Goedkoper Versekering is nie altyd Beter Versekering!

Daar is min dinge meer irriterend as om sms’e te ontvang van ‘n versekeraar waarmee jy geen kontak het nie en waarin jy versoek word om ‘n polis uit te neem! Daar is ongelukkig al meer versekeraars wat hierdie boodskappe stuur as deel van hul bemarkingsveldtogte.

Vroeër vanoggend het ek juis so ‘n sms ontvang met die boodskap “Car Insurance from R280pm from ….No excess!” Ek word dan uitgenooi om met ‘n “JA” te antwoord ten einde verdere besonderhede te ontvang.

Hoewel hierdie premie baie uitlokkend blyk te wees is ek egter bewus dat prys maar net een van die faktore is om in ag te neem. Heel dikwels is die dekking veel minder as wat die kliënt mag benodig en is die administrasie by die indien van ‘n eis aan die gebrekkige kant.

Daar is ‘n stelling in Engels wat in Afrikaans in vertaal kan word met  – “ As jy grondboontjies betaal dan moet jy bobbejane verwag”. Indien jy die prys van ‘n klein motortjie betaal moet jy nie verwag om ‘n luukse motor te verkry nie. Dieselfde geld dikwels ook met die aankoop van versekering en kan die prys gekoppel word aan wat jy moet verwag om te verkry!

Waar is die vangplek?

Dit is goed om miskien mooi na te dink waarom ‘n versekeraar die heel goedkoopste premie mag vra vir versekeringsdekking. Waar is die vangplek?

–          Is dit ‘n geregistreerde versekeraar by die Raad op Finansiële Dienste?

–          Is dit ‘n gerespekteerde versekeraar  wat sy verpligtinge nakom?

Dienslewering en Publieke Opinie

Ons kan ook let op wat in die industrie gesê word oor die versekeraar. Daar is talle webwerwe waar die publiek hul mening oor swak dienslewering uitpreek en meer besonderhede kan maklik oor die internet nagevolg word.

Word daar gereeld versekeringseise verwys na die Ombudsman ten opsigte van hierdie versekeraar? Indien die versekeraar toekennings in die industrie ontvang het vir goeie dienslewering sal dit ook opgespoor kan word.

Dit is ook belangrik om uit te vind wat ander kliënte te sê het wat by daardie versekeraar verseker was of is. Luister veral na diegene wat reeds eise ingedien het en waar hierdie eise afgehandel is.

Dit is uiters belangrik dat ons let op die volledige versekeringsaanbieding. Ongelukkig daag die krisis gewoonlik eers op wanneer ‘n eis ingedien word. Wanneer die polis onderteken word en die maandelikse debietorder verhaal word is daar geen konflik maar wanneer ‘n eis nie professioneel en effektief hanteer word nie sal die bom bars!

Ons wil aanbeveel dat meer aandag spandeer word in die soektog na versekering as net op die prys!

Vir die beste verduideliking van hoe swak diens ‘n versekerde klient kan frustreer kyk gerus na:

Is your insurer killing you slowly with poor service?

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Goedkoper Versekering is nie altyd Beter Versekering!