering met sekere bygaande implikasies.
• Hart pasiënt waar die toestand versleg en die naaste geskikte hospitaal meer as 30 minute se vervoertyd van die hospitaal is.
• Brandwonde minder as 80%.
• Naby verdrinking – geen KPR.

Waar dieselfde kundigheid vinnig per pad verkry kan word en padvervoer na ‘n hospitaal vinniger as ‘n helikopter sal wees, is dit sinneloos om van lugvervoer gebruik te maak. Lugvervoer
word ook beperk deur beskikbaarheid, weersomstandighede en landingsgeriewe.

Omdat CrisisOnCall nie oor sy eie ambulans of lugambulanse beskik nie, word van die naaste diensverskaffer gebruik gemaak. Dit beteken dat, waar dit medies geregverdig is, daar van enige van die beskikbare mediese-helikopters en vastevlerk ambulanse gebruik gemaak kan word. Diensverskaffers sluit in ER24, Netcare911, AMS (Rooikruis helikopters), Aerocare en vele ander.

Daar is sekere helikopters wat nie in die donker kan vlieg nie, en dit beperk dus toeganklikheid in die aand. Oor die algemeen is die mediese-helikopters baie besig en is daar baie gevalle waar die pasiënt nie gevlieg word nie, bloot as gevolg van tydige beskikbaarheid.

Besoek ook die volgende skakels:

Air Evacuation and Road Safety

Aerocare, Emergency Medical Air Evacuation and Road Safety

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Aerocare lugambulans vervoer boervrou nadat sy per ongeluk gif drink