Ontspan behoorlik met die regte versekering vir jou karavaan

Karavaan vakansie by Buffelsbaai

“Ons almal wil ‘n huisie by die see hê…” – so lui die woorde van ‘n bekende liedjie van Koos Kombuis. Hierdie huisie hoef egter nie net van steen en beton te wees nie, maar kan selfs ‘n mobiele wooneenheid wees soos ‘n karavaan. Die afgelope week het talle Suid-Afrikaners hul weg gevind na die kus en tuisgegaan in karavane langs die mooi Suid-Afrikaanse strande!

Ek het self die geleentheid benut om te gaan kuier by familie in ‘n woonwapark by die pragtige Buffelsbaai. My broer het besluit om sommer deur ‘n maatskappy in George ‘n karavaan te huur vir 5 dae. Met sy aankoms was die karavaan met sy tent gerieflik netjies opgeslaan by sy staanplek.

Versekering van die karavaan is nie iets waaroor hy moes bekommerd wees nie. maar definitief iets wat die meer ervare kampeerders met hul eie karavane op die prioriteitslys sou moes plaas. Dit is treffend watter wonderlike verskeidenheid kampeerders daar by sou ‘n karavaanpark versamel.

Van die buurman wat ‘n goedkoop tweedehandse karavaan vir R10,000 opgeraap het, tot die eienaar ‘n entjie verder met sy luukse karavaan  met sy DSTV skottel en allerhande bybehore. Dit is juis hier waar ek kon gaan aanklop om te sien hoe die Stormers op Saterdagoggend die Highlanders in New Zeeland verslaan op die rugbyveld!

Wat is die risiko’s waaraan karavane en hul eienaars blootgestel is?

Dit is belangrik dat ons by ‘n bespreking van karavane ook moet let op die risiko’s waaraan die karavane en hul eienaars blootgestel is. Die vernaamste risiko’s kan ook soos met voertuie insluit die moontlikheid van skade en verlies aan die karavaan.

Maar watter skade kan daar wees aan die karavaan?

Die karavaan word gebruik op ‘n verskeidenheid bestemmings  – en so ook is daar ‘n verskeidenheid risiko’s waaraan die karavaan blootgestel is. Dit is veral die natuurelemente wat skade kan veroorsaak!

Natuurelemente en die Versekering van die Karavaan

Seker die algemeense hiervan is die risiko’s veroorsaak deur vuur en water. Elektriese kortsluitings en vuur vanaf braavleisvure en veldbrande  bedreig ook die karavaan.

Net so kan water ‘n groot risiko daarstel. Dikwels word karavane bedreig deur vloede veral by rivieroorde sowel as die gepaardgaande modderstortings ens.

In Suid-Afrika is ons gelukkig om nie geteister te word deur baie orkane en tornado’s nie. Maar dit is wel denkbaar dat hierdie natuurverskynsels saam met sterk winde aansienlike skade kan veroorsaak! Stormagtige weerstoestande kan ook meebring dat rotsstortings en die omwaai van bome of vallende boomtakke die karavaan bedreig.

Ons moet ook in ag neem dat ons as inwoners dikwels deur ons eie onveilige optrede ‘n risiko daar kan stel. Waar die geriewe nie so luuks is met elektrisiteit beskikbaar nie gebruik ons gas vir die kook van kos, verwarming en beligting. Hierdie gas en die onverskillige gebruik daarvan kan ook ‘n risiko daarstel.

‘n Verdere risiko is die gedrag en eetgewoondes van nie net ons eie diere nie maar ook wilde diere. Indien ons kampeer in die wildreservate is dit heel moontlik dat roofdiere kan peusel aan die karavaan, tent of toebehore!

Ongelukkig is ons nooit ver verwyderd van misdaad nie en ons luukse items wat dalk nie behoorlik vasgemaak of beveilig kan word nie is ook blootgestel aan diefstal.

Padveiligheid en die Versekering van die Karavaan

Een van die grootste risiko’s, veral in Suid-Afrika is waar die karavaan op die pad blootgestel is aan die bestuursgedrag van ander padgebruikers. Dit is belangrik om in ag te neem dat die karavaan waarskynlik egter veel minder op die pad sal verkeer as die voertuig wat gebruik word om die karavaan na sy bestemming te neem.

Allerlei toebehore in die tent

Wat is die basiese beginsel by karavaanversekering?

As algemene riglyn kan in ag geneem word dat die versekering van die karavaan sal insluit die karavaan soos wat hy aangekoop word met sy karavaaninhoud. Daardie bykomstighede wat saamgeneem word om die verblyf in die karavaan meer gemaklik te maak moet egter afsonderlik gespesifiseer word.

Wat is hierdie bykomstighede?

Alle inhoud wat bygevoeg word sal insluit ekstra bedegoed, eetgerei, ketels, mikrogolfoonde, potte, panne draagbare televisie’s ens moet gespesifiseer word as karavaan inhoud.  Slegs items wat binne in ‘n karavaan gebruik word kan gesien word as karavaan inhoud.  Stel ‘n lys op van die toerusting en spesifiseer die totale bedrag.  Hierdie lys moet by die versekeraar ingedien word wanneer ‘n kwotasie vir versekering aangevra word.

Alle toerusting wat gebruik word vir kampeer soos tente, roosters, opslaan stoele, opvou tafels, braaiers ens word onder kampeer toerusting verseker.  Dit is nie karavaan inhoud nie.  Dit word aan die buitekant gebruik, sien dit as items in die ope lug.  Dieselfde geld ook soos by karavaan inhoud, ‘n lys moet opgestel word en by die versekeraar ingedien word.

Samevatting

Dit is uiters belangrik om volledig alle relevante inligting aan die versekeraar te openbaar. Die versekeraar moet instaat gestel word om op grond van wesentlike feite ‘n behoorlike risikobepaling te doen.

Dit sal belangrik wees vir die versekeraar om nie net die waarde van die karavaan meegedeeel te word nie, maar veral die wyse van gebruik daarvan. Daar is ‘n groot verskil in risiko tussen die karavaan wat net tydens vakansies gebruik word teenoor die karavaan wat gereeld gebruik word.

Daar is byvoorbeeld eienaars wat vir ‘n lang tydperk die karavaan as alternatiewe behuising mag gebruik terwyl daar aanbouings aan die huis gedoen word.

Dit is ook belangrik om aan te toon of die karavaan bloot vir eie gebruik aangewend word en of dit moontlik verhuur word aan andere.

DSTV en televisie vir 'n bietjie rugby

Posted on by jonckie

Comments Off on Ontspan behoorlik met die regte versekering vir jou karavaan