Beskerm jou huis en huisinhoud hierdie Paasfees!

Paastyd is vir baie mense ‘n tyd waarin hulle kan ontspan en ‘n welverdiende blaaskans neem ­– dikwels in die vorm van ‘n vakansie weg van die huis. Dis ongelukkig ook ‘n tyd waarin ‘n mens op hou hoede moet wees en die nodige stappe neem om te verseker jou huis is veral in dié tyd, wanneer inbrekers op die uitkyk vir verlate wonings is, so veilig moontlik.

Ricardo Coetzee, woordvoerder vir Virseker, Suid-Afrika se enigste versekeringsproduk uitsluitlik gemik op die Afrikaanse gemeenskap, sê: “Die beste manier om gemoedsrus te verseker terwyl jy weg is, is om van ‘n huisoppasser gebruik te maak. Enigeen wat jou huis dophou, sal sien die gordyne word oop- en toegeskuif, die ligte word aan- en afgeskakel en daar staan ‘n motor in die oprit. Dit is alles tekens dat daar iemand tuis is.

“Vra ‘n vriend of ‘n familielid wat jy vertrou om in jou huis te bly terwyl jy weg is. Maak seker jy los vir dié persoon ‘n lys telefoonnommers, wat dié persoon in ‘n noodgeval kan skakel.”

Veiligheidsmaatreëls vir die beveiliging van jou huis oor Paasnaweek

Vir dié mense wat nie die luukse van ‘n huisoppasser kan bekostig nie, beveel Coetzee die volgende veiligheidsmaatreëls aan. Stel dit in werking en daar’s ‘n goeie kans jy tref jou huis in presies dieselfde toestand aan as waarin jy dit gelos het, sê hy.

  • Maak eerstens seker jou huisinhoud word behoorlik in jou versekeringspolis gedek en kyk dat die bedrag waarvoor jy dit verseker het, gelykstaande is aan die bedrag wat dit sal kos om al die items teen hedendaagse pryse te vervang.
  • Sluit enige items van sentimentele waarde in ‘n vasgeboute kluis sodat dit nie sommer van die perseel verwyder kan word nie.
  • Dit is noodsaaklik dat diefwering voor al die vensters is wat oopgemaak kan word en dat daar ‘n veiligheidshek by al die buitedeure is. Die meeste versekeringsmaatskappye beveel dit aan dat jy ‘n alarmstelsel laat installeer wat aan ‘n gewapendereaksie-maatskappy se stelsel gekoppel is. Onthou om dié stelsel te toets voordat jy op vakansie vertrek.
  • Verseker jy kanselleer die aflewering van jou koerant terwyl jy weg is of tref ‘n reëling met iemand om die koerant elke dag te kom haal en ook om jou posbus leeg te maak.
  • Veiligheid wanneer jy weg is, gaan dikwels oor indrukke. As jy ‘n tuin het of potplante in die oprit wat van die straat sigbaar is, reël met iemand dat hulle die tuin en plante onderhou. Verlepte plante en ‘n grasperk wat nie gesny is nie, is ‘n duidelike aanduiding dat daar niemand tuis is nie.
  • As niemand die huis gaan oppas nie, is dit die moeite werd om die ligte in ‘n paar vertrekke aan ‘n tydskakelaar te koppel. Indien moontlik, skep met die tydskakelaars ‘n volgorde wat getrou aan jou daaglikse roetine is. Stel die skakelaar byvoorbeeld dat die ligte in die leefvertrekke teen sononder aangeskakel word soos wanneer jy tuis is.

Indien jy nie van ‘n huisoppasser se dienste gebruik gaan maak nie, beveel Coetzee dit ook aan dat die hoofwaterkraan toegedraai en die watergeiser afgeskakel word wanneer jy op vakansie vertrek. Dis reeds erg genoeg wanneer die geiser of ‘n waterpyp bars wanneer jy tuis is; gebeur so iets terwyl jy weg is, kan die lekkende water oor dae opbou en jou matte en meubels erg beskadig.

“Gedurende Paastyd is dit belangrik om voorsorgmaatreëls te tref,” sê Coetzee. “Selfs met al die versekeringsdekking ter wêreld is dit ‘n pynvolle ervaring wanneer mens van ‘n heerlike vakansie terugkeer en vind jou huis is leeggedra. Wees op jou hoede en verseker die kans dat dit gebeur is so klein moontlik.”

Posted on by jonckie

Comments Off on Beskerm jou huis en huisinhoud hierdie Paasfees!