Motoreienaars magteloos met versekeringseise teen die immobiliseerder diewe!

Die afgelope maand het ons op verskeie webtuistes en blogs gewaarsku teen diewe wat sogenaamde “jamming” toestelle gebruik om voertuie oop te hou en dan items uit daardie voertuie te steel! Daar is al lank gelede berig dat dit gedoen word, maar die hoeveelheid diefstalle het die laaste paar maande baie toegeneem en die realiteit van die gevaar dring nou eers deur tot baie motoreienaars.

Die dilemma vir versekeraars

Versekeraars verseker motoreienaars teen skade of verlies en dit sluit in waar krag of “force” gebruik word om by ‘n voertuig in te breek. Hierdie dekking word egter nie verleen waar daar geen teken van geweld of “forceful entry” is nie.

Dit maak ook sin as ons mooi daaraan dink. Indien hierdie uitsluitingsklousule nie bestaan het nie sou versekeraars aanspreeklik gehou kon word vir skade in elke geval waar iemand maar net ‘n motordeur kon oopmaak en items verwyder. Die agterlosige of vergeetagtige motoreienaar wat goedsmoeds wegloop van sy voertuig sonder om die voertuig te sluit sou elke keer kon beweer wanneer items uit sy voertuig gesteel is, dat daar immobiliseerder toestelle gebruik is om sy voertuig oop te hou. Dit is nie ‘n beperkbare skade waarvoor versekering verleen sou kon word nie!

Wat is die Ombudsman se standpunt?

Die versekeraars het by die Ombudsman aangeklop en bevestiging verkry dat hul wel geregtig is daartoe om eise van die hand te wys in die afwesigheid van bewyse tot die gebruik van krag om toegang tot die voertuig te verkry.

Waar laat dit die motoreienaar?

Die motoreienaar sal self stappe moet neem om te verseker dat hy nie die prooi word van hierdie diewe nie.  Ons wil graag die volgende wenke aanbeveel:

  • Verwyder die aanloklikheid vir diewe – moet nooit waardevolle items binne sig van die motordiewe in jou voertuig los nie.
  • Wees versigtig om pakkies en waardevolle items na jou voertuig te dra en in jou voertuig te los en dan weer weg te beweeg vir verdere inkopies terwyl jy jou voertuig agterlaat.
  • Moenie maar net wegloop van jou voertuig en aanvaar die voertuig is gesluit nie – maak seker die deure is wel gesluit.
  • Let op waar jy parkeer en probeer liefs parkeer waar sekuriteit is en waar veiligheidskameras in die omgewing mag wees.
  • Al is jy dalk nie lief vir motorwagte nie – wees vriendelik met hulle en gebruik hul waar jy weet daar items in jou “kattebak” mag wees.
Besoek ook die volgende skakels in Engels:

Motorists warned of increase in car theft through immobilizer jamming in Johannesburg

Caution is required to protect from “immobilizer” and “signal jamming” thieves

Vehicle Theft and Car Insurance

 

Posted on by jonckie

Comments Off on Motoreienaars magteloos met versekeringseise teen die immobiliseerder diewe!