Tragiese dood van Zak van Niekerk vestig blik op die gevare vir kunstenaars op ons paaie

Zak Van Niekerk

Gisteroggend het ons op hierdie webtuiste wenke verskaf vir padveiligheid. Die ArriveAlive.co.za webtuiste probeer om ‘n bewustheid te skep onder motoriste ten opsigte van padveiligheid en hoe ons te werk kan gaan om ongelukke te voorkom. Ongelukkig is die realiteit dat ons paaie ‘n gruwelike gevaar geword het as gevolg van die wetteloosheid van te veel padgebruikers!

‘n Berig in Beeld dui dat die tragiese dood van Zak Van Niekerk by ‘n kruising in Sasolburg veroorsaak is deur ‘n geskorste munisipale amptenaar wat glo teen 146 km/h in ’n 80 km/h-sone gejaag het. Ons haal aan:

“Van Niekerk en ’n vriend, mnr. Johan Nortjé (50), het omstreeks 16:00 in ’n Mercedes-Benz-Vito-bussie uit D.F. Malanweg in Sasolburg op die R59 na Vereeniging gedraai toe die ongeluk gebeur het.

Volgens die lesing van ’n spoedkamera wat Beeld gesien het, het mnr. Basie Motloung, ’n geskorste voorraadbestuurder van die Metsimaholo-munisipaliteit in Sasolburg, teen 146 km/h op die R59 gery en by die kruising teen die bussie gebots.”

Verskeie mense het kommentaar gelewer oor hierdie gevaarlike kruising en dat daar te min gedoen word om ongelukke by daardie kruising te voorkom. Ek het self groot protes aangeteken teen ‘n gevaarlike kruising in Bloemfontein by Du Plessis Rylaan en Nelson Mandela Rylaan. Nadat daar ‘n 4 rigting-stelsel van verkeersligte aangebring is vind daar egter steeds noodlottige ongelukke plaas!!

Hoe kan ons hierdie noodlottige ongelukke voorkom?

Die nare realiteit is dat algemene wetteloosheid in elke aspek van ons samelewing ons lewens elke oomblik van die dag – maar veral op die paaie -in gevaar stel!

Hierdie noodlottige ongelukke kan nie voorkom word met bloot bewusmakingsveldtogte nie. Dit is veral nodig dat wettelose padgebruikers verwyder word en dat die howe genadeloos sal wees met die straf van roekelose oortreders!

Kunstenaars en Gevare op die Paaie

Vir kunstenaars is dit veral ‘n risiko omdat hul so baie tyd op die pad moet spandeer. Dit is ongelukkig hierdie gedagte op ‘n swaar gemoed waarmee baie kunstenaars die KKNK vandag begin in Oudtshoorn. Een van my vriende op Facebook, Joachim JP Nel, haal dit so mooi aan op sy muur:

“Pieter Van Loggerenberg:
Shared by Steve Hofmeyr
Zak RIP broer.
Vrydagmiddag gebeur dit weer. Ek kan nie meer tel hoeveel Suid-Afrikaanse sangers sterf op ons paaie nie. Want dis wat ons doen. Ons is verkoopsmense. Jy hoef nie rêrig na ons toe te kom nie. Ons ry na jou dorp toe. Soms vanaf Kaapstad na Secunda, na Rustenburg en môreaand weer in PÊ. Ons los ons families agter en ry vir inkomste wanneer dit die publiek behaag, oor naweke, as daar rugby is en as daar goeie flieks op TV is, dan hoop ons jy sal jouself eenkeer kan wegskeur en ons kom ondersteun. Dit is ook hoekom ek so dankbaar bly. Vir daardie simbiose. Maar as my makkers langs die pad ’n kruisie of ’n beeldjie kry, stop ek maar en salueer elke keer as ek verbyry. Dankie, dat jy ons maak lag het toe ons dit die die meeste nodig gekry het, ou Zak. Maak hulle smile daar bo”

Persoonlike Nota

Ek wil graag as iemand wat ernstig is oor padveiligheid en wat ‘n ouer in ‘n motorongeluk aan die dood afgestaan het my medelye betoon teenoor die familie van Zak Van Niekerk! Die afgelope 9 jaar al probeer ek met die Arrive Alive webtuiste oor die internet bewustheid skep oor padveiligheid en dit is met groot hartseer dat ek vandag dink aan aan die familie , vriende en ook kollegas in die musiekbedryf met die aanvang van die KKNK in Oudtshoorn. Ek dink as Zak ‘n boodskap vir ons kon los sou dit wees om meer vir mekaar om te gee nie net vandag nie maar elke dag!!

Posted on by jonckie

Comments Off on Tragiese dood van Zak van Niekerk vestig blik op die gevare vir kunstenaars op ons paaie