Direkte Versekeraars kan baat by die soeke na goedkoper motorversekering

Dit raak uiters duur om op die pad te gaan en stygende vervoerkostes is besig om ons besteebare inkomste onder druk te plaas. Suid-Afrikaners word genoodsaak om hul rande en sente mooi om te draai en voortdurend te kyk waar hul kan bespaar.

My kollega by die werk het juis vanoggend genoem dat hy sy lidmaatskap by die gimnasium onder heroorweging moet neem. Ons sny baie luukshede uit en besoek veel minder die eetplekke en ander kuierplekke.

Stygende Vervoerkostes in Suid-Afrika

Ons kyk ook na hoeveel en waar ons bestuur en probeer onnodige ritte uitsny. Dit is dikwels moontlik om met ‘n bietjie beplanning onnodige petroluitgawes te verminder. Dit is egter nie altyd moontlik om alle voertuigkostes te verminder nie. Daar is weinig wat ons kan doen aan die petrolprys en vir die wat in Gauteng woonagtig is staan die e-tol sisteem soos ‘n berg voor hulle!

Daar is geen twyfel dat tolgelde die kostes van vervoer aansienlik gaan verhoog nie!

Uit die oogpunt van veiligheid is dit ook uiters belangrik dat ons nie met besparings ons veiligheid in gevaar stel nie. Ons kan nie die vervanging van verslete bande en ou skokbrekers uitstel  en sodoende die veiligheid van padgebruikers in gevaar stel nie.

Vrae om te verseker dat ons nie te duur betaal vir motorversekering

Dit is egter wel moontlik om te verseker dat ons nie te veel betaal vir versekeringspremies nie. Dit is belangrik om die volgende vrae te vra:

  • Wat is die presiese bedrag wat ek betaal aan motorverskering?
  • Is dit moontlik om minder te betaal terwyl ek steeds behoorlik verseker kan wees?
  • Wanneer laas het ek navraag gedoen oor die kostes van motorversekering?
  • Het ek vergelykende kwotasies aangevra en hierdie produkte en pryse met mekaar vergelyk?
  • Gebruik ek huidig ‘n tussenganger / makelaar en het ek hom werklik nodig?
  • Kan ek bespaar deur self ‘n verskeringskwotasie aan te vra en versekering aanlyn aan te koop?

 

Daar sal altyd ‘n plek in die versekeringsindustrie wees vir makelaars – veral waar deskundige advies benodig word by die meer ingewikkelde navrae en behoeftes. By motorversekering is dit egter veel makliker om self en sonder ‘n uitgebreide kennis van finansiële sake die regte en beste versekering te bekom.

Slotsom

Daar is vandag baie direkte versekeraars wat platforms en webtuistes geskep het waar die verbruiker maklik versekering goedkoper kan bekom as om kommissie aan ‘n adviseur te moet afstaan.

Ons is vandag ook baie meer gemaklik daarmee om deur die internet transaksies aan te gaan en aankope te doen. Daar kan dus verwag word dat die huidige finansiële druk al meer mense sal aanmoedig om hul te wend tot die internet om goedkoper versekering te bekom en onnodige onkostes uit te skakel!

Posted on by jonckie

Comments Off on Direkte Versekeraars kan baat by die soeke na goedkoper motorversekering