Moenie lieg oor wie die gereelde bestuurder van jou voertuig is nie!

Ons vind dikwels dat motoreienaars met ‘n skok besef dat hul versekeringseis van die hand gewys word omdat die gereelde bestuurder nooit aangedui is op die polis as die versekerde bestuurder nie.

In hierdie bespreking wil ek graag hierdie situasie van nader beskou. In Engels word dikwels verwys na die beginsel van “fronting”. Hierdie baie gevaarlike praktyk is nie net oneties nie maar kom ook neer op kontrakbreuk en bedrog!

Wat is “fronting” in voertuigversekering?

“Fronting” kom basies daarop neer dat daar nie ‘n volledige openbaring gedoen word ten opsigte van die besonderhede wat deur die kliënt verklaar moet word nie. ‘n Meningsopname in die Verenigde Koningkryk het aangetoon dat baie nie besef wat dit behels nie en dat tot 57% van die mense wat deelgeneem het nie bewus is dat dit onwettig is nie!

Vir baie voertuigeienaars is dit ‘n metode om wederregtelik goedkoper versekering te bekom. Dit is veral die ouers met kinders wat bestuur wat hul skuldig maak hieraan in ‘n poging om die duurder premies vir jong bestuurders te omseil.

Deur ‘n meer ervare bestuurder aan te wys as die gereelde bestuurder word ‘n veel goedkoper premie bekom – terwyl in werklikheid ‘n jonger bestuurder die voertuig bestuur!

Voorbeeld:

Pa is die eienaar van die voertuig en is woonagtig in Bothaville. Hy word aangetoon as gereelde bestuurder terwyl sy seun in werklikheid die voertuig bestuur in Bloemfontein waar hy studeur. [Hier is die valsheid beide ten opsigte van die identiteit van die bestuurder en die area waar die voertuig gebruik word.]

Waarom is “fronting” onwettig?

Dit kom neer op bedrog aangesien dit behels die verklaring van valse inligting aan die versekeraar met die doel tot finansiële gewin. Jy gee deur jou verklaring van wesentlike inligting voor om ‘n baie laer risiko in te hou as die risiko waarvoor die versekeraar jou kwoteer en verseker.

Die versekeraar is geregtig om die gereelde bestuurder te verseker as die person wat die voertuig meeste van die tyd bestuur en dat addisionele bestuurders die voertuig net van tyd tot tyd sal bestuur.

‘n Meer ervare bestuurder het ‘n laer waarskynlikheid om in ‘n ongeluk betrokke te raak en kom dus in aanmerking vir goedkoper motorversekeringspremies! Wanneer die motoreienaar dus bewus is dat die minder ervare bestuurder die voertuig meeste van die tyd sal bestuur kom sy valse verklaring dus neer op bedrog!

Wat is die verskil tussen “fronting “ en gebrekkige openbaring?

Die verskil kan gevind word in die oogmerk en opset ten tyde van die verkryging van versekering. Die skuldige person is bewus daarvan dat die inligting wat hy verskaf ten tyde van die aankoop van versekering nie korrek is nie en hy weet dat dit gedoen word vir ‘n beter versekeringspremie!

Versekeraars mag ondersoek instel ten tyde van die indien van ‘n versekeringseis en vind dat die versekerde bestuurder nie die gereelde bestuurder was nie. Hul mag kontak maak met die bure, kollegas by die werk ens. Dit is bloot net nie die moeite werd om die waarheid te verswyg nie!

Wat is die gevolge van “Fronting”?

  • Dit is meer as net ‘n wit leuen  – Dit kom neer op bedrog!
  • Die versekerde mag aangekla word van versekeringsbedrog.
  • Versekeringsbedrog sal jou versekeringspolis ongeldig maak.
  • Indien jou versekering ongeldig is en jy is verantwoordelik vir die veroorsaking van skade in ‘n ongeluk mag daardie skade direk van jou verhaal word.
  • Dit mag nadelig wees indien jy by die soek na versekering in die toekoms moet aantoon dat ‘n vorige eis van jou van die hand gewys is en redes moet verskaf of navraag gedoen word.

 

Advies aan versekerde voertuigeienaars

Voertuigeienaars moet hul polisse van tyd tot tyd onder oorweging neem en verseker dat dit die regte inligting bevat! Sommige inligting is net tot beskikking van die kliënt en hy is verplig om daardie inligting ten volle te openbaar. Die versekeraar kan nie blameer word indien ‘n eis van die hand gewys word indien dit blyk dat die kliënt nie sy verpligtinge nagekom het nie en oneerlik was.

Moet nooit jouself in die versoeking plaas om te lieg op jou versekeringseis nie – jou integriteit is meer werd as dit!!

Posted on by jonckie

Comments Off on Moenie lieg oor wie die gereelde bestuurder van jou voertuig is nie!