Afrikaners is plesierig …maar lojaal ook!

Photo by James Loretz

Suid-Afrikaners en veral Afrikaanssprekendes is bekend vir ‘n unieke humorsin. Ons kan soms lighartig raak oor die ernstigste goeters – maar ook baie ernstig wanneer dit vereis word. Ons is baie lojaal en trots op ons taal en raak vinnig warm onder die kraag as iemand durf torring aan ons taal.

Hierdie trots op die taal het niks te make met enige politieke oortuigings nie  – die taal is immers iets wat al sy grondslag gevind het lank voor enige verdelende politieke beleid. Dit maak ons trots wanneer ons dink aan Afrikaanssprekendes soos wyle Dr Anton Rupert wat sy stem in die sakewereld dik gemaak het toe daar in ‘n internasionale publikasie in neerhalende terme na ons taal verwys is.

Die afgelope week het die Afrikaanse versekeraar Virseker aangedui dat ‘n ruim bydrae gemaak sal word tot die Rapport Onderwysfonds ten bate van die bevordering van onderwys in Afrikaans. Dit maak ons trots om te sien dat daar moeite gedoen word om ons taal verder te bevorder!

Waarom is lojaliteit teenoor Afrikaans belangrik vir Versekeraars?

Hierdie skrywe gaan egter oor meer as ons humor en trots op die taal maar wel oor die lojalitiet van die Afrikaanssprekende en waarom dit ook vir versekeraars van belang is! Aan die einde van 2011 was ek in gesprek met ‘n paar versekeraars en iets wat my nogals getref het was toe drie van hierdie versekeraars teenoor my bevestig het dat Afrikaanssprekende kliënte beskou word as baie lojale kliënte!

Maar wat beteken dit en waarom is dit belangrik?

Ek dink dit is belangrik dat ons hierdie bewering bietjie van nader beskou. In die dae voor direkte versekering het ons grootgeword met ons ouers wat al hulle versekering deur ‘n bepaalde makelaar gedoen het.

Veral op die platteland was hierdie makelaar nie net ‘n nommer nie – maar is beskou as ‘n huisvriend! Daar is ook nie sommer van makelaar verander nie tensy die betrokke makelaar ernstig drooggemaak het!

Aanvanklik was ons almal maar huiwerig om deur die inbelsentrums van die direkte versekeraars ons besigheid te doen. Soos wat ons almal meer gemaklik geword het om transakies oor die internet te doen het ons egter besef dat dit veilig is, dikwels goedkoper is en dat daar talle ander voordele ook kan wees met die aankoop van versekering deur direkte versekeraars!

Dit blyk nou dat die Afrikaanssprekende hierdie selfde lojaliteit ook met hom saamneem na die direkte versekeraars. Dit betekend dat hy nie elke paar maande van versekeraar verander nie – en moontlik ook sy versekeraar die kans mag bied om in ‘n geskil regstellend op te tree.

Produkkoste en ronskuiwery tussen versekeraars

Dit is ook belangrik om vanuit die oogpunt van die versekeraar na die kliënt te kyk. Elke versekeringspolis het wat ons mag noem ‘n sogenaamde produkkoste. Hierdie kostes word verhaal en in berekening gebring oor ‘n langer tydperk ten einde te verseker dat die klient nie ‘n eenmalige baie duur aanvangspremie hoef te betaal nie. Vir die versekeraar is dit dis nie wenslik as daar baie uitgawes aangegaan moet word in die kwotasie proses en uitreik van die versekeringspolis en dan die kliënt te verloor na net ‘n paar maande nie.

Die versekeraar baat dis daarby om ‘n goeie groepering van kliënte op sy boeke te hê wat nie maar sonder behoorlike rede rondspring tussen versekeraars nie. Volgens die versekeraars met wie ek gesels het is dit juis hierdie geaardheid van “lojaliteit” wat toegereken word aan Afrikaanssprekende kliënte.

Hierdie mag dalk ook een van die redes wees waarom Virseker die waarde daarin sien om ‘n produkreeks en diens te verskaf wat spesifiek gerig is op die Afrikaanssprekende wat op soek is na versekering!!

Die Afrikaanse kliënt mag weer op sy beurt daarby baat om deel te vorm van ‘n poel van kliënte wat geag word “goeie” kliënte te wees vir die versekeraar!

Posted on by jonckie

Comments Off on Afrikaners is plesierig …maar lojaal ook!